Wat is die kerk?

Ons is die kerk! 

Ons praat baie van die kerk, maar wat bedoel ons daarmee? Ons weet almal dat dit nie die kerkgebou is nie, al wys ons meestal na die gebou wanneer mense ons vra waar die kerk is. Ons weet dat die kerk bestaan uit mense. Maar nou dink ons dat “die kerk” seker maar sekere belangrike mense of vergaderings is, want as mense vra “wat sê die kerk?” verwys hulle gewoonlik na die uitsprake van daardie belangrike mense.

Nee, ons kan nie genoeg beklemtoon dat ons – alle gelowiges saam – die kerk is nie!

Ons is God Drie-enig se kerk 

Dit is hiérdie kerk waarvan ons praat wanneer
ons op Sondae in die Apostoliese Geloofs-belydenis bely: “Ek glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. Dit is die liggaam van Christus, die volk van God, die bruid van Christus, en nog vele ander beelde wat in die Bybel vir die kerk gebruik word. Die kerk is ’n klomp mense wat hulle identiteit daarin vind dat hulle “kinders van God” is, deur Jesus Christus. Die Bybel sê nog veel meer oor die kerk se identiteit: dit is God se eiendom, sy kinders, sy volk. God self versamel, bewaar en bou sy kerk en Hy stuur hulle uit as sy getuies in die wêreld; dit is Jesus Christus wat met sy bloed betaal het sodat ons deel van sy één liggaam kon word, Hy is die Here wat sy kerk regeer en wat vir ons intree by die Vader; en dit is die Heilige Gees wat ons help glo, ons nuut maak, wat ons in liefde aan mekaar
vasbind en wat ons krag gee om getuies in die wêreld te wees.

Waarom die baie kerke? 

Maar nou is daar tog ’n paar probleme. Die
eerste is dat daar so baie “kerke” is. Dit is jammer dat ons nie ’n ander woord het wat ons hiervoor kan gebruik nie, want dit skep verwarring. Ja, die één kerk van Christus het baie gesigte, maar nie een van hierdie gesigte is die hele kerk nie. Nie een van hulle is die ware kerk nie … al maak hulle soms asof dit so is. Hierdie is “organisasies”, terwyl die (een) kerk van Christus ’n “orgaan”. ’n lewende skepping, is.

Nog ’n probleem – maar dit hoef nie ’n probleem te wees nie – is dat daar soveel kerke is as wat daar tale en plekke is. Dit is net logies dat die mense van Kaapstad nie saam met die gelowiges van Kakamas kan kerk hou nie … dis net te ver. Dieselfde geld vir die gelowiges in Clifton en dié in Blue Downs. Daarom is dit goed dat daar baie gemeentes is (so word die kerk genoem in sy plaaslike gestalte), sodat mense op Sondag binne stap- of pendel-afstand van die erediens kan wees. Al hierdie gemeentes is veronderstel om maar net gesigte te wees van die één kerk van Christus.

Die kerk van Christus is veral sigbaar op Sondag waar die erediens plaasvind. Vir alle praktiese doeleindes is dit “die kerk” vir die mense wat saam aanbid. Hierdie groepie mense moet net altyd besef dat hulle deel is van ’n baie groter geheel, naamlik die kerk van Christus. Hulle is wat hulle is omdat Christus hulle Koning is. Hulle het nog baie broers en susters wat nie nou by hulle is nie.

Hoe word jy lid van ʼn gemeente? 

Hoe word jy lid van die kerk van Christus? Deur jou
vertroue in Jesus Christus te plaas, deur die geloof. Hoe word jy lid van daardie plaaslike ge-meente? Gewoon-lik deur ’n verdere proses. Sonder die
belydenis van geloof kan jy nie lid van die kerk word nie, maar gewoonlik het die plaaslike gemeente ’n klompie reëls wat jy ook moet onderskryf, sodat alles ordelik kan verloop. Natuurlik sal hierdie reëlings nie in botsing met die Bybel mag wees nie, maar
die Bybel het tog nie alles voorgeskryf nie. So word jy ingelig oor hoe sake plaaslik verloop sodat jy lekker kan inskakel.

Die meeste kerke wil daarom graag mense welkom laat voel, laat deel-word van die familie. As ons nie regtig wil inskakel nie, kan ons meestal nie die gemeente blameer nie.  As ons buite bly staan, gaan ons verseker soveel mis,
in vele opsigte soveel armer wees!

Wat doen die kerk? 

Hier in die plaaslike kerk gebeur ’n hele paar dinge. Ons het reeds gesê dat daar aanbid word. Ja, veral Sondae is hierdie groepie mense saam om met sang en gebed die Here te aanbid, en om deur die lees en verkondiging uit die Bybel te hoor wat God van hulle verlang.

Maar eintlik is dit wat daardie lede van die gemeente buite die kerkgebou, en op ander dae, doen nog belangriker. Die kerk funksioneer nie net binne die kerkgebou nie. Ons – die gelowiges – verteenwoordig ook die kerk (en die Here van die kerk) as ons by die werk, in vergaderings, op skool, of op die sportveld, of aan die kuier is. Daar word dit duidelik of ons regtig die Here Jesus volg.

En dit is die ander rede waarom ons op Sondag (en as dit kan ook by geleentheid in die week) bymekaar kom: om geoefen te word, voorgelig te word, geleer te word wat dit beteken om Christen te wees, en hoe om Christus werklik te verteenwoordig. By die kerk help ons mekaar om te wees wat Christus wil hê ons moet wees. Hierdie geloofsopbou is baie belangrik.

Wie doen die werk? 

Maar wie is hiervoor verantwoordelik? Dit is duidelik dat die kerk baie werk het, en ’n groot verantwoor-de-likheid in die wêreld het, maar wie moet dit doen? Die predikante/pastore/leraars? Nee, ons, ons almal saam. Want ons is die kerk. Ja, die kerk het leiers en mense wat afgesonder is vir sekere take, maar die leraars se taak is eintlik om ons af te rig vir óns dienswerk. Paulus sê dit so duidelik in Efesiërs 4:12 waar hy beklemtoon dat die doel van die “gawes” (leiers, ampte) is “om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus”. Al die werk wat namens Christus verrig moet word in die wêreld word deur sy liggaam (die kerk) gedoen, en hiervoor moet die liggaam (dit is nou óns!) toegerus word.

Dit is dus baie duidelik dat ons moet loskom van die ou idee dat alles om die predikant draai. Ons het gewoond geword daaraan om te sê dat hy die een met die roeping is, hy is geroep “vir die bediening”. Hy is die “superman” wat alles kan en behoort te verrig. Maar hy kan nie alles doen wat net die hele liggaam alleen kan doen nie, want hy is maar een van die liggaamsdele. Hy het nie al die nodige gawes nie, want dié is aan die hele liggaam gegee. Hy mag ook nie, want sy verantwoordelikheid is slegs om die hele liggaam – en elke liggaamsdeel – op te bou vir hulle unieke werk. Hy kan nie, en hy mag nie.

Die predikant, ouderlinge en diakens is belangrik, maar hulle is nie die kerk nie … die kerk is ons almal. Die werk van die kerk is ook nie net wat binne die gemeente aangaan nie, en vir die lede gedoen word nie. Dit word nogal deur die amptelike persone gedoen. Dit is veral die werk na buite, daar in die wêreld, wat alleen maar uitgevoer kan word deur ons, die gewone gelowiges, want dit is ons wat op al die plekke en in baie situasies ons Here verteenwoordig. Handelinge 1 vertel dat Jesus se slotwoord aan sy dissipels was om hulle daaraan te herinner dat hulle sy getuies (verteenwoordigers) is. Dít is ons almal se roeping.

Vrae:

Is die kerk ’n organisasie?

Wat is die taak van die ampsdraers?

Is die kerk een of baie?

Wat is die werk van die kerk?

Dons Kritzinger 

Foto: Victor Reitz

Share this post