Ongebore Baba en drank

Wat doen drank aan my ongebore baba?

Is jy dalk swanger?

Nee?

Is jy

doodseker?

Drink jy alkohol? Weet jy dat selfs net EEN glasie drank baie sleg kan wees vir jou ongebore baba?

As jy drink terwyl jy swanger is, kan dit veroorsaak dat jou kind gebore word met Fetale Alkohol-sindroom, of kortweg FAS.

Hoe lyk ’n kind met FAS?

Wanneer ’n kind met FAS gebore word, het die kind probleme wat vir die res van sy/haar lewe gaan voortduur.

Onder andere kan die volgende goed met jou baba gebeur:

  • Die baba se brein is meestal kleiner en swakker ontwikkel as die van ander babas.
  • Die baba kan selfs doodgebore word.
  • By geboorte weeg babas met FAS minder as ander babas. Hulle groei ook nie so vinnig soos ander kinders van hulle ouderdomsgroep nie; hulle bly agter.
  • Sommige kinders met FAS het wel spesifieke gelaatstrekke, maar baie kinders met FAS se gesiggies lyk normaal.  Dit is dus belangrik om nie net hierna te kyk nie. Die kind kan ook hart,  gehoor-, oog- en ander probleme hê.
  • As gevolg van breinskade ontwikkel die kinders stadiger as ander kinders en leer dikwels ook stadiger en moeiliker as ander kinders op skool.

As jy alkohol drink terwyl jy swanger is, kan dit daartoe lei dat jou kind met FAS gebore kan word.  Jou kind sal dan lewenslank breinskade en dalk ook liggaamlike skade hê.

“Nee dankie, ek is swanger! Kan FAS gekeer word? JA!

As jy GEEN drank drink terwyl jy swanger is nie, sal jou kind nie met FAS gebore word nie.

Maar, dit beteken dat al wonder jy net of jy swanger is, jy nie drank moet drink nie.

Partykeer dink jy jy is nie swanger nie en dan drink jy – maar dan is jy dalk al swanger en doen jy so permanente skade aan jou baba. As jy wil swanger raak of nie voorbehoeding gebruik nie, moet jy GLAD nie alkohol drink nie. En beslis nie terwyl jy swanger is nie.

FAS is 100% voorkombaar  maar 100% ongeneesbaar!

As jy gedrink het met jou een kind se swangerskap en daardie baba is sonder FAS gebore, beteken dit nie as jy weer swanger raak dat die volgende baba noodwendig ook sonder FAS gebore sal word nie.

Onthou FAS kan nie omgekeer word nie. Daar is geen medisyne wat dit kan regmaak nie!

Nagevolge van drink tydens jou swangerskap kan egter ook eers wanneer jou kind heelwat ouer is na vore kom.

Jou kind kan leer- en selfs ook gedragsprobleme ontwikkel – en dit is maar enkele van die nagevolge. Drank is vreeslik sleg vir jou ongebore baba en selfs net ’n klein bietjie is genoeg om permanente skade vir jou baba in te hou.

In die Bybel word daar verwys na die mens se liggaam as ’n tempel van God waarin die Heilige Gees woon.

As ’n ma drink doen sy haar ongebore kind groot skade aan. Maar as sy naby die Here leef en by Hom hulp soek, kan sy met sy genade ’n gesonde lewe lei.

God maak jou vry van jou sonde as jy opreg berou betoon en gehoorsaam aan sy wil lewe.

Alleen met sy hulp kan jy voortgaan om hierdie baba wat die Here aan jou gegee het groot te maak vir sy Koninkryk.

Ouerskap is ’n verantwoordelikheid wat die Here op jou plaas waarvoor jy sal moet rekenskap gee.

So waar kry ek hulp?

SANCA (WC)  –    021 945 4080

BADISA – 021 957 7130

Besoek jou plaaslike kliniek as jy reeds swanger is.

FASfacts   –    023 342 7000

Foundation for Alcohol Related Research(FARR) – 021 6862646/5

Kontak die Maatskaplike Sinodale kantoor by – 012 342 0092

Share this post