Vrygemaak … daarom is ons almal priesters

Vrygemaak … daarom is ons almal priesters

Vrygemaak

Waarom is dit as tema van die kerk se herdenking van die Reformasie 500 jaar gelede gekies? En wat het vryheid met priesterskap te doen?

Die kerk het die Middeleeuse mense letterlik gevange gehou met vrees. As jy nie goed genoeg lewe nie, gaan jy gewoon hel toe. Dit is die allerverskriklikste plek waar die verdoemdes onophoudelik die weeklag van hul mede-veroordeeldes sal moet aanhoor, terwyl hulle swaweldampe inasem en wring en wroeg in die onuitbluslike vlamme.

God was die een oomblik uitgebeeld as barmhartige Vader en net daarna as die God van die donder wat in sy toorn die hele aarde laat bewe. Hy kon wel deur die bemiddeling van sy Seun verteder word, maar die Seun is tegelyk ook die Een wat sal kom om te oordeel. Dáárom moes Jesus se moeder, Maria, genader word om met haar sagter, vroulike aanslag Christus om te haal om sagter te oordeel.

Die gelowige moes self ook hulle kant bring om die Here te behaag. Hulle moes gereeld die mis en aanddienste (“vespers”) bywoon, aan allerlei godsdienstige optogte en -feeste deelneem, op pelgrimstogte gaan, ens. As hulle nie heeltemal goed genoeg vir die hemel was nie, maar ook nie so sleg dat hulle summier tot die hel verdoem was nie, kon die vagevuur hulle heilig vir die hemel. Die tydperk in die vagevuur kon deur die koop van aflate verkort word.

Die genade was in die kerk en haar priesters se hande; net hulle het daaroor beskik, dit bemiddel en uitgedeel aan wie dit, volgens die kerk (priesters) en die kerklike tradisies, verdien het. Ja, dit kon selfs gekoop word! Die priesters het magtige mense geword.

Só was gelowiges deur vrees in die arms van die kerk gedryf en was hulle deur vrees gevange gehou.

Die Reformasie het weer die evangelie van genade so helder en eenvoudig verkondig, dat ʼn kind dit kon verstaan. Die gelowige is vrygemaak van die verstrengeling van die natuurlike godsdiens met sy ingeboude werksgeregtigheid. Luther het (her)ontdek dat die Here genadig is, dat Hy die goddelose regverdig, (Romeine 4:5) sonder enige prestasie van sy kant, uit loutere genade alleen. En dié genade kon gelowiges direk ontvang, uit Christus se hand, ook sonder bemiddeling van die kerk se priesters of heiliges.

Alles, alles is genade. So het die Reformasie ontdek.

Die Reformasie het ons vrygemaak.

Maar wat het vryheid en priesterskap met mekaar te doen? Word ons daardeur nie al weer ingebind onder ʼn las, ʼn verpligting waarsonder ʼn gelowige nie werklik as Christen gereken kan word nie?

Een van Martin Luther se mees bekende geskrifte dateer uit die jaar 1520 – drie jaar nadat hy die 95 stellinge aan die slotkerk in Wittenberg aan die deur vasgespyker het – en is getiteld Die vryheid van die Christen. Hy begin met ʼn treffende uitspraak waarin hy Romeine 13, 1 Korintiërs 9 en Galasiërs 4 en 5 verwoord: “ʼn Christen is geheel en al ʼn vrye heer oor alles en niemand se onderdaan nie. ʼn Christen is geheel en al almal se dienende kneg en aan almal onderdanig.”

Luther erken dat dit die indruk van ʼn teenstrydigheid wek, maar tog is dit nie so nie. Hy skryf dat uiterlike dinge soos werke van barmhartigheid of die klere wat hy aantrek (soos ʼn monnike- of nonnekleed) nie die vryheid of slawerny van die Christen bepaal nie. Die Christen se vryheid is ʼn geestelike vryheid, en dit word verkry deur die Woord van God, die evangelie van Jesus Christus. So lui Johannes 8:36: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Geloof in Jesus Christus is die ware vryheid en belangrikste werk wat van Christene verwag word. Deur geloof in Christus word al die gebooie van die Here gehoorsaam.

Ons almal is konings, priesters en profete

Die Reformasie het ook die Roomse onderskeiding tussen die geestelikes (die priesters, biskoppe, ens.) en die leke (die “gewone” gelowiges”) verwerp. Ons almal het vrye toegang tot die genadetroon van God, sonder dat ’n priester of pous dit hoef te bemiddel.

Vir Luther staan dit vas dat die vryheid van die Christen inhou dat alle gelowiges gelyk is. Die Christen is aan niemand onderworpe nie, maar regeer as konings saam met Christus. Die Reformasie ken nie pouse nie. As koning moet die Christen – soos Christus! – geken word aan hulle godvrugtige lewenswandel en moet hulle heers oor die sonde. Dit beteken egter nie dat ons elkeen nou ʼn klein koninkie, elk op sy eie troontjie is nie. Christus is die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk. In die kerk bedien ons Sy koningskap aan mekaar.

Omdat ons almal ook toegang kry tot God se Woord (in die Reformasie is die Bybel – wat toe nog net vir die priesters wat Latyn geken het, toeganklik was – in gewone Duits vertaal, toeganklik vir almal), die blye nuus in elkeen se hande geplaas is om uit te deel, is elkeen ook geroep om dié nuus aan ander oor te dra, daaroor te getuig, profete te wees. Soos Christus, wat as Profeet oor God se Woord kom getuig het, self God se vleesgeworde Woord geword het, is ons almal ook geroep tot profete, tot getuies.

Net so ken die Reformasie nie die priesteramp nie. Alle gelowiges is nie alleen konings of profete nie, maar ook priesters – in staat om te regeer en mekaar priesterlik te bedien. Ook hierin word die Skrif nagepraat: Petrus noem die gelowiges “ʼn koninklike priesterdom” wat moet getuig … (1 Petrus 2:5). Trouens, ons praat tradisioneel van die drieledige amp van die gelowige: priester, profeet en koning.

Priesters vir mekaar

Ons offer nie meer soos die priesters van ouds nie – Christus het ʼn volmaakte offer, eens en vir altyd, aan die kruis gebring. Ons bedien Christus se volmaakte offer aan alle mense.

Dit beteken dat, hoewel ons vry is en bo almal staan, ons tog ook diensbaar is aan alle mense. Só het die Here Jesus sy gelykheid aan God nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie, maar het Hy – ter wille van ons – slaaf geword en as priester Homself aan die kruis geoffer (vgl. Filippense 2: 6–8). Die Hebreër-skrywer noem Christus die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. Ons, skryf Paulus, moet dieselfde gesindheid as Christus openbaar. Ons almal moet mekaar priesterlik bedien. Vryheid in Christus is altyd vryheid in gebondenheid aan Hom en aan mekaar! Sonder hiérdie band is die Christen nie vry nie. Vryheid in Christus beteken dat ek Hom volg en, soos Hy, aan alle mense diensbaar is. Dié twee gaan altyd hand aan hand. Daarmee praat Luther in sy boekie vir Paulus na. In 1 Korintiërs 9:19 skryf hy: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel …”

Wat meer is: Luther het hierdie saak so belangrik geag dat hy vir die fundering van die ampte (anders as Calvyn) uitgegaan van die priesterskap van alle gelowiges. Juis dít maak die herdenking van die Reformasie so aktueel. Ons praat vandag nie so dikwels van die priesterskap van alle gelowiges nie, alleen maar van die amp van die gelowige. Dit is kernbelangrik dat elke gelowige sal verstaan dat hy of sy in hierdie amp deur Christus self geroep is. ʼn Ander manier is om die Bybelse term “dissipelskap” te gebruik. Basies kom dit alles op dieselfde neer, maar beklemtoon telkens ʼn ander faset daarvan. Deesdae is die gonswoord “missionale transformasie”.

Wat beter kan ons in hierdie jaar van die 500ste herdenking van die Reformasie as om wéér te reformeer? Hoe wonderlik sal dit nie wees as elke gelowige eg hulle “koninklike priesterskap” ten volle gaan uitleef nie?

 

Gert Duursema

Share this post