Tik is nie vir my nie

Jy het seker al van Tik gehoor? Dit is ’n baie gevaarlike dwelmmiddel met die chemiese naam Metamfetamien. Dit word ook crystals, speed, straws en globes genoem en lyk meestal soos wit, half-deurskynende glasstukkies of ’n poeier. Dit word soms in kort stukkies koeldrankstrooitjies of banksakkies verkoop en dan in ’n gloeilamp of spesiaal gemaakte glaspypie gerook. Tik is vreeslik maklik om in die hande te kry – al is dit een van dié gevaarlikste dwelmmiddels. En, as jy eers eenmaal daarvan gebruik het, kan jy dadelik daaraan verslaaf raak. En dan sal jy enigiets doen om dit in die hande te kry.

“Ek het nog net een keer in my lewe Tik gerook. Eers het dit soos gebrande plastiek geproe, maar net vir ‘n paar sekondes. Toe was dit net… lekker. Ek het glad nie sleg gevoel nie. Hoewel ek dit nie besef het nie, het ek vreeslike goed begin doen.  Ek onthou hoe ek en my vriend van een kitsbank na die ander gejaag het om geld te kry vir nog Tik. Hoe ons by plekke was waar mense guns op ons getrek het. Ons het stilgehou en nog Tik gerook. My hande was gebrand van die rokery… Ek het gesien hoe my vriend met mense baklei oor R300 se Tik en amper geskiet word. Op een of ander manier het ek by die huis gekom. En toe kom ek agter iets is fout… my hele lyf was seer. My spiere het gekramp, dit was selfs seer om asem te haal. Ek het gesweet en dit het gevoel of my lyf gaan ontplof. Ek het goed gesien wat nie werklik daar is nie.  Skaduwees van klein mannetjies wat rondhardloop, miljoene spinnekoppe en goggas wat teen die mure sit en lyk of hulle smelt. Ek was so dors, maar water het soos petrol geproe. Ek het probeer slaap. Eers ‘n hele dag later kon ek aan die slaap raak maar het die hele tyd deurmekaar drome gehad. Toe ek wakker word, moes ek na ‘n ander dorp ry. Eers was ek ok, maar toe begin ek paniekerig raak.  Dit het gevoel of my hart wil ontplof in my bors en asof ek enige oomblik gaan flou raak. Ek het gedink as ek iets eet sal ek beter voel en het by ‘n kafee langs die pad gestop. Terwyl ek eet voel ek hoe seer my mond is. Daar was klein wit blasies in my mond. Na nog ‘n nag se slaap het ek begin beter voel. Nou, selfs ‘n jaar na die aand voel ek nog nie heeltemal myself nie. En die ergste van alles is dat ek so skaam voel oor wat ek daardie aand gedoen het, goed wat ek nie eers oor kan praat nie. Moenie Tik gebruik nie – op die beste kan jy miskien ‘n slegte ervaring soos ek hê wat jou vir ewig gaan bybly of na slegs een keer se gebruik kan jy verslaaf raak en dan verloor jy alles… 

Wat gebeur as iemand Tik gebruik?

  • Jy praat baie;
  • jy voel vir’n rukkie daarna ‘lekker’;
  • jy kan nie stilsit nie;
  • jy voel baie selfversekerd;
  • jy bly baie lank, selfs vir dae wakker;
  • jy raak nie eintlik honger nie.
  • En as die Tik uitgewerk is?
  • Begin sleg voel;
  • is skoorsoekerig;
  • is senuweeagtig;
  • is opvlieënd;
  • raak sommer vir niks kwaad nie;
  • voel ongelukkig en depressief;
  • wil sommer net lê en niks doen nie.
  • En dan begin die bose kringloop maar weer. Die persoon raak weer lus vir Tik om weer beter te kan voel. Maar elke keer as die Tik uitgewerk is, voel hulle net slegter as die vorige keer.

Verslawing

Tik is verslawend. Selfs al wil jy ophou, kan jy dit nie regkry nie. Jy wil ook meer Tik gebruik om dieselfde gevoel as die eerste keer te kry. Jy begin ook skuldig voel en jok vir ander mense oor jou Tikgebruik. Dit is alles tekens van verslawing.

Maar hoekom is Tik sleg vir jou?

As iemand aan Tik verslaaf is kan dit sy of haar hele lewe negatief beïnvloed.

Skool

Jy gaan sommer nie meer skool toe nie. Jy doen nie jou huiswerk nie. Jy raak sommer in die klas aan die slaap en wil niks met jou vorige maats te doen hê nie.

Ouers en familie

  • Vloek en skel op ouers en ander mense;
  • neem goed wat nie aan hulle behoort nie;.
  • kom baie laat by die huis;
  • sluit hom/haar in sy kamer toe;
  • eet nie meer saam met die gesin nie;
  • kom nie tot ruste as ander gaan slaap nie. Gedrag en voorkoms
  • Humeurig en skoorsoekerig;
  • hou hom/haar eenkant;
  • slordig en onnet op klere en hom/haarself;
  • kan nie meer op hom/haar staatmaak nie;
  • dink dat mense hom/haar agtervolg of sonder rede slegsê en beledig;
  • verhoudings met verkeerde maats.Gesondheid
  • Verloor gewig.
  • kry sere op arms, bene of gesig;
  • slegte asem, seertjies in mond en swak tande;
  • hoes dikwels en sukkel met ’n toe bors;
  • droë vel;
  • voortdurende kopseer.
  • Tik verander mense se voorkoms onherkenbaar.
  • Tik maak jou tande vrot.

Wanneer jy Tik gebruik voel dit die heeltyd asof daar insekte onder jou vel is en krap jy aanhoudend. Jy krap jouself later stukkend en dit word groot, onooglike stukkende plekke en sere.

Kan mens gehelp word as jy Tik gebruik?

Natuurlik kan verslaafdes gehelp word om sonder Tik klaar te kom. Maar, as mense eers verslaaf is, is dit baie moeilik om op te hou en nog moeiliker om alleen te probeer ophou.

Die goeie nuus is dat daar mense en organisasies is wat mense wat Tik gebruik kan help om op te hou. Praat met ’n onderwyser, die mense by die daghospitaal of ’n predikant wat sal weet waar en hoe om so iemand te help.

Onderaan hierdie pamflet is ’n lys van organisasies met opgeleide personeel wat mense met ’n Tikprobleem kan help. As jy hulp wil hê met jou Tikgebruik of bekommerd is oor ’n maat of familielid, kan jy hulle direk skakel en ’n afspraak maak.

En natuurlik moet ons ook vir die Here vra om ons te help. Hy kan regtig help! En Hy wil graag.

Wat kan ons doen om Tik te keer? 

Tik verwoes mense se lewens en ons moet alles doen om te help dat mense nie Tik gebruik nie. Daar is ’n ou, maar baie waar gesegde: Voorkoming is werklik beter as genesing. 

  • Moet nooit eers begin om dit te gebruik nie!
  • Sê nee as ’n maatjie of iemand anders jou uitdaag om dit die eerste keer te probeer. Jy is nie chicken of ’n lafaard as jy nee sê nie – dis dapper om nee te sê.
  • Bly weg van mense wat Tik gebruik.
  • Bly weg van plekke of partytjies waar mens dwelms kry.
  • Ons moet wakker wees en gevare betyds probeer raaksien.
  • Ons moet ons ouers vertel van ons vriende of van ander mense wat dwelms uitdeel.
  • Ons moet omgee vir mekaar en mekaar help waar ons kan.
  • Ons moet naby aan Jesus lewe – as ons vir Hom lief is en doen wat Hy vra, sal dit goed gaan met ons. Hy sal sorg. Dit belowe Hy in sy Woord:

Psalm 145:14:

Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. 

Psalm 116:5:

Die Here is genadig en regverdig,  ons God ontferm Hom oor ons.  

Psalm 103:12:

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien. 

Kry hier hulp:

  • SANCA – 0861 4 SANCA (0861 472 622)
  • BADISA – (vra vir die nommer van die kantoor naaste aan jou) – 021 957 7130
  • Narcotics Anonymous – 083 900 MY NA (083 900 69 62)
  • Praat met ’n onderwyser, predikant of pastoor,   iemand by die kliniek of maatskaplike werker.

Share this post