Vuil taal kom uit ’n vuil hart

Die kultuur van vloek wat mettertyd aangekweek   en sosiaal aanvaarbaar geword het, herinner ons aan die klassieke verhaal van die padda wat in ’n ketel koue water beland. In die begin is die water vir die padda ’n toevlugsoord, weg van die omgewing daarbuite. Maar, wat die padda nie besef nie, is dat die ketel op ’n warm plaat geplaas is en verhit word. Die padda word gesus deur sy valse gevoel van welsyn in die water wat geleidelik warmer word. Pleks dat hy uitspring, wat hy enige tyd kon doen, swem hy luilekker rond, amper betower deur die water wat al hoe warmer word. Doodtevrede kom die padda uiteindelik om in die kokende water en word paddasop. Net so lyk dit asof ons onsself in ’n ketel water bevind wat al hoe warmer word.

Daar was ’n tyd toe dit heeltemal onaanvaarbaar was om te vloek. Deesdae raak dit al hoe meer aanvaarbaar, selfs as ’n vorm van vermaak en intellektuele uitdrukking. Ons besef egter nie watter diepgaande uitwerking dit op die morele vorming van mense en ons samelewing het nie. Om te keer dat ons geleidelik aan vloekery gewoond raak,
moet ons onsself herinner aan die vorms van vloek wat in die Bybel genoem word en wat die Bybel daaroor sê.

Sweer

Die oorsprong van vloek lê waarskynlik in die Ou-Testamentiese tye toe mense die Here se Naam aangeroep het om krag te gee aan ’n eed of ʼn gelofte. Dit sluit ook die aflê van ’n obsene of belaglike eed in. Tydens sy Bergrede het Jesus dit egter baie duidelik gestel dat daar geen plek vir sweer in die lewe van sy volgelinge is nie: “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.” (Matteus 5:33-36)

In dieselfde teksgedeelte gee Jesus aan sy volgelinge ’n alternatief vir sweer. Pleks dat jy sweer deur die Here se Naam aan te roep of enige ander kragwoord te gebruik om die ernstigheid van jou bedoeling uit te druk, kan jy eenvoudig ja sê wanneer jy ja bedoel en nee wanneer jy nee bedoel. Geen verdere klem is nodig nie: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” (Matteus 5:37)

 Vervloeking

Vervloeking is om die Here aan te roep of sy Naam te gebruik – of dalk ander kragwoorde te gebruik – om ’n ander mens leed aan te doen. Wat Jesus van sulke vervloekings gedink het, is duidelik in Lukas 9:51-56 toe Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, vuur uit die hemel wou afroep op die Samaritane wat Jesus nie verwelkom nie: “Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys.” Sommige manuskripte voeg by: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie,” het Hy gesê. “Die Seun van die mens het immers nie gekom om die lewens van mense te verdelg nie, maar om te red.”

In die Evangelies bied Jesus aan sy volgelinge ook radikale alternatiewe vir vervloeking: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg. Sommige manuskripte voeg ook die volgende by: “Seën dié wat vir julle vervloek, doen goed aan dié wat vir julle haat”, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”
(Matteus 5:43-45a)

Godslastering

Godslastering is ’n optrede wat ’n gebrek aan eerbied vir die Here wys. Hoe dikwels hoor ons nie mense die Here se Naam of dié van Jesus Christus ydellik gebruik nie! Luister maar na die taal in rolprente. Tydens ’n voorval in Levitikus word ’n jongman na Moses gebring toe hy betrap is waar hy godslastering gepleeg het. In die teks lyk die straf wat hy kry baie erg, veral omdat mense vandag nie meer tereggestel word vir godslastering nie. Maar die volgende gedeelte wys vir ons hoe ernstig dié oortreding in die oë van die Here is: “Daar was ’n man tussen die Israeliete wat … in ’n woordewisseling betrokke geraak en die Godsnaam lasterlik gebruik (het). Hy is toe na Moses toe gevat en gevange gehou. Intussen is ’n beslissing van die Here oor die saak afgewag. Die Here het toe vir Moses gesê: ‘Vat die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom daarna met klippe doodgooi. Sê dan vir die Israeliete: Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry. Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet hom met klippe doodgooi. Dit geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge: wie die Godsnaam oneerbiedig gebruik, moet sterf.” (Levitikus 24:10-16)

Die Psalms leer ons om die Here te loof as Skepper van alle dinge, die Koning oor die hele aarde, die Redder van almal en die Onderhouer van alle lewe: “Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning, prys Hom met psalms! God is koning oor die hele aarde; sing vir Hom ’n lied”. (Psalm 47:7-8)

In die Nuwe Testament leer ons:  “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader”. (Filippense 2:9-11)

Ontheiliging

Ontheiliging is die gebruik van oneerbiedige taal om dit wat heilig is te ontken of die heiligheid daarvan weg te neem. Dit getuig van ʼn algehele gebrek aan respek vir alles wat heilig is. Ons liggaam as tempel van God, en dus ook ons seksualiteit, behoort ons eerbied vir God te wys (1 Korintiërs 6:19). In ons samelewing word ontheiliging dikwels op vroue gemik. Deur die eeue is verskeie vernederende en verkleinerende name aan vroue gegee. As volgelinge van Christus weet ons dat elke menslike liggaam geskep is na die beeld van God. Wanneer ons vloek of platvloerse taal gebruik, verneder en verlaag ons dit wat die Here heilig gemaak het. Levitikus 19 bespreek die dinge wat die Here heilig verklaar het en wat ons nie mag ontheilig nie. Verder lees ons spesifiek in vers 12: “Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.”

Oneerbiedige of vuil taal

Dit raak al hoe meer aanvaarbaar om allerhande soorte vuil taal te gebruik: taal wat gekruie is met vuil en lelike woorde; sterk woorde wat maak asof ons soos die Here in staat is om die magte van die hemele te gebied; rassistiese of xenofobiese benamings wat woorde van minagting teenoor ander is; haatspraak of woorde wat geweld of woede aanstook; lasterlike of valse uitlatings wat daarop gemik is om ander af te kraak of seer te maak. Die effek daarvan op ons lewens is ongelukkig verreikend:  “So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie,  en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.” (Jakobus 3:5-6)

In sy brief aan die Efesiërs moedig Paulus ons aan: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. (Efesiërs 4:29)

Vloek het ’n blywende uitwerking op mense om ons

Sommige mense sê: vloek is nie ’n misdaad nie, want daar is dan geen slagoffers nie. Maar kom ons bekyk die stelling van naderby. Net soos MIV en vigs is vloek ’n epidemie. Dit maak wel mense dood. Dink maar aan wat afbrekende taal al in jou lewe gedoen het. Dalk kan jy kere onthou toe jou hart in stukkies gebreek het, omdat iemand op jou gevloek het of woorde gebruik het wat die Here se Naam ontheilig het.

Vloek maak mense stil en seer

Wys my ʼn man wat lyk soos ’n ineengekrimpte hondjie… en ek wys jou die man wat in sy kinderjare met vuiste geslaan is. Dit kan letterlike vuiste van ’n gewelddadige pa gewees het, maar dit kan ook die dodelike houe van vloek gewees het. Wys my ’n vrou met hangende skouers en ingesonke oë wat in en uit is by ongevalle, ’n vrou wat selfmoord probeer pleeg en in haar huis wegkruip soos ’n muis, ’n vrou met maagsere en hoofpyne, ’n vrou wat maklik begin huil… en ek wys jou ’n vrou wat gekritiseer en vernietig is deur skeltaal en beledigings, deur obsene vloekwoorde en die houe van iemand se tong. Wys my kinders met dowwe hare, wat op 10 nog hulle bed natmaak, wat swaarkry op skool en deurmekaar raak met dwelms en alkohol, en wat in allerhande soorte moeilikheid beland… dan wys ek jou die kinders wat geskel en gevloek word, en wat blootgestel word aan afbrekende taal. Wys my die druipelinge en die probleemkinders… dan wys ek jou die kinders wat gereeld hul pa se bulderende stem hoor wat vir hulle vertel hoe min hulle werd is.

Vloek doen skade, lei tot tragedies en verlies, is vernietigend en maak selfs dood. Huwelike beland op die rotse, verhoudings tussen kinders en ouers versleg en kinders se potensiaal word gekelder.

Maar diegene wat vloek, word self ook slagoffers. So ’n mens word onrein: “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein”.
(Matteus 15:11)

Mense se respek vir die wat vloek, verdwyn. Dissipels van Jesus behoort nie te vloek nie.

Petrus – die dissipel wat gevloek het

Simon Petrus is ʼn voorbeeld van wat ’n gesweer aan jou beeld as volgeling van Christus kan doen. Petrus sou miskien vir ons vertel dat hy gesweer het omdat hy in ’n hoek gedryf was. Hy sou sê dat hy gesweer het omdat hy magteloos, bang en alleen was. Dat dit al uitweg was om mense te kry om hom te glo en alleen te laat. Dat dit nie die tyd was vir aangenaam wees nie; sterk taal was vanpas.

Kort nadat Jesus in hegtenis geneem is, in die middel van die nag,  het Petrus in die binnehof van die hoëpriester se woning gaan staan. Een van die hoëpriester se diensmeisies het hom gesien en gesê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.” (Markus 15:67) Petrus het besef dat hy in die moeilikheid is en dat hy saam met Jesus verhoor sou word as hy nie oppas nie. Sy reaksie was: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” (Markus 14:68) Maar die meisie was vasberade en het hom uitgewys aan die ander mense daar: “Hy is een van hulle.” Party van die ander het ook betrokke geraak: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër.” (Markus 14:70) Uiteindelik swig hy onder die druk. Hy het begin vloek en sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” (Markus 14:71)

Petrus het vergeet hoe Jesus hulle geleer het om nooit te sweer nie. Hy vloek en sweer sodat almal sal ophou staar na hom, wat uiteindelik daartoe lei dat hy Jesus verloën. Eers wanneer die haan kraai, besef hy met spyt wat hy gedoen het: “En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: ‘Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.’” En hy het in trane uitgebars
(Markus 14:72).

Gelukkig is daar genade

Gelukkig vergewe Jesus iemand wat berou het. Jesus bied sy genade aan Petrus. Na sy opstanding, reik Hy uit na Petrus in liefde en genade: “Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: ‘Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?’ ‘Ja, Here,’ antwoord hy Hom, ‘U weet dat ek U liefhet.’ Hy sê toe vir hom: ‘Laat my lammers wei.’” (Johannes 21:15). Petrus het Jesus drie keer verloën en drie keer vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet. Aan die einde van die pynlike gesprek roep Petrus uit: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” (Johannes 21:17)

Petrus het ontdek: die Seun van God weet alles van my af. Hy ken die oorsprong van my gevloek en gesweer. Die fout lê diep binne-in my. Ek is vuil en siek waar niemand anders kan sien nie.  Maar hierdie Jesus wat alles van my weet, is genadig, Hy vergewe, Hy maak my weer skoon en heel. Jy kan dieselfde lewensveranderende ervaring hê as wat Petrus deur Christus se teenwoordigheid ervaar het. Christus sal jou ook vergewe.

Praktiese stappe om op te hou vloek

  1. Kniel in die Here se teenwoordigheid en erken dat jy gevloek het.
  2. Vra die Here om vergifnis omdat jy teenoor Hom, die Koning van die hemel en die aarde, gesondig het. Vra Hy moet jou help om sy Naam te verheerlik en te eer. Noem die name van mense wat jy afgekraak, seergemaak, gekwes of gekritiseer het deur jou vloekery.
  3. Vra Jesus om die binnekant van jou hart te was met sy bloed. Juis vir dié doel het Jesus Homself as ’n offer gegee. (Hebreërs 9:12-14)
  4. Glo dat die Here jou gebed verhoor. Jy kan dit glo, want dit staan in die Woord van God: “As ons ons sonde bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sonde en reinig ons van alle ongeregtigheid”
  5. Vra die Heilige Gees om beheer oor jou lewe te neem. Hy lei ons op ’n nuwe pad en na nuwe, opbouende gedrag: “As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” (Romeine 8:13)
  6. Gaan vra diegene om vergifnis vir wie jy seergemaak het met jou gevloek en gesweer, selfs al gaan dit moeilik wees.

(Michelle Boonzaaier)

Share this post