Vrygemaak vir hierdie lewe

Vrygemaak vir hierdie lewe: Pieter van der Walt

Die lewe se ander kant

Ons het dit in hierdie lewe nie altyd net maklik nie. Christenskap vrywaar jou nie van die gewone probleme van menswees nie. ʼn Christen kan ook siek word en sukkel om gesond te word. ʼn Christen ervaar soms angs, het ook bekommernisse oor die toekoms, sukkel met selfverwyte en gevoelens van mislukking en minderwaardigheid, met neerslagtigheid en diepe twyfel.

Uitbuiting van kwesbaarheid

Toe Martin Luther in 1517 sy beroemde stellinge teen die kennisgewingbord van die stad, die Wittenbergse kerkdeur, vasgespyker het, het hy ʼn reuse geveg aangeknoop met onder andere die “vervloekte dwaalleer” van die aflaatstelsel. Die aflaatstelsel het die kwesbaarheid van mense uitgebuit. Jy kon betaal vir die beëindiging van jou vrees en vertwyfeling. “Sodra die muntstuk in die koffer klingel, spring die siel uit die vagevuur, tot in die hemel.”)

Luther vra in stelling 86 hoe dit moontlik is dat die pous, wat reeds so ryk is, die bouwerk aan die katedraal in Rome doen met die munte van arm gelowiges eerder as met sy eie geld.

Hy het die magte van sy dag hieroor gekonfronteer op grond van ʼn dramatiese ontdekking wat hy gemaak het. Hy het intens bewus geword daarvan dat God uit genade alleen in Jesus Christus ons wêreld binnegetree het en dat Hy nie losstaan van ons kwellinge nie, dat Hy ons stryd teen versoekings ken, ons twyfel, en ons liggaamlike en emosionele pyn. God het nie op ʼn afstand gebly nie. Dit het radikale implikasies vir ons ingesteldheid en vrese.

ʼn Troosbrief vir Margaretha

Op grond van hierdie ontdekking kon Luther ook later in 1531, toe hy verneem van sy moeder, Margaretha, se siekte, vir haar ʼn brief skryf oor blydskap. Hy moedig haar aan om nie tou op te gooi nie. Hy pleit by haar om haar siekte as’t ware te omhels en ʼn steeds dieper vreugde te vind. Die kragtige betekenis van Jesus Christus se lewe en dood, wat hy so vars ontdek het, het immers gestaan teenoor die vertwyfelinge en sorge van sy tyd.

Hy skryf vir Margaretha: “Dood, jy kan jou tande wys, maar jy kan nie verslind nie, want God het aan ons die oorwinning oor jou gegee deur Jesus Christus, ons Here.” Hy moedig haar aan om deur hierdie woorde aangespreek te word en deur niks anders nie. “Wees bly en dankbaar dat God ons hierdie kennis gegee het, en dat ons nie steeds vasgevang is in die dwaling dat ons moet vertrou op die dinge wat ons sélf kan doen en op die heiligheid van die monnike nie. Wees bly dat ons nie meer vir Christus sien as ʼn vreeslike regter en tiran van wie af ons moet wegvlug na die heiliges toe nie.”

Hy gaan verder: “Ons weet nou iets anders as dat God ʼn vreeslike tiran is; ons weet van die onbegryplike goedheid van ons hemelse Vader, dat Jesus Christus nie die Een is wat ons aankla en dreig nie, maar die Een wat ons met God versoen … sodat ons nie bang hoef te wees vir Hom nie, maar hom met vrymoedigheid kan nader.”

Op grond hiervan sê hy dan: “Wees opgeruimd, Moeder, en dank God met vreugde vir sulke genade. Want Hy wat sy werk in jou begin het, sal dit ook genadiglik voltooi. Self het ons nie die vermoë om die sonde en die dood te oorwin nie. ʼn Ander het vir ons verskyn, Een wat beslis beter kon doen. Hy bied sy oorwinning vir ons aan en vra ons om dit te aanvaar. Hy sê vir ons: ‘Wees opgeruimd, Ek het die wêreld oorwin … Ek lewe, en jy sal ook lewe, en niemand sal jou vreugde van jou kan wegneem nie.’”

Vrygemaak vir hierdie lewe

Daar het ʼn wonderlike vryheid gekom. Ons hoef nie weg te vlug van God af nie, en ons hoef ook nie meer weg te vlug van die bedreiging van medemense en van die swaar kante van die lewe nie. Ons hoef nie meer in die “goddelike erns” te lewe waarin ons self die beheer hou en die wêreld volgens ons eie ideaal probeer verbeter nie. Ons kan lewe in die “goddelike liefde” (Anton van Ruler).

Toe alles vasgeloop het, toe dit duidelik word dat die mens nie die probleme, twyfel, angs, boosheid en pyn van die wêreld kan oplos nie, het God ingegryp en sy Seun gestuur.

Hierin lê die krag van die Reformasie en die relevansie daarvan vir ons vandag, 500 jaar later. Die Gees leer ons om só te lewe dat ons in alles in hierdie lewe, nie net in ons suksesse nie, maar juis ook in ons swaarkry en magteloosheid, God sal raaksien.

Die populêre godsdienstige strewe is om ʼn goeie tyd te hê, om goed op aarde bymekaar te maak, en om te ontvlug van sorge en moeilikheid. Christus maak ons eerder vry om die lewe met al sy kante te omhels en lief te hê.

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Luther som dit op wanneer hy praat oor die krag van Jesus se boodskap op die Olyfberg: “Die bedoeling van dit alles is om te sê dat ons, terwyl ons hier lewe, al ons tydelike besittings en fisiese noodsaaklikhede moet gebruik soos ʼn gas op ʼn vreemde plek sal doen, waar hy oornag en die volgende oggend vertrek. Hy benodig niks meer as ʼn bed en ʼn dak oor sy kop nie, en hy durf nie sê, ‘Hierdie is myne, hier gaan ek bly’ nie.”

Dit is hierdie basiese insig van die vroeë gelowiges wat die kerk van Luther se tyd verloor het. “Hulle leer en lewe is slegs gebaseer daarop dat hulle genoeg het; daarom het hulle al die besittings van die wêreld versamel, soos almal kan sien. Hulle volg bloot die grootste en mees universele geloof of godsdiens ter wêreld.”

Om vir Christus te volg, maak jou vry van die druk van populêre waardes, en daarom het dit ʼn groot waarde, nie net vir die toekomstige lewe nie, maar juis ook vir hierdie lewe (1 Tim. 4:8).

Vrygemaak vir hierdie lewe in 2017

Kan ons dit steeds glo, 500 jaar later?

Wel, Luther het dit geglo 1500 jaar later. Die vroeë kerk het dit radikaal geglo en die samelewing het gedink hulle is baie vreemd. Tog het hulle manier van lewe respek verdien. Hulle was vrygemaak van ʼn verbete handhawing van hulleself. Hulle het nie hulle eie lewe in die middelpunt en heel eerste gestel nie, maar het dié wat ly versorg en dié wat moed verloor het opgebeur. Hulle het eenvoud en blydskap gebring, want hulle Meester het juis hierdie wêreld en hierdie lewe liefgehad en dit binnegetree.

Presies wat vandag nodig is.

Share this post