Vrygemaak … om te sorg vir God se skepping

Christene is besorg oor die aarde omdat God besorg is oor die aarde.

Die ekologiese krisis is waarskynlik een van die belangrikste kwessies vir mense wat omgee oor die toekoms. Ons lees elke dag van stygende oseaanvlakke, aardverwarming, droogtes, klimaatsverandering en die uitsterf van spesies. Ons voel die effek van ons eie onverantwoordelikheid aan ons lyf – storms, watertekorte, energie-tekorte. Ons hoor van kenners en kundiges wat waarsku dat ons verbruik van hulpbronne, veral energiehulpbronne, nie volhoubaar is nie – en dat dit verwoestende gevolge vir toekomstige generasies gaan hê as ons nie dringend drastiese veranderinge aanbring aan hoe en wat ons gebruik in ons alledaagse lewens nie. Dát ons te make het met ‘n ekologiese krisis, blyk gewoon ’n gegewe te wees.

Wie dra die skuld?

Dit is een ding om vir mekaar te sê dát daar ’n ekologiese krisis is. Dit is egter iets heel anders om te vra: wie dra die skuld? In 2017 – dieselfde jaar waarin die VSA uit die Parys Klimaatsveranderingsooreenkoms onttrek – word 500 jaar van die Hervorming gedenk, wat ons kan help om hieroor na te dink. Deel van die Reformasievieringe behels die dissipline van onthou. ‘Onthou’ is egter ’n dubbelsinnige begrip, en kan op twee maniere verduidelik word.

Aan die een kant vra die dissipline van onthou van ons om terug te dink, om herinner te word, aan die redes waarom die 16de eeuse Hervorming in Europa plaas sou vind. Dit behels om te onthou dat Martin Luther, Johannes Calvyn en ander Hervormers ’n reuseaandeel sou hê aan die ontwikkeling van vryheid en vryheidsbegrippe, wat later ’n groot bydrae sou lewer in die totstandkoming van demokrasieë en globale kapitalisme.

Kortom, om die Reformasie te onthou is om te onthou dat dit oor vryheid gegaan het. Luther en Calvyn sou dit op twee maniere beskryf: vryheid ván en vryheid vír. As kinders van God is ons vry ván – ons sondeskuld, nie deur enigiets wat ons doen of is nie, maar alleen uit God se genade wat oorvloedig aan ons geskenk word. As dissipels van Jesus Christus verander hierdie vryheid ons; maak ons vryheid van sonde en ellende dit vir ons moontlik om anders te leef. Anders gestel, ons word vrygemaak om uit dankbaarheid teenoor God ook goeie, heilige lewens te leef. Dit vra dat ons uit liefde vir ons medewesens optree; deur ander se behoeftes en florering bo ons eie te stel. Ons is ook vry vír – leef soos mense wat uit genade gered is, deur te sorg vir mekaar en vir die ganse aarde.

Aan die ander kant vra die dissipline van onthou dat ons ons ook weerhou van geweld, uitbuiting, en alles wat afbreek doen aan die ekologie en ander wesens se welwese. Dit behels om ons te onthou van optrede (of gebrek aan optrede) wat verwoestend, skadelik, of afbrekend is. Die bekende historikus Lynn White sou gedurende die 1960’s ’n gesaghebbende artikel publiseer waarin hy argumenteer dat die verantwoordelikheid van die ekologiese krisis by Christene lê. Sy punt is dat ons die Bybel gebruik om ons magsposisies bo ander lewende wesens – soos diere en plante – te regverdig, en dat dit juis óns uitbuiting van die aarde is wat gelei het tot die ekologiese krisis.

Kortom, ons kom nie eers agter dat ons gewoond geraak het aan die idee dat ons in beheer moet wees oor die aarde nie, omdat Bybelse teksgedeeltes soos Genesis 1:26-28 die opdrag aan die mens gee om te regeer oor die aarde as God se verteenwoordigers. Tog is juis hierdie mentaliteit die grootste probleem agter die ekologiese krisis, argumenteer White, omdat dit oënskynlik ons onbeteuelde verbruik goedpraat. Die erkenning van ons eie skuld aan die totstandkoming van die ekologiese krisis is dan ’n belangrike oomblik in ons dissipline van onthou, wat weer lei tot die besef dat ons ook moet ophou om sekere goed te doen, sekere produkte te koop, of op ’n sekere manier te dink oor die aarde. Dit vra van ons om sagter, meer waarderend, respekvol en liefdevol met ander lewende wesens op aarde om te gaan; om aan diere, plante, en organismes die ruimte te gee om te kan floreer.

In 2017 onthou ons die Hervorming, en dat ons vry is ván sonde en vry is vír goeie lewens. Maar ons onthou ons ook van skadelike gebruike en denkwyses wat ander lewende wesens van vryheid ontneem, en wat uitbuitend en gewelddadig kan wees.

Wat kan ons red?

As ons onthou dat ons vrygemaak is om te sorg vir God se skepping, kan ons voor die versoeking gestel word om te dink dat ons onsself of die aarde kan red. Ons kan dink dat ons net genoeg moet herwin, net min genoeg water of energie moet opgebruik, net genoeg internasionale ooreenkomste moet teken; en so kan ons ons hele lewens lank besig wees met ons eie verlossingspogings, waardeur ons uit vrees vir die moontlike toekoms wat vir ons voorlê of angs vir die gevolge van klimaatsverandering optree. Ons kán dit doen, en ons dóén dit dikwels ook, maar die vraag is of dit ooit genóég sal wees. So kan ons tot in ewigheid onsself besig hou met ekologiese inisiatiewe, en kan ons onsself gelukwens met dit wat ons daardeur bereik, en in die proses nog altyd min van ’n verskil maak aan die soort toekoms waarop ons op die oomblik blyk af te stuur. Die vraag ontstaan dan: wat kan ons red?

Die Reformasie herinner ons daaraan dat die inisiatief vir verlossing alléénlik van God af kom; dat God sy eniggebore Seun uit liefde vir die wêreld stuur om die ganse wêreld te red. Die Drie-enige God gee God-self uit liefde vir die wêreld, en dit is ’n habiliterende (bemagtigende / lewegewende) krag, so oorweldigend en geheel anders dat ons dit nooit sal kan namaak nie. Ons bely, deur ons geloofsbelydenisse, dat God ons skep, en dat Jesus Christus ons verlos, en dat die Heilige Gees aan ons lewe gee. Die diepste troos waaraan ons kan vashou, ook wanneer ons dink aan die toekoms – die soort toekoms waarop ons nou blyk af te stuur, met die groeiende gevolge van die ekologiese krisis – is dat ons nie aan onsself behoort nie, en dat die aarde ook nie aan ons behoort nie. Ons grootste troos, die grootste geskenk aan die kerk, is die genade wat geskenk word deur die Drie-enige God; ’n genade wat diep en ryk genoeg is om nie net mense nie, maar die ganse skepping – alles wat God geskep het, insluitend diere en plante – te red.

Wanneer ons dink aan die ekologiese krisis bly hierdie ons énigste troos, of ons leef of sterf.

Hoe kan ons help?

Daar kan verskeie praktiese maniere wees waarop gelowiges en kerke vooruit kan dink en werk maak van die oortuiging dat ons veronderstel is om te sorg vir God se skepping. Dit is níé om God se verlossing te vervang nie, maar juis om in vryheid – as vrygemaaktes – te sorg vir God se skepping. Sommige van hierdie maniere kan behels dat ons sekere goed doelbewus moet begin doen (soos herwin); ander weer dat ons doelbewus ophou om sekere goed te doen (soos water vermors). Heel waarskynlik is daar alreeds plaaslike inisiatiewe in plek waarby ingeskakel en geleer kan word. Vir kerke wat erns wil maak hiermee is daar ook organisasies soos SAFCEI (Southern African Faith Communities’ Environmental Institute) wat voorstelle maak en spesifieke projekte loods rondom geloofsgemeenskappe se versorging van die aarde.

Dit álles begin egter by die oortuiging dat Christene besorg is oor die aarde omdat Gód besorg is oor die aarde. Dit is vanuit hierdie besorgdheid wat ons sorg vir God se skepping.

Nadia Marais

Share this post