Tyd vir aksie

Paulo Coelho het by geleentheid gesê: “Die wêreld word verander deur ons aksies, nie ons opinies nie.”

Darem eintlik jammer. Want hoewel die mensdom maar stadig uit die blokke is wanneer dit by aksie kom, is ons gewoonlik heel vinnig om ’n opinie te vorm. Ons lug ons menings oor wêreldleiers, politiek, Covid 19, die regering se hantering (of gebrek aan hantering) daarvan, ander se wettelose en roekelose optrede, armoede, werkloosheid en sommer ook ander se (oningeligte) opinies. “Dis ’n ramp, ’n klug, ’n politieke speelbal, ’n wêreldwye bedreiging, ’n mensgemaakte wapen …” En so gaan dit aan.

Ons opinies lei tot politieke onrus, heftige braaivleisdebatte, kantoorpolitiek en huismoles. Want elkeen is immers geregtig ’n opinie. As opinies dus wel die wêreld kon verander, het ons ’n wenresep gehad. Dan was ons sekerlik al halfpad nader aan ’n oplossing vir al die uitdagings. Maar nou is dit ons aksies, en nie in die eerste plek ons opinies nie, wat uiteindelik die knoop gaan deurhaak.

Ons opinies, ons woorde, het wel baie mag, maar hierdie mag kan so maklik verkeerd gebruik word. In die woorde van Jakobus: “’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.” Net so is die tong. Daardie klein liggaamsdeeltjie het groot mag. Ons het die mag om ander te beswadder, mense aan te hits, af te kraak of sommer te kritiseer. Ons woorde kan seermaak. Baie maklik. Miskien is dit hoekom Jakobus ook waarsku: “Elke mens moet gewillig wees om te luister, nie te gou te praat nie en nie te gou kwaad te word nie.” En: “As iemand dink dat hy goedsdienstig is, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan.”

Jakobus moedig ons aan om ons moue op te rol, dalk vir ’n rukkie stil te bly en eerder aan die werk te spring. Die voorbeeld uit Jakobus is ’n praktiese een. Daar is baie weeskinders, weduwees en ander weerlose mense wat tans baie uitgelewer aan hulle omstandighede is. Baie organisasies is op soek na donasies, bydraes en vrywilligers om te help met intense noodverligting. “Wat help dit,” vra Jakobus, “as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie. Kan so ’n geloof ’n mens red? Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.” Vir duisende mense wat koud en honger gaan slaap, is opinies van min of gener waarde.

Die moontlikhede eindig egter nie daar nie. Daar is legio maniere waarop ons ander kan bystaan en met daadwerklike optrede ’n positiewe verskil kan maak. Dink maar aan alleen mense wat ’n gereelde oproep sal waardeer, skoolkinders wat nie die akademiese mas gaan opkom nie, of klein besighede wat jou ondersteuning sal waardeer. Daar is oorvol diereskuilings, swanger ma’s sonder heenkome en depressiewe bejaardes wat weens die inperking nie by hulle geliefdes kan uitkom nie. Jou opinie gaan hulle dalk nie baie help nie, maar jou omgee en begrip sal wel. Soos die Engelse gesegde lui: “Put your money where your mouth is.”

Dit lyk asof Paulo Coelho se woorde op ’n manier by die woorde van Jakobus aansluit. Dit is baie maklik om te praat, jou mening by die van ander te voeg, te kritiseer, beter voorstelle te maak, jou kop te skud. Maar dit is nie die antwoord nie. Indien jy regtig ’n verskil wil maak, moet jy iets doen.

Susan Goosen

 

Share this post