Wat leer ’n eier my van waardes?

Betroubaar – soos helder blink water

Ons kan deur water sien. Water steek nie iets weg nie. Daarom dink ons aan water as iets wat ons kan vertrou. In 2 Korintiërs 8:21 staan: “Ons wil só werk dat die goeie dinge wat ons doen, reg sal wees vir die Here en dat mense duidelik sal kan sien dat ons reg werk…” Ons wil so lewe dat ons reg voor die Here en mense lewe.

Mense moet ons ook kan vertrou.

  • Mense vertrou ons as ons die waarheid praat en nie jok nie. Partykeer jok ons omdat ons bang is dat ons gaan raas kry. Ons moet dan nog steeds die waarheid praat.
  • As mense vir ons ’n geheim vertel, vertrou hulle ons om dit nie vir ander te vertel nie. Maar, as die geheim jou ongemaklik maak, vertel iemand wat jy vertrou. Dit is byvoorbeeld nie ‘n geheim as iemand aan jou lyfie vat en vra jy moet dit ‘n geheim hou nie.
  • Mense vertrou ons om betyds vir skool te wees. Hulle vertrou ons om ons huiswerk te doen.

Verantwoordelik – soos vir groen gras

Wanneer ons buite kom en ons sien hoe mooi groen die gras en die bome is, is dit vir ons lekker. Almal hou daarvan om onder ’n lekker groot groen boom te sit wanneer dit warm in die somer is. As ons nie die bome oppas nie of ons breek die takke af, sal al die groen blare afval en dan sal die boom nie meer mooi wees nie. Daarom moet ons die natuur om ons oppas. Ons moet verantwoordelik wees. As ons dit nie oppas nie, dan moet ons erken dat dit ons skuld is as die boom doodgaan of lelik is. In Romeine 12:14 staan daar: “Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het.”

Ons is verantwoordelik as ons:

  • nie weghardloop as ons iets verkeerd gedoen het nie.
  • nie iets verkeerds doen net omdat maatjies en ander mense dit ook doen nie.
  • as ons wonder of iets reg of verkeerd is. Die Bybel en dit wat ons in die kerk leer help ons om reg te besluit.
  • dink en droom oor die toekoms. Ons spaar geld vir kos, klere en skoolgeld en ons gebruik nie die geld op as ons dit gekry het nie

Respek – soos goud

Goud is baie duur. Dit is ook baie spesiaal. Mense dra goue ringe en dit laat hulle spesiaal voel. God het ook vir ons gesê ons is spesiaal, want ons aard na God. Soos ’n spieël weerkaats ons God se beeld in ons lewe. Daarom sien mense God in ons lewe raak. (Genesis 1:27). Ons weet dat God baie spesiaal is; daarom praat ons mooi met Hom, met groot respek. Ons wil graag hê ander mense moet ook mooi met ons praat, met respek. En netso moet ons ander ook respekteer. God het vir ons gesê dat ons met ander mense mooi moet werk, net soos ons graag wil hê hulle moet met ons werk (Matteus 7:12). Ons moet hulle, en onsself, soos goud hanteer, want ons almal is baie spesiaal.

Om mense en onsself soos goud te hanteer, beteken:

  • Dat ons mooi na ons liggame sal kyk en nie sal sleg praat oor onsself nie – ons moet onsself respekteer.
  • Dat ons nie ander mense seer maak met ons woorde of hulle slaan of skop nie – ons moet ander met respek behandel.
  • Dat ons mooi praat met grootmense en onderwysers.
  • Jy vat ook nie iets wat nie joune is nie, want dan het jy nie respek vir die een wie se goed dit is nie.
  • Ons praat nie lelik en doen nie lelike goed net omdat iemand anders as ons is nie.
  • Wanneer ons oor God praat, of met Hom praat, doen ons dit met groot respek.

Soos die dop van ’n eier hou waardes ons sagte harte en binnekant veilig.

Vra vir ’n grootmens om ’n heel, rou hoendereier vir jou in ’n glasbottel met wit asyn te gooi. Pas hierdie eier op en kyk wat gebeur. Na 2 weke sal die eier baie groot raak. Vra weer iemand om jou te help en haal die eier uit. Wat het gebeur?

Die eier se harde dop het nou sag geraak. Die eier is nie meer veilig in sy dop nie, nê? Sal iemand daardie eier wil eet?
Waardes is soos ons dop. Dit hou ons sagte harte en binnekant veilig. Die dop laat ons ook mooi lyk. As ons met slegte waardes en maniere lewe, dan vreet dit ons dop weg soos die asyn die eier se dop gevreet het. Daarom wil ons baie graag leer hoe ons met mooi waardes kan leef. Ons gaan vir elke waarde ’n kleur gee sodat jy dit kan onthou.

 

 

 

 

 

 

 

Regverdigheid – soos ’n oranje lemoen

As ons baie kinders is wat ’n vrug moet deel, wil ons eerder ’n lemoen verdeel. Niemand van ons wil die kleinste deel kry nie en ’n lemoen se skyfies is almal dieselfde grootte. Die Here word deur die Bybel as ’n regverdige God voorgestel wat die mense lief het wat ook regverdig lewe (Psalm 11:7). Dit beteken dat ons die regte pad loop, omdat ons daarmee God se hart bly maak en Hy ons liefhet.

Om mense regverdig te behandel beteken:

  • As ons deel, gryp ons nie die grootste deel nie.
  • Ons luister na elke mens, want elkeen kan iets sê wat ons kan leer.
  • Ons vat nie sommer iets wat nie aan ons behoort nie.
  • Ons maak nie een mens belangriker as ’n ander nie.

Liefde – soos rooi hartjies

Ons almal hou daarvan om te weet iemand is lief vir ons. Ook in die Bybel is liefde baie belangrik. Romeine 13:8-10 sê dat om lief te hê, die heel belangrikste waarde in ons lewe is. Alles wat ons doen, moet ons in liefde doen. Christus het ons kom leer hoe liefde lyk; Hy het ons God se hart vol liefde kom wys. Toe Hy in ons plek ons straf gedra en aan die kruis gesterf het, het Hy kom wys hoe lief God ons het. Daarom kan ons ook ander liefhê, net soos ons onsself liefhet.

Om ander mense lief te hê beteken:

  • Dat ons omgee vir grootmense en onderwysers en na hulle luister.
  • Dat ons omgee vir ons familie en diere en vriende en hulle nie seer maak nie.
  • Dat ons omgee vir ons eie lyfies en nie toelaat dat ander mense ons lyfies seer maak nie. As dit gebeur, moet ons dit vir iemand sê.
  • Ons moet lief wees vir onsself en nie onsself seer maak deur te drink of dwelms te gebruik nie.

Burgerskap – soos met ’n pers jas

Konings het altyd pers jasse gedra. Dit het hulle baie belangrik gemaak. Hierdie pers jasse het ook gewys dat Konings omgegee het vir hulle land en die mense van hulle land. Jesus is ons koning en soos Hy vir ons almal lief is en vir ons omgee, moet ons ook vir mekaar lief wees.

In Kolossense 3:1 lees ons dit: “God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe saam met Christus. Daarom moet die dinge wat vir Christus belangrik is, nou vir julle ook
belangrik wees, want Christus is nou in die hemel by God, Hy sit op die belangrikste plek by God.”

Mense wat omgee vir hulle land:

  • Luister na die wette en doen wat dit sê.
  • Gee terug vir hulle omgewing deur te werk sonder geld en die lewe vir ander mense beter te maak.
  • Luister na mense met gesag soos die polisie, skoolhoof, onderwysers, ouers, of klaskapteine.
  • Pas die natuur op en tel papiere en gemors op om dit in die asblik te gooi.

Share this post