Wanneer selfdood na al uitweg lyk

Selfdood is skokkend. Dis onverstaanbaar vir gewone, gesonde mense. Dit maak mense bang en verward. Dit maak mense stil, want jy weet nie wat om te sê nie. Dis ondenkbaar: hoekom wou dié een wat ek so liefhet nie meer lewe nie?

Selfdood kan so maklik iemand na aan jou wegruk. Moet dus nooit sê dit kan nie met my gebeur nie.

Waarskynlik sterf byna 8 000 mense elke jaar in Suid-Afrika aan selfdood. Die presiese getal is onseker omdat dit dikwels weggesteek word as skande, en daarom is dit volgens amptelike statistiek slegs die sesde grootste oorsaak van onnatuurlike sterftes. Die getal jonger mense wat selfdood pleeg is in verhouding baie hoog.

Pogings tot selfdood is nog baie meer, want vir elke sterfgeval, is daar 20 pogings tot selfdood. 21,4 % van hoërskoolkinders het al ’n selfdoodpoging die afgelope jaar gehad (statistiek: SA National Youth Risk Behaviour Survey 2008).

Daarom moet elkeen van ons in Suid-Afrika ernstig raak oor hierdie ontsettende gevaar.

Hoe verstaan mens selfdood?

Dis moeilik om te verstaan dat iemand wil sterf en dit self probeer doen. God het ’n lewenslus en lewensdrang in ons elkeen ingeplant en dis op sy sterkste in ’n gesonde jongmens.

Wanneer iemand selfdood pleeg of oorweeg, is sy/haar denke versteurd. Meestal is dit die siekte van depressie wat gewone logika en gevoelens so omdraai
dat dit vir hom/haar logies en beter voel om te sterwe. Depressie is ’n wanbalans in die brein se oordragstowwe. Dis ’n fisieke siekte, nie net iets wat deur ’n wilsbesluit weggevat kan word nie.

Depressie kan argumente oor die toekoms en die lewe so omswaai dat dit die daad van selfdood ’n logiese en goeie besluit maak. Dis hierdie denkwyse wat die finale deurslag gee, nie die omstandighede nie. Gesonde mense beleef baie keer net sulke moeilike omstandighede, rampe en probleme, maar hulle gesonde denkwyses laat hulle gesonde oplossings soek.

Dis hoekom ons die term selfdood gebruik en nie selfmoord nie. “Selfmoord” laat dit klink soos ’n daad met kwade bedoelings. “Selfdood” wys ons begryp dis ’n daad van iemand wat siek is.

Wat is die gevaartekens vir selfdood?

Die Here gee dit as opdrag dat ons baie goed na mekaar moet oplet: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” (Gal.6:2). As die volgende gevaartekens dus in iemand naby jou verskyn, dan moet jy met iemand daaroor praat of die persoon na professionele hulp verwys, want dit kan ’n lewe red.

Depressie is die grootste faktor wat iemand se denke so verander dat hy/sy die dood begin oorweeg. As iemand vir ’n lang tyd belangstelling in alles en vreugde verloor, praat oor sinloosheid en doodgaan, baie sleg slaap of te veel slaap, aptyt of gewig verloor, dan moet ons as helpers begin optree. Ook as prestasie by die skool of werk verswak of dit te uitputtend word, dan dui dit op moontlike depressie.

’n Groot verlies kan iemand laat voel dat sy/haar lewe nie meer die moeite werd is nie, byvoorbeeld as ’n geliefde sterf of ’n liefdesverhouding eindig, of iets waardevols (soos werk, erkenning of prestasie) verloor word.

Mans se risiko vir selfdood is 4 keer groter as vroue s’n. As ’n man depressie of probleme kry, praat hy baie minder en vra nie hulp nie. ’n Man doen in teenstelling met ’n vrou dikwels iets drasties en hulle selfdoodpogings is dikwels meer geslaagd.

Moenie enige gesprek of dreigement oor selfdood ignoreer nie. Dit mag nooit as manipulering of aandagsoekery afgemaak word nie. Net 5 % mense wat selfdood pleeg, het geen waarskuwing gegee nie. Die ander 95% praat en ons moet hoor.

Vorige selfdoodpogings is ’n baie groot gevaar-teken. Moenie dink dat die persoon nou “geskrik” het nie. Veral as die persoon begin vertel hoe en waar hy/sy dit gaan doen, raak dit krities gevaarlik. Die gevaarlikste is wanneer ’n depressiewe persoon skielik onnatuurlik kalm en doelgerig dinge begin doen, dan wys dit die besluit is geneem en laaste voorbereidings word nou getref.

Hoe keer mens selfdood?

Depressie kan behandel word. Ons as helpers moet dadelik optree en na professionele helpers neem.Medikasie soos anti-depressante is effektief en nie verslawend nie. ’n Huisdokter, of verkieslik ’n psigiater, kan dit voorskryf en help dat die regte tipe en dosis gekry word (dit neem wel tyd, dikwels 3 weke voordat dit effek het).

Sielkundige behandeling is ewe noodsaaklik. ’n Kliniese sielkundige help om die skewe denkwyses reg te stel en gee die ondersteuning wat nodig is.

Ons as medemense moet ondersteun met ons begrip en deernis. Juis omdat ons verstaan dat selfdoodgedagtes veroorsaak word deur depressie en nie sommer net weggewens kan word nie, maak dit ’n groot verskil. Dan is ons geduldig, oplettend en nie veroordelend nie.

Gebed laat ons die krag van God persoonlik beleef. Bid asb vir iemand wat te depressief is om self te bid.

Hoe oorleef ek as so ’n tragedie gebeur het?

Selfdood is soms moeiliker om te hanteer as ander sterftes. By selfdood is daar geen vyand van buite om voor “kwaad” te wees nie, soos met ’n siekte, botsing of selfs moord. Soms vermy mense om te praat oor die persoon of hoe hy/sy dood is.

Ons wat agterbly sukkel heel eerste met selfverwyt en skuld. “Hoekom het ek nie meer gedoen nie? Ek kon dalk iets gedoen het om te keer! Het ek dalk iets bygedra?” Elkeen dink honderde kere oor die laaste geleenthede waar ek iets kon gedoen het om te keer.

Daarom moet mens die versteurde manier van dink van die oorledene verstaan. Ons foute het wel iets bygedra maar dit was nie die deurslaggewende saak nie.

Soms lyk dit wel of iets die direkte “oorsaak” was. Ons elkeen, die “skuldige” en die ander geliefdes, moet hierdie gebeurtenis met God se wysheid en met God se helpers deurdink totdat ons dit verstaan. Praat met wyse en bekwame helpers (predikant, sielkundige, berader) totdat daar kalmte kom.

Eers wanneer jy die gebeure begin sien soos God dit sien, nie net met ons menslike sienings nie, dan kan jy dit reg hanteer. Dan kan jy na God gaan om vergifnis te ontvang vir jou klein of groot aandeel. Dan eers kan jy vergifnis gee vir die oorledene of iemand wat iets daartoe bygedra het. Vergifnis is God se grootste genade wat ons na so ’n ramp kan gesond maak. Na vergifnis en begrip kan ons ’n oorledene die respek gee wat liefde vereis.

Hoe vergeef God iemand wat selfdood pleeg?

Baie christene dink dat iemand wat selfdood pleeg nie hemel toe kan gaan nie. Hulle dink so omdat die persoon dan nie vir oulaas kon vergifnis vra vir sy laaste sonde nie. Of dalk omdat Bybelfigure wat selfdood gepleeg het (soos koning Saul en Judas) veroordeel is.

Die Bybelse waarheid is egter dat ’n mens gered word deur jou geloof alleen. Geloof bind jou vas aan die verlossing in Jesus Christus, en geen fout of sonde of gebrek om betyds vergifnis te vra, kan jou losruk uit God se hand nie. Dis Saul en Judas se verwerping van God wat hulle laat verlore gaan het, nie die manier waarop hulle gesterf het nie. Romeine 8:38 sê duidelik dat geen soort dood of lewe of enigiets in die skepping sy kinders kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Hoe help ons mekaar? 

Gebed bly die beste hulp:

Hemelvader, 

Ek bid vir kwesbare mense, 

veral dié wat selfs wil ophou lewe.

Maak ons oplettend vir hulle swaarkry en goeie luisteraars.

Gee ons liefde en begrip, 

sodat ons sal ophou kritiseer en fout vind.

Maak my die een wat sal ondersteun juis op dié tyd wat hulle eie krag en denke nie kan nie.

Hou ons geliefdes in u hand vas, en dankie dat geen dood hul ooit uit u hand sal ruk nie.

En Here, maak ons weer heel as die dood iemand te vroeg van ons wegneem. 

Amen.

Share this post