Wanneer een wegraak

Lees Lukas 15:1-7

“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan?” (v. 4).

In antwoord op die Fariseërs en skrifgeleerdes se beswaardheid vertel Jesus ’n klompie stories. Wat selfs húlle, die dikmond hoog-heiliges, nie kan misverstaan nie.
Daar was ’n skaapwagter, vertel Hy, wat op ’n keer een van sy honderd skape vermis het. Net een. Maar hy laat staan die nege en negentig net daar, en gaan soek die een wat weggeraak het. En hy soek en soek en soek . . . totdat hy hom kry.
En toe hy hom kry, gaan pluk hy ’n lat by die naaste bos en sláát die balhorige ding en skel hom terug tot by die trop. Dít sal hom leer om nie weer weg te loop nie.
Nie?
Nee, hy tel die moeë, verskrikte dier op sy skouers en dra hom terug. Terug na die trop waar hy hoort. En so ver hy loop, nooi hy sy vriende en bure: Kom! Kom en wees saam met my bly.
Nét so, sê die Storieverteller, is daar blydskap in die hemel oor één wat gered word. Hoor julle dit, julle ander? Hoor julle die hemelse vreugde oor daardie een wat teruggekom het? Of, beter gesê, die een wat teruggedra is? Die vermoeide en belaste een wat toe nie te swaar was vir daardie goeie herder se skouers nie?

Dié storie is waarskynlik ewe betekenisvol vir die skaap wat weg-geloop het as vir dié wat in die trop gebly het: Vir die wegloper (rondloper, kansvatter, nuuskierige afdwaler, ook-maar-skaap) is daar die nuus dat hy dit toe nie reggekry het om te ontsnap nie. Dat daar ’n wagter was wat gewaak het, wat nie sluimer of slaap nie. Wat sy soektog nooit opgegee het nie.
Wat nie verwyt of verwerp nie. Wie se kommer én verligting sigbaar word in die buk en optel en terugdra van sy wegloperskaap. Én in sy uitbundige dankbaarheid wanneer hy sy mense nooi om saam met hom te kom bly wees.
Sou die nege en negentig tropdiere dit begryp? Sou hulle onthou dat hulle dalk ook eens op ’n tyd in daardie sterk, liefdevolle omgee-arms was? Dat die blydskap toe oor húlle was?
Sal hulle ooit verstaan hoe groot hulle verantwoordelikheid is om dié met ʼn wegloopmentaliteit of rondlooplus op te pas? Sal hulle begryp hoe buitengewoon hulle herder is – in sy liefde, sy geduld, én sy blydskap?

Here, my Herder, hoe warm vou u hande om my!
Hoe warm klop u hart wanneer ek – veilig! – teen u bors rus.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post