Vrygemaak … om ‘n nuwe lied te sing

Die betekenis van Reformasie 500 lê nie bloot in die vernuwing wat dit op godsdienstige en kerklike terrein gebring het nie, maar veral ook in die diepgaande invloed wat dit op die hele lewe van daardie tyd gehad het, op die denke en morele waardes, op die politiek en ekonomie, op die terreine van onderwys, arbeid, wetenskap en kuns, en veral ook op musiek. Wat die wêreld van musiek betref, kan ons sê dat die Reformasie gelowige mense “’n nuwe lied” leer sing het. Nie net het die inhoud van die lied, of die manier waarop gesing word, nuut geword nie, maar die diepste motivering waarom daar gesing behoort te word, het nuut geword. Die motivering vir die “nuwe lied” het oor “vrygemaak…” gegaan, dit het oor die herontdekking dat ons vrygemaak is op grond van genade alleen, deur die geloof alleen, gegaan; dit het oor die goeie nuus (Evangelie) van die verlossing in Christus gegaan en oor ’n ganse lewe to eer van God – soli Deo gloria! Dáároor kon en moes daar ‘n nuwe lied gesing word, met dankbaarheid en oorgawe. “… en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere, sing met julle hele hart tot eer van die Here” (Efesiërs 5:19).

Reformasie en kerkmusiek

Teenoor die Middeleeuse, hoogkerklike klem op veelstemmige en ingewikkelde Latynse liedere, soos byvoorbeeld die “Gregorian Chants” of ryk versierde orrelwerke, wat net toeganklik vir die afgerigte koor of orrel-meester en met uitsluiting van die gemeente was, het die Reformasie die klem kom plaas op gemeentesang, op singbare melodieë, op die taal wat mense kon verstaan (gewone Duits) – “eenvoud en helderheid” was die nuwe riglyn! Die teologiese inhoud van die liedere het belangrik geword; daarom is baie bestaande liedere herdig, en nuwes geskryf. Nadenke oor die geloof, die mens se persoonlike ervaring van God, lofliedere, klaagliedere en belydenisse is getoonset, meestal baseer op Bybelse teksgedeeltes soos die Psalms.

Martin Luther se bydrae tot kerkmusiek

Luther was ’n opgeleide musikant, met ’n kragtige tenoorstem. Hy het graag die luit en fluit bespeel. Hy het talle gesange (korale) geskryf en getoonset; die bekendste en mees geliefde sekerlik die Reformasie se “strydlied”: “’n Vaste burg is onse God” (Ein feste Burg ist unser Got), gebaseer op Psalm 46. Luther se eerste gesangeboek (Geystliche Gesangbuchlein) is reeds in 1524 publiseer; en in 1526 het sy bekende Duitse Mis (Deudsche Messe) in druk verskyn. Net soos die boekdrukkuns gehelp het om die Bybel in mense se eie taal te versprei, so het die publikasie van gesangeboeke met liedere in die volksmond ’n reuse-invloed op die gang van die Reformasie gehad.
Luther het daarop aangedring dat gesange in elke erediens gesing moet word, want hy was oortuig dat, as die eenvoudige liedere met oorgawe deur die hele gemeente gesing word, dit mense se harte en denke sal open vir die aanvaarding (omhelsing) van die Woord van God. Daarmee het hy die aanbidding en liturgie in kerke vernuwe. Luther het nie geskroom om ook sekulêre melodieë vir kerkmusiek te gebruik nie (musiek as sodanig is nie moreel goed of sleg nie, het hy gesê), maar hy het dit van nuwe woorde voorsien en dit moes ’n gepaste melodie hê. Een so ’n voorbeeld is die aangrypende lied vir die lydenstyd: O Haupt voll Blut und Wunden wat eers ’n gewone liefdeslied was.
Oor musiek as gawe uit God se hand, skryf Luther in liriese toon: “Ek begeer werklik dat alle Christene die lieflike gawe van musiek wat God as ‘n kosbare, waardige en duursame skat aan die mensdom gegee het, sal liefhê en sal waardeer. Die rykdom in musiek is so groots en so kosbaar dat woorde my telkens ontbreek wanneer ek dit bespreek of probeer beskryf… In kort, naas die Woord van God, is die edele kuns van musiek die grootste rykdom in die wêreld. Dit kan ons gedagtes, ons denke, ons harte en ons gevoelens beheer…. Hierdie kosbare geskenk is alleen aan ons as mense gegee sodat ons daaraan herinner kan word dat God ons gemaak het vir die uitdruklike doel om God te loof en eer.” Wanneer ‘n eenvoudige melodie en helder, poëtiese woorde verweef word met bykomende stemme wat lustig daaromheen speel en artistieke musikale effekte wat dit versier sodat dit tot fyn kuns verhef word, “herinner dit ons aan ’n hemelse dans, waar almal mekaar ontmoet in ’n gees van vriendelikheid, vertroosting en omhelsing.” En tipies in die kru humor van daardie tyd voeg hy dan by: “’n Persoon wat musiek nie as heerlike skepping van God kan waardeer nie, is ‘n regte lummel… ; so iemand behoort nie toegelaat te word om na iets anders as die gebalk van esels en die gesnork van varke te luister nie.”
Dat Luther die wêreld van musiek grondig beïnvloed het, staan vas. Dink maar net aan die werk van groot komponiste soos Johann Sebastian Bach (1685-1750) en sy latere opvolger Felix Mendelssohn (1809-1847), wat beide in die Lutherse tradisie gestaan het. Onderaan die meeste werke wat Bach – as sekerlik die grootste komponis van alle tye – geskryf het, het daar in sy eie handskrif gestaan: SDG, ’n afkorting vir “Soli Deo Gloria!”

Johannes Calvyn se denke oor kerkmusiek

Calvyn was huiweriger as Luther oor die rol van musiek in aanbidding. Hy het kerkmusiek beperk tot net berymde Psalms en enkele getoonsette Bybeltekste, wat dan ook onbegeleid in die erediens gesing moes word. Hy het die gemeente gehelp om dele van die liturgie, soos die Wet en die Belydenis, saam te sing. Sy siening moet verstaan word teen die agtergrond van sy felle reaksie op die Rooms Katolieke Kerk se oordadige “versieringe” van die erediens deur kunsvoorwerpe en musiek; niks mag die aandag van die verkondiging van die Woord aftrek nie. Daarmee het hy dalk tog die kind met die badwater uitgegooi; daar was immers ’n skat aan liedere en liturgiese simbole wat juis die weg na die aanhoor van die Woord kon help open, simbole wat na die Woord kon heenwys. Tog het Calvyn en sy volgelinge ‘n groot musiekskat nagelaat, soos byvoorbeeld die bekende Geneefse Psalms.

Die Reformasie se invloed op musiek vandag

Die musieknalatenskap van die Hervormers het in die Noord-Europese lande vele vorme aangeneem, variante soos die klem op orrelbegeleide gemeentesang in Nederland, die tipiese Anglikaanse gesange (anthems) of Metodistiese herlewingsliedere in Engeland, die Piëtisme liedere van Duitsland, Sionsgesange, Hallelujas, Hosannas, kontemplatiewe Taizé liedere, ens. In latere eeue het hierdie nalatenskap ook grondgevat in Afrika, die Ooste en die Amerikas; dit het veral ook tuisgekom in Suider-Afrika, in al die tale van ons streek. Die geestelike liedere wat deur gelowiges saam gesing word, is en bly ‘n belangrike manier om die Woord uit te dra. Veral in Afrika word die evangelie dieper en dieper die stede en dorpies, die bosse en velde “in-gesing”, eerder as “oorvertel”, met ‘n nuwe ritme en klank, harmonieus en al dansende – dit word die vernaamste uitdrukking van geloof en hoop, lof en aanbidding, blydskap en dankbaarheid, protes en pyn, vertroosting en heling, en van die gemeenskap van gelowiges. En wie mooi luister, sal ontdek dat baie van hierdie liedere se oorsprong steeds by die Reformasie van 500 terug te vind is.

’n Nuwe lied

As kinders van die Reformasie (altyd reformerend!) moet ons vandag telkens soek na nuwe maniere waarop daar gesing kan word, nuwe musiekstyle, nuwe instrumente, nuwe tegnieke. Ons mag nie vassteek by die “ou manier van doen” wat nie meer die mens van ons dag aanspreek nie. Maar die beginsels van die reformatoriese musiek moet bly: eenvoud en helderheid; die gemeente wat kan saamsing; woorde – in ooreenstemming met die Skrif – wat met toepaslike melodieë en musiek-effekte verweef word tot verheffende kuns; ’n danklied oor die genade alleen; ’n loflied tot eer van God.

In die pragtige Psalm 96 word ons uitgenooi om hierdie nuwe lied saam te sing, ’n lied oor God se genade, ’n lied wat al wyer uitkring, die blye boodskap altyd verder dra, in al ons lewensterreine in en oor alle grense heen, totdat al die nasies en selfs die natuur saamsing: “Sing ’n nuwe lied, tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde! Sing tot die eer van die Here, prys sy naam, verkondig elke dag sy reddingsdade!… Verkondig onder die nasies: ‘Die Here regeer; die wêreld staan vas, dit wankel nie’… Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles wat daarin is moet druis, die veld en alles daarop moet jubel, die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here, want Hy kom …”

Gideon van der Watt

Share this post