Vrede met Kersfees – maar wat daarna?

“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.”

Lukas 2 vers 14

Hierdie woorde was einde verlede jaar op die swart bordjie in ons huis geskryf. Dit het reg gevoel – so oor die Kersseisoen. Tydens Kersfees, en die lekker lang Kersvakansie, kon ek maklik in hierdie vrede op aarde glo. Vrede by die werk (ek was immers met vakansie), vrede van enige huismoles (in plaas van skool was daar Kersgeskenke en opwindende vakansieaktiwiteite) en welwillendheid tussen vriende, familie en selfs vreemdelinge. Daar was mooi musiek. Nostalgie. Beurtkrag was vir eers verby, kosaankope was gedoen en voor die nuwe jaar aanbreek was daar die vooruitsig van lang familiekuiers om die vuur, laat slaap, middag slapies en boek lees. Hemels. Vredevol.

Teen middel Januarie het ek egter hierdie woorde uitgevee. Tyd vir nuwe inspirasie. Die Kersfeesbelofte was nie meer só van pas nie. Ons Kersboom is al vergete weggepak, die Kersversierings terug op die rak en die nuwe jaar in volle swang. “Reality check.”

Hierdie Kersfeesvrede was teen daardie tyd effens vaag. Selfs vergete. Daar was baie wat my eintlik aan die teendeel herinner het. Begin sommer by die terug-werk-toe en terug-skool-toe roetine. En die baie geld wat altyd in die begin van jaar aan skool en sport spandeer moet word. (Ek doen met heelwat meer vreugde Kersinkopies as terug-skool-toe aankope.) Die motor wat nou juis in Januarie moes probleme gee. En dan die slegte nuus waarvan die koerante skielik weer vol was. (Het ek dit in Desember misgelees?) Die Coronavirus wat saam met die nuwe jaar gearriveer het en skielik die wêreld op hol het. Vredevol? Kwalik.

Ek moes wonder: is hierdie vrede ons dan net in die Kerstyd beskore? Is dit iets wat ons elke jaar saam met die engeltjies en die liggies afstof en ons dan tydelik daarin verheug? Wat word van hierdie vreugde in Januarie, of Mei, of Augustus (wat altyd vir my na die langste maand van die jaar voel)? Wat kan ek doen om daardie gevoel van welgeluksaligheid terug te kry, die vrede van Kersfees meermale te kan ervaar?

Ek lees weer die woorde van Johannes 14 vers 27: “Vrede laat ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” Ek loer vinnig – hierdie woorde staan nie in die konteks van Kersfees, liggies, musiek of vakansie nie. In teendeel, Jesus is besig om sy dissipels vir sy kruisiging voor te berei.

My gedagtes gaan ook na Jesus sy verskyning aan sy dissipels na sy dood. Sy grusame kruisdood. Toe die bang groepie suutjies agter geslote deure vir die Jode weggekruip het. Verlore. Met nie eers die vaagste belofte aan Kersfees nie. “Vrede vir julle!” het Jesus sy vriende gegroet. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Dit lyk uit hierdie gedeeltes asof Jesus se vrede nie van Kersfees afhanklik is nie.  Asof dit nie eenmalig is, of afhang van hoe ek voel, of hoe ek my omgewing interpreteer nie. Daar is ook nie net vrede wanneer almal om my vrolik en minsaam is nie. Hierdie vrede is ook vir my banger-as-bangste nag, en in die slegste-van-slegte dag. Miskien, het ek gedink, is hierdie vrede by tye ’n aksie, ’n werkwoord. Miskien moet ek dit na-jaag, dit volg, soos die Wyse Manne die ster gevolg het. Miskien is vrede iets wat ek moet gaan doen. “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook.”

“Moet nie ontsteld wees nie.” Dit is ’n opdrag. Moenie jou laat ontstel nie. Moenie dat slegte nuus jou omkant betrap, jou laat twyfel of jou kwaad maak nie. Moenie terug baklei nie. Soek en kies vrede. Tree op soos ’n vredemaker. “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word,” belowe Jesus.

“Moet nie bang wees nie.” Moenie bewe, weghardloop of vreesagtig optree nie. Wees dapper, wees sterk. Kies doelbewus om ander te seёn met die vrede wat aan jou beloof en gegee is.

Hierdie vrede verander nie die slegte nuus, die stukkende motor of die gejaagde roetine nie. En dit beteken beslis nie dat dinge nie hierdie week of volgende week of volgende maand gaan skeefloop nie. Dit is eerder ’n opdrag, ’n vrede wat ek daagliks moet nastreef en skep. “Dit sê Ek vir julle sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

“Vrede vir almal in wie Hy ’n welbehae het.” Elke dag van die jaar. Inderdaad.

 

 

Share this post