Wie kan ons keer?

Lees Matteus 19:13-15

“. . . die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle”
(v. 14).

Jesus se dissipels het klaarblyklik ’n verwronge idee van God se koninkryk gehad. Dit is dié dat hulle Hom uitgevra het oor wie die belangrikste in dié koninkryk is (vgl. Matt 18:1), straks met die verwagting dat Hy een van húlle sou aanwys. Maar toe roep Hy mos ’n kindjie nader . . .
Dit kan tog nie wees nie. Daarom, ten spyte van Jesus se uitgebreide verduideliking oor “hierdie kleintjies wat in My glo” (Matt 18:6, 10, 14), beduie die dissipels dat die mense wat hulle kindertjies na Hom toe gebring het, liefs moet verbyhou. Hulle, die dissipels, ken mos vir Jesus persoonlik, en daarom sal húlle besluit wanneer Hy gereed is om ’n spul kleintjies te ontvang.

Hulle ken Hom nié. Of, eerder, hulle onthou nie waar hulle self vandaan kom nie, hoe Jesus hulle uit hulle gate gaan haal het nie. As hulle geheue net beter was, sou hulle geweet het om nie hulle nuutgeskepte vooroordele op Hom te projekteer nie.

Want Hy was nog altyd soos Hy was toe Hy hulle, hierdie vername dissipels, geroep het. Van hulle vissersbootjies af, onder hulle bome uit, vanuit hulle tollenaarshokkies. Toe Hy hulle aangesê het om na Hom toe te kom, en dat niemand hulle durf verhinder nie.
Hy is vandag nog so.
Maar die koninkryk se selfaangestelde veiligheidspersoneel is dikwels vol stories oor wie hoort waar, en wanneer. En hulle weet haarfyn wie op God se aandag geregtig is, en veral wie nié. Hulle is deurgaans, en deur die eeue, daarvan oortuig dat die kleintjies hulle plek moet ken, en hulle tyd.
Hulle ken die Bybel, sê hulle vandag, hierdie hemelse hekwagters. Hulle staan gereed met ’n versie vir alles en almal. O, en veral ’n versie téén alles en almal. Hulle kan haarfyn aanhaal, en hulle lê die ontleedmes diep in om die verskillende splinters noukeurig uit te haal, en hulle skep versigtig om die muggies uit die beker uit te sif.
Hulle bemerk nie die balk in hulle eie oë nie en hulle sluk die kameel af sonder om te sug. Hulle hoor nie Jesus se waarskuwings oor die minagting van die kleintjies nie.
En hulle kan steeds nie twee en twee bymekaar tel nie. Lank voordat Jesus sy hande op die kindertjies gelê het, het Hy mos sy hande om mense soos hulle geslaan en gesê: Julle, die kleintjies, julle wat so geminag word, julle wat nie in die vername geselskap getel word nie, julle wat weet hoe afhanklik julle van God is – die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos júlle.

Ook ek is u kindjie klein.
Jesus, maak my hartjie rein!

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post