Staan op teen boelie

Boelie

Wat is dit?

VERBAAL  (deur woorde)
As een kind ‘n ander een name noem, terg of slegsê.

SOSIAAL (deur maats)
As een kind iemand anders aspris ignoreer, vriendskappe opbreek of skinder.

FISIES (deur seermaak)
As een kind ‘n ander een stamp, stoot of slaan.

KUBER (selfoon of i-pad)
As iemand die internet of ’n selfoon of rekenaar gebruik om ’n ander persoon seer te maak deur inligting te versprei.

Bullebakkery (om iemand te boelie) is ’n baie ernstige probleem wat enige tyd en plek kan voorkom. Dit is nie net nog ’n fase waardeur kinders gaan nie en dit kan kinders fisies (hul liggame) en emosioneel (hul harte) baie seer maak.

‘n Boelie is iemand wat aspris ander seermaak en dit oor en oor aan dieselfde persoon of groep doen. Boelies gebruik mag om ander te beheer en op so ‘n manier beter oor hulself te voel. Kinders wat geboelie word is meestal bang om vir iemand daarvan te vertel en dikwels word hulle baie lank geboelie voordat dit stop. As jy weet van iemand wat geboelie word of self deur iemand afgeknou word, kan jy iets daaraan doen om dit te stop. Gebruik jou hand om jou te help om dit te onthou.

Loop weg!
Boelies hou daarvan om kinders te kies wat stil en alleen lyk. Kyk reguit na die boelie en gebruik ‘n sterk stem en vertel hom jy hou nie van wat hy doen nie. Loop dan weg en beweeg nader aan ‘n groep mense of vriende.

Ignoreer die boelie
Boelies wil hulle slagoffers ontstel. Moenie iets sê nie en loop so vinnig as wat jy kan weg.

Vra die persoon om te stop
As iemand jou boelie, hou jou hand op en skree so hard as wat jy kan: “STOP!” of “LOS MY UIT!”. Die boelie sal nie daarvan hou as ander sien wat hy doen nie.

Bly kalm
Boelies kies nie kinders wat lyk of hulle baie selfvertroue het nie. Hou jou kop regop, loop met jou skouers terug en jou bors uitgestoot. Haal diep asem wanneer die boelie nader kom en bly kalm.

Vertel ‘n volwassene
Praat met jou ouers, onderwyser of ‘n volwas-sene wat jy kan vertrou. Hulle sal jou kan help om die situasie op die beste manier te hanteer. Dit is die regte ding om te doen.

Deuteronomium 31:6
Julle moet sterk wees. Julle hoef glad nie bang te wees vir hulle nie. Die Here sal by julle wees en Hy sal nie van julle af weggaan nie.

Share this post