Tiener of mamma?

Tiener of Mamma?

“My naam is Lizette. Ek is 16 jaar oud en het pas uitgevind ek is swanger. Eintlik weet ek nie hoe ek daaroor voel nie: skaam, skuldig, spyt, bly, bang? My ouers weet nog nie, ook nie my ou nie. Wat van skool? Wat van my toekoms? Wil ek nou al ’n ma wees of kan ek eers net tiener wees? Wie kan my help…?”

Wonder jy of jy swanger is?

  • Miskien is jy swanger as:
    Jy nie menstrueer nie;
  • jy siek en naar voel;
  • jy meer as gewoonlik toilet toe moet gaan;
  • jou borste seer voel.

 

’n Swangerskaptoets is by die meeste kettingwinkels of apteke beskikbaar. Of gaan kliniek toe of gaan sien jou dokter.

As ek swanger is, wat kan ek doen?

  • Gesels met iemand wat jy vertrou: jou ouers, ’n familielid, ’n vriendin, ’n onderwyser, iemand by die kerk.
  • Besoek so gou moontlik die naaste kliniek en vra raad.
  • Laat die kliniek toe om toetse te doen om jou MIV-status asook ander moontlike geslagsiektes te bepaal.
  • Werk saam met jou gesin of familie aan ’n plan – alles is nie verlore nie!
  • Moenie in die eerste drie dae finale besluite neem nie.
  • Ontdek waar jou ondersteuning lê, luister na goeie raad.
  • Om terug te gaan skool toe is nie onmoontlik nie – praat met jou skoolhoof of ’n onderwyser wat jy vertrou.
  • Pas jou gesondheid op, eet gesond, moenie rook of drink nie.
  • Praat met iemand by ’n organisasie wat hulp verleen aan swanger tieners. ’n Maatskaplike werker kan jou baie help.
  • Probeer sover moontlik die pa betrek – as hy dit goed bedoel en graag wil help, is dit goed as julle saamstaan.
  • Vra ook vir die Here om naby jou te wees en jou te help om die

regte keuses vir jou en jou baba te maak.
Is my lewe nou verwoes?

Jy het op ’n vroeë ouderdom deel van die grootmenslewe geword. Dit gaan moeilikwees en opofferings vra. Jy het nou ’n groot verantwoordelikheid en sal besluite moet neem wat jou toekoms sal beïnvloed. Maar dis nie die einde van jou lewe of jou drome nie! Met die ondersteuning van jou ouers of familie is dit steeds moontlik om ’n vol lewe te lei. Jy kan gelukkig wees en jou baba geniet. Die lewe kan aangaan …

Watter groot uitdagings is daar?

  • In gemeenskappe en gesinne is daar dikwels nog vooroordeel, verwyte en selfs verwerping – praat daaroor, praat dit uit.
  • Dikwels is daar in ’n tiener se hart ’n klomp vrae, verwyte, emosies, gevoelens oor die pa van die kind – praat daaroor met iemand wat jy vertrou.
  • Dit is nie vir ’n jong mamma so maklik om in die skool te bly of werk te kry nie – die bykomende verantwoordelikheid maak dit alles moeiliker.
  • Daar is dikwels nie genoeg geld vir die nodigste nie – soos kos en klere, doeke, melk, vervoer om jou baba kliniek of dokter toe te neem en medisyne nie.
  • Die besluit of jy in die skool moet bly, die baba laat aanneem of ’n aborsie moet oorweeg is groot, lewensveranderende besluite wat jy nou sal moet neem.
  • In party gemeenskappe is dit normaal dat die baba se ouma of ander familielede hom of haar grootmaak. Hulle dra dan die meeste verantwoordelikheid. Indien dit kan gebeur, is dit baie goed, want die baba word dan binne die uitgebreide familie groot.

Pleegsorg

Pleegsorg is wanneer kinders in nood vir ’n tyd by gekeurde pleegouers geplaas kan word. Dit kan ook by iemand wees wat versorging by haar huis of home based care doen en na ’n paar kinders kyk. Die Kommissaris van Kindersorg sê hoe dit moet gebeur. Enkelouers kan self ook daarvoor by welsynsorganisasies vra. Die voordeel van die proses is dat pleegsorg nie permanent is nie. Die kind kan in die biologiese ouers (eie ouers) se sorg teruggegee word, op aanbeveling van die toesighoudende maatskaplike werker. Die biologiese ouers moet in die tyd verseker dat hul ’n band met die kind bou. Die kind kan egter verward voel tussen die ouers en pleegouers, veral as die biologiese ouers se situasie nie verbeter nie.

Aanneming

Aanneming is die wettige manier om ’n ander, permanente ouer vir jou kind te vind. So kan jy vir die kind ’n beter toekoms verseker by ’n ouer(paar) wat dalk in ’n beter posisie is om die kind te versorg. In so ’n proses moet ’n maatskaplike werker die leiding neem. Streng keuringsprosesse word deur erkende organisasies gevolg om geskikte ouers te vind. Die biologiese ouers moet beide toestemming gee om die baba te laat aanneem. Indien die biologiese mamma onder 18 jaar is, moet haar voogde (ma, pa of versorger) ook toestemming gee. Die aansoek word dan deur die Kommissaris van Kindersorg in die ouer se area gekeur. Daar word die hele tyd gevra: wat is die beste vir die baba?
Die biologiese ouers se eie wense is ook baie belangrik. Nadat die biologiese ouers toestemming tot aanneming gegee het, moet daar 60 dae verloop waarin hulle nog van plan kan verander. Die biologiese ouers kan deur die maatskaplike werker met die kind kontak hou. Hulle kan foto’s en briefies vir die kind en aanneemouers stuur of van hulle ontvang. Meestal mag die besonderhede van die aanneemouers nie aan die biologiese ouers bekend gemaak word nie. Die biologiese ouers het ’n keuse om in die proses van voorbereiding die baba te groet of nie, deel te wees van die keuse van ouers uit ’n lys wat die maatskaplike werker met goedkeuring beskikbaar stel of sy kan vra om die ouers te ontmoet. Daar is die keuse van ’n geopenbaarde of nie geopenbaarde aanneming – waar vooraf besluit kan word of die identiteit van die ouer bekend gemaak kan word of nie. In die geval van nie-geopenbaarde aanneming word daar nie besonderhede van die aanneemouers, waardeur hulle uitgeken kan word, bekend gemaak nie.

Aborsie

Aborsie was voorheen beperk tot sekere uiterste omstandighede, maar sedert 2005 kan enige persoon wat swanger is, wettig ’n aborsie kry as sy minder as 20 weke swanger is. Volgens statistiek vind die meeste aborsies onder die ouderdom van 18 plaas. Hoewel dit wettig is, is daar sterk godsdienstige en ander besware daarteen. Dit is regtig ’n baie groot keuse wat gemaak word – onthou: dit gaan oor die neem van ’n ongebore baba se lewe. ’n Ma wat so ’n keuse maak, se lewe word baie diep daardeur geraak. Christen-organisasies soos Pro-Life en kerke beywer hulle vir die teenkanting teen aborsie wat sonder baie goeie redes gedoen word.

Indien jy die groot besluit neem om vir ’n aborsie te gaan, moet dit eerder in die eerste 12 weke van swangerskap gebeur. Dit word deur medikasie of ’n operasie gedoen. Hoe vroeër, hoe laer die risiko. Dit moet by ’n hospitaal of kliniek gedoen word en nie sommer by enige iemand wat net geld daaruit wil maak nie.

Dink eers weer mooi! As jy aborsie in gedagte het, praat eers met jou gesin, dokter of mediese personeel by die plaaslike gesinsbeplanningskliniek. Onthou: daar is emosionele, geestelike en fisiese gevolge wat baie lank kan neem om te genees. Soms genees dit nooit regtig nie. Voorligting voor en na die tyd is uiters belangrik om langtermyn geestelike en emosionele letsels te beperk.

Sal die Here my verwerp?

Die Here verwerp ons nooit nie, veral nie wanneer ons in nood verkeer nie. Hy sê: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal jou rus gee” (Matteus 11:28).

Waar kan ek hulp vra?

Skakel die hoofkantoornommers van dié organisasies of besoek hul webwerf om die kontakbesonderhede van die tak naaste aan jou te verkry: Skakel die hoofkantoornommers van dié organisasies of besoek hul webwerf om die kontakbesonderhede van die tak naaste aan jou te verkry:

  • FAMSA www.famsa.org.za  (011) 975 7106/7
  • Planned Parents Association – www.hst.org.za  (031) 266 9090
  • Badisa   021 957 7130
  • Bloemfontein Swangerskap Krisissentrum:   (051) 5226914 / 082 202 4306

Ander organisasies (die maatskaplike werker of dokter sal jou ook kan help met organisasies in jou omgewing.

  • ACVV – Kaapstad:  (021) 461 7437
  • Kindersorg Aannemingssentrum:  (021) 638 31 21
  • Addoption – 0800 864 658. (www.adoption.org.za)

Share this post