Trauma: Help jou kind om dit te verwerk

Trauma: Help jou kind om dit te verwerk

Kinders word dikwels blootgestel aan trauma soos byvoorbeeld die verlies van ʼn ouer, ʼn ander kind of ʼn familielid. Hulle mag ook maatjies van dieselfde ouderdom verloor. Wanneer kinders deur trauma geraak word is volwassenes geneig om dit te ignoreer, of die impak daarvan op die lewe van die kind te onderskat. Daar word dikwels (foutiewelik) aanvaar dat kinders te jonk is om te verstaan wat aangaan of emosies daaroor te ervaar. Navorsing toon egter dat kinders dieselfde roureaksie as volwassenes beleef, maar dikwels nie weet hoe om dit te hanteer nie.

Wanneer ons na traumahantering van kinders kyk, kan dit wees om kinders te help om hulle rouproses te deurloop, óf om hulle vrae en vrese oor hulle eie dood te hanteer. Dit is egter belangrik om die ouderdom en ontwikkelingsvlak van die betrokke kind, sowel as hulle begrip van die dood te verstaan:

  • Babajare: ʼn Sterk gevoel van afhanklikheid bestaan tussen die baba en die primêre versorger. Daar is sprake van skeidingsangs wanneer die hulpverlener die jong baba verlaat wat dan manifesteer as protes, verlatenheid en losmaking van die persoon. Daar is nog geen doodsbegrip by die baba aanwesig nie.
  • Jong Kinderjare: Hier leer die kind om sosiale kontakte te smee wat gekenmerk word deur pro-sosiale of aggressiewe gedrag. Vir hierdie ouderdomsgroep word die dood ervaar in terme van skeiding wat tot angs aanleiding mag gee. Hulle beleef dood ook as ʼn omkeerbare proses en verwag dat hulle die geliefde later kan gaan haal. Vir hierdie kind is die dood bloot ʼn tydelike vertrek van die persoon.
  • Middelkinderjare: Hulle kan meer komplekse gedagteprosesse beleef, ontwikkel empatie en sosiale begrip en begin om ander se emosies te verstaan. Die dood mag ʼn bose mag wees – wat toevallig die oorledene getref en weggeneem het. Dit kan ook iets wees was nie ontwyk kan word nie en waarvoor mens bang moet wees.
  • Adolessensie: Hier word ʼn eie identiteit gevorm en die tiener is in staat tot meer abstrakte denke. In die puberteitsjare benader die kind die dood met verset, as iets wat die lewe belemmer en onaangenaam maak.

Kinders belewe tydens trauma gevoelens van verlies, onsekerheid, angs en verwerping. Maar dit is ook so dat ons by hulle dieperliggende verskuilde depressie, aggressie en skuldgevoelens mag vind.

Dis belangrik om te onthou dat kinders nie noodwendig hulle gevoelens kan uitspreek nie, maar dat hulle dit in hulle gedrag sigbaar maak. Daarom is kinders soms vernielsugtig en afknouerig om uiting aan hulle opstand en aggressie gee. Hulle is stout en probeer aandag trek om hulle onsekerheid en angs te hanteer.

Watter riglyne kan jy volg om kinders te help wat met dood of verlies gekonfronteer word?

  • Moet kinders weet dat ʼn geliefde gaan sterf? Sommige mense voel kinders is te jonk om met die dood van ʼn geliefde gekonfronteer te word. Volwassenes is ook bang en onseker oor hoe hierdie onderwerp aangeraak behoort te word. Dit is belangrik dat kinders moet weet wat besig is om met die geliefde te gebeur sodat hulle met hulle eie rouproses kan begin. Kinders beleef die rouproses op hulle eie vlak en daarom moet hulle die geleentheid gebied word om dit so te hanteer. Dis ook belangrik om die kind voor te berei oor wat hulle kan verwag wanneer die geliefde gaan sterf – hulle moet dus weet wat die verloop van die siekte gaan wees.
  • Wanneer kinders self die een is wat terminaal siek is, het hulle die reg om oor hulle liggaam en besluite daar rondom geken te word. Hulle moet dus voorberei word op mediese prosedures en verstaan hoekom hulle behandeling nodig het. Gebruik gerus maar die woord “dood” ten einde die realiteit by die kind tuis te bring.
  • Dis altyd goed om kinders fisies aan te raak terwyl die dood of trauma met hulle bespreek word. Gee ook – veral vir jong kinders – ʼn troostertjie soos ʼn teddiebeer, wat die pad saam met hulle kan stap.
  • Kinders en begrafnisse of verassing: In die verlede is aanvaar dat ʼn begrafnis nie ʼn plek vir kinders is nie. Dit is nodig om dit aan kinders te verduidelik – op hulle begripsvlak – sodat hulle verstaan wat gaan gebeur en self kan besluit of hulle dit wil bywoon of nie. My ervaring is egter dat ʼn begrafnis ook vir kinders help om afsluiting te kry.

Kinders beleef ʼn bepaalde roureaksie soortgelyk aan dit wat ons by volwassenes vind. Dit sluit skok en verlamming, ontkenning, paniek en vrese, woede, skuld en spyt in. Maar kinders kan ook terugkeer na vorige lewensfase soos om weer bed nat te maak of gedisoriënteerd op te tree en selfs depressief of hiperaktief te raak. Onthou egter dat meeste van hierdie reaksies normaal is in ʼn abnormale situasie.

Hoe troos ons ʼn kind wat deur trauma geraak is?

Volwassenes moet nooit kinders se hartseer onderskat nie. Hulle moet ook onthou dat kinders se vermoë om pyn te hanteer nog onontwikkeld en ongeoefend is. Daarom het kinders baie aandag en liefde nodig.

Help kinders om hulle gevoelens te verwoord. Vra hulle uit daarna en moedig hulle aan om daaroor te praat. Leer hulle van jongs af dat dit beter is om te praat oor gevoelens as om dit uit te reageer en irrasioneel op te tree. Dis beter om te sê jy is kwaad as om jou maats af te knou of goed te breek. Dis beter om te huil as om gevoelens op te krop en later aan depressie te ly. Dis baie beter om te sê jy is bang en onseker as om stout te wees en aandag te trek.

Wat kinders veral in die begin nodig het, is gerusstelling en versekering. Al is jy as ouer self baie hartseer en getraumatiseer, moet jy belang stel in jou kind en hulle baie liefde en aandag gee. Vertroetel hulle en tel hulle op jou skoot (veral jong kinders) waar jy hulle kan bemoedig en vertroos. Jy as volwassene sal in hierdie handeling self troos vind. Jy kan selfs saam huil sodat hulle sien hulle is nie alleen in hierdie hartseer nie. Verduidelik ook aan die kind dat hulle nie vir God moet kwaad wees nie en leer hulle dat dit deel van hierdie sondige wêreld is. Moet tog nie vir die kind sê dat “God die mooiste blommetjie vir sy tuin kom pluk het nie”. Ons aanbid nie ʼn God wat ons op die een of ander manier wil bykom vir sy eie plesier nie. Deel ook vertroostende Bybel-gedeeltes met die betrokke kind – op hulle vlak van begrip.

Praat met jou kind en troos jou kind. Jy as ouer is die belangrikste bron van krag en sekuriteit vir jou kind. Hulle gaan ook baie leer uit jou gedrag oor hoe jý jou pyn en verlies hanteer, verwerk en daarin berus. En hulle gaan by jou leer hoe om gevoelens te hanteer: deur daaroor te praat, eerlik en openhartig te wees; en dit tog te beheer sodat dit nie hand uitruk nie. Hulle gaan by jou leer hoe om in God te bly glo – al beleef hulle ook trauma.

Ons kinders het meer as enigiets ons liefde en leiding nodig wanneer hulle rousmart en trauma moet verwerk.

Tekens dat kinders nie goed aangepas het in die roufase nie en terapie benodig:

Die volgende kan ʼn aanduiding wees dat kinders (afhangende van hulle ouderdom) hulle rou nie goed verwerk nie en terapie benodig:

  • Dramatiese afname in prestasie op skool
  • Jeugmisdaad
  • Selfdestruktiewe gedrag of alkohol- of dwelmmisbruik
  • Seksueel uitdagende gedrag
  • Destruktiewe gedrag en vloekery
  • Persoonlikheidsverandering
  • Sosiale afsondering
  • Voortdurende woede of depressie
  • Ontoepaslike vrees vir skeiding
  • Onderprestasie

Praat gerus met ʼn terapeut of predikant wat jou kind kan help om die trauma en hartseer te verwerk.

Share this post