Wanneer iemand wegloop

Lees Lukas 15:11-24

“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (v. 20).

In sy derde storie vir die ontevrede kerkmense ruk Jesus die masker wat beeldspraak vir sommige mense is – “verlore skaap”; “verlore muntstuk” – volledig af. Nou móét hulle hoor.
“Daar was ’n man wat twee seuns gehad het,” begin Hy (v. 11). En vertel die storie wat net sowel enigeen van hulle sʼn kon gewees het. Niemand verstaan immers ’n pa-en-seunstorie beter as ’n pa en sy seun nie. En elke pa was tog ook eens ’n seun . . .
’n Seun wat eise stel, wat verkwis, wat in groot moeilikheid beland. Wat uiteindelik tussen die varke beland. En wat tóé onthou: By my pa se huis . . .
Dit is veral ook die storie van ’n pa wat verlang. Wat dag na dag sit en kyk of sy wegloopkind nie dalk tot sy sinne gekom het en terugkeer nie. Wat uiteindelik ’n stoffie daar ver sien uitslaan. En opstaan en die kind tegemoet hardloop, hom omhels en soen en laat skoon aantrek. En hom ’n ring gee om daarmee te sê:
Jy is mýne!
En, vertel Jesus, toe het hulle begin feesvier – die uitbundige pa, die wegloopkind, die werksmense.

Daar was volop rede om fees te vier: “Hierdie seun van my was dood,” sê die pa, “en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry” (v. 24).
Wanneer jy in ’n varkhok beland, onthou jy bitter gou hoe goed dit met jou gegaan het toe jy nog in jou pa se huis was. Oor die kos, ja. Maar beslis ook oor die warmte, die liefde, die salige wete dat jy tuis is.
Tussen die varke word jy, dalk teen jou sin, daaraan herinner hoe dit gebeur het dat jy toe hiér beland het. Die dure prys van eiegeregtigheid, toe-eiening, bedenklike verkwisting. Hoe weerloos dit alles jou uiteindelik laat.
Maar daar is, goddank, ’n beeld wat in ’n flenterhart opstaan en in ’n verwarde verstand kom lê: “My pa . . .” (v. 17).
My Vader.
Hý het my nie vergeet nie; Hy wag vir my. Hy sal my van ver af sien en na my toe hardloop en my omhels. Hy sal uitbundig uitroep en sê: Kind! Jy is Myne! Jy het tuisgekom!
Ja, daar is oorvloedige rede om fees te vier: die Vader het oop arms, en ’n ruim, warm hart. Hy is die ene deernis; Hy is vol vergifnis. En almal deel in sy oorvloed.
Nee, toe nie álmal nie. Daar was nog die kwessie van die oudste seun . . .

My Vader, hiér is ek! Ek is deurtrek van sonde.
Ek is nie meer werd om u kind genoem te word nie.
Neem my asseblief weer aan.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post