Vrygemaak … om anders te werk

Vasgevang in die eise van ons werk

Baie mense voel dat hulle soos slawe werk. Ons leef eenvoudig in tye waar die eise wat deur ʼn mens se werk gestel word, jou laat voel jy is vasgevang in omstandighede wat te veel van jou vra. Jou werk oorheers jou lewe. Daar is beheermaatreëls wat jou dwing om meer produktief te werk. Toesighouers dring aan dat jy harder werk. Prestasie word nagejaag! Vir party mense is werk nie meer lekker nie, ander mense werk eenvoudig net omdat hulle liggaam en siel aan mekaar moet hou.

Die ergste is dat ʼn mens se werk eintlik die grootste deel van jou tyd opneem. Talle mense is omtrent die hele tyd wat hulle wakker is, besig met een of ander vorm van werk. Daar is min tyd vir jou gesin, of om aandag te gee aan jou gemeenskap – of selfs aan iets soos godsdiens.
Die vraag is natuurlik of dit moontlik is om jou werk anders te ervaar. Kan ʼn mens vrygemaak word om jou werk te geniet? Bestaan daar dalk ʼn manier om na werk te kyk wat jou sal help om dit weer sinvol te vind?

Die revolusie wat regtig vrymaak

Daar bestaan baie bewegings wat aandag gee aan mense se werksomstandighede. Vakbonde beloof ʼn revolusie van die werkersklas. Party organisasies verkoop hulle dienste om mense te mentor sodat hulle nóg harder kan werk, maar dan ten minste gelukkig voel daaroor. Al hierdie instellings het ʼn plek in ons samelewing. Maar daar is nog ʼn ander stem wat ook gehoor moet word. Daar is ʼn storie van ʼn revolusie wat regtig vrymaak …

500 jaar gelede het ʼn revolusie in Duitsland begin toe Martin Luther nuwe idees oor godsdiens en die impak van godsdiens op ʼn mens se lewe teen ʼn kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het. Ander het gou aangesluit by die beweging. Mense soos Ulrich Zwingli en Johannes Calvyn het ook iets van ware vryheid ontdek. Die kern van hulle oortuiging was dat die lewende God ook ʼn genadige God is. God maak mense vry en gee ʼn nuwe uitkyk op die lewe deur Jesus Christus. Hierdie nuwe lewensuitkyk en vryheid verander alles – ook ʼn mens se belewing van jou werk en arbeid.

Ons behoort nie aan ons werk of ons werkgewer nie. Ons behoort aan God. Ons is vrygemaak om God met vreugde te dien, ook in die manier waarop ons werk.

Geroep tot ʼn nuwe ervaring van werk

Een van die belangrike idees van die Reformasie is dat daar nie party werke is wat heiliger en meer werd is as ander nie. Hulle het ʼn baie belangrike idee oor die lewe gehad – alle mense word geroep en vrygemaak om God orals en op allerhande maniere te dien. Jou doodgewone alledaagse werk is net so heilig en belangrik as die werk van die heiligste priester. Die Reformasie bring ʼn revolusie in die nadenke oor werk: Dit bring werk en godsdiens op die regte manier bymekaar. Jou werk is nie ʼn godsdiens wat alles van jou eis nie. Jou godsdiens (en dus Christus) maak ook jou werk vry sodat jy selfs in die alledaagse van jou werk besig kan wees met maniere om die lewende God te dien. Johannes Calvyn het gesê dat werk ʼn manier is om te wys jy is dankbaar vir die nuwe lewe wat jy in Jesus Christus het. Werk word dus deel van jou godsdiens en is nie op sy eie ʼn godsdiens nie. Werk is ʼn manier om God en ander mense te dien. Daarom kan jy dit as ʼn roeping beskou.

Dit het belangrike gevolge:
• Alle werk is nou waardig en heilig.
• Mens kan nie neerkyk op arbeiders wat ʼn nederige soort werk doen nie. Jy moet ook nie mense wat magtig is en baie geld verdien soos afgode behandel nie.
• Dit wat jy elke dag doen, is goed vir God. Dit is belangrik in God se oë en het waarde vir God.
• Jou werk alleen bring nie lewensvreugde nie. Dit gebeur net as jy dit verstaan as deel van God se versorging en seen.

Die Heidelbergse Kategismus (125) verduidelik juis ʼn deel van die gebed van Jesus so: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit beteken: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie.

• As God werk waar jy werk en deur jou werk, val jou werksplek ook onder God se reëls van liefde en regverdigheid en om “aan ander te doen wat jy aan jouself doen”.

Die arbeidsrevolusie van die Reformasie is dat jou werk jou regtig kan vrymaak om soos ʼn kind van God te leef en God met vreugde te dien in alles wat jy doen.

Sout vir die aarde

Hierdie soort vryheid word verduidelik deur die gedagte dat ons sout vir die aarde moet wees. Jesus het in een van sy bekende preke sy volgelinge aangespoor om “sout vir die aarde” te wees (Matteus 5 vers 13). Ons kan dit ook toepas op ons werkslewe. Mense wat vrygemaak is om anders te werk, het ʼn positiewe invloed op hulle kollegas en maak ʼn positiewe verskil aan alles. Kom ons kyk na ʼn paar gevolge van mense wat geroep is om sout vir die aarde te wees:

• Soek na geregtigheid en billikheid in die werkplek. Die gedagte van geregtigheid was altyd een van die sterk argumente van die Reformasie. Dit bring ook geregtigheid na die werkplek toe.
• Diensbaarheid. Die Reformasie leer ons dat ons God en ons medemense in alles dien. Ook in die manier waarop ons werk.
• Werk is nie ʼn godsdiens wat alles van jou kan eis nie. Jy word geroep om ook jou werk te gebruik om die lewe vir ander beter te maak. Jy sien jou werk vanuit die oogpunt van ʼn groot beweging wat alles beter en mooier wil maak.
• Jy gee spesiale aandag aan dié wat swaarkry en die minstes is. Werk is ʼn manier om die lot van mense te verander. Werk help ons ook om op allerhande maniere aan die nood van ander mense aandag te gee.

Heidelbergse Kategismus sê: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help.

Werk met vreugde

Na 500 jaar kan ons terugkyk en sien dat die Reformasie ook ʼn groot impak gemaak het op die arbeidswêreld. Die belangrikste is egter om weer oop te wees vir iets van die ware vryheid wat dit bring. Ons behoort nie aan ons werk nie. Ons behoort aan God. God roep ons om Hom in alles te dien, ook in ons arbeid. Dit gebeur waar ons sout vir die aarde is en regverdig en billik optree – sodat lewe kan floreer.

Besprekingsvrae:
(1) Baie mense beleef dat die omstandighede en eise van hulle werk eintlik negatiewe gevolge vir hulle godsdiens en verhouding met God het. Hoe kan die insigte van die Reformasie wat ons vry maak om anders te werk, sulke mense help?
(2) Bespreek maniere waarop mens kan ontdek dat jou werk eintlik ʼn roeping is om God en medemens te dien. Wees baie prakties …

Prof Nelus Niemandt

Share this post