Sportsterre vir Christus

Die krieketwedstryd is amper verby en die onder-dertiens word hard aangemoedig. Die besoekers moet net een paaltjie kry om te wen, en die tuisspan net ses lopies. Die bouler boul ‘n kort bal. Die kolwer haak, maar mis die bal heeltemal. Dit tref hom teen die heup. Die bouler maak ‘n halfhartige appèl: “Howzat?” na die skeidsregter. Almal lag oor sy desperaatheid die bal is dan duidelik 30 sentimeter bo-oor die paaltjies. Maar die skeidsregter, die bouler se afrigter, steek sy vinger in die lug: die kolwer is uit! Almal is verbaas. Die wenspan se ondersteuners en spelers is eintlik selfs verleë, want almal weet die kolwer was nie uit nie! Dan gebeur iets wat maak dat ek hierdie wedstryd nooit sal vergeet nie … Die afrigter, wat nou net gekul het om sy span te laat wen, roep hulle bymekaar en sy spelers kniel terwyl hy vir die Here dankie sê vir die oorwinning!”

In ons kompeterende wêreld is sportmense onder geweldige druk om te presteer. As jy nie wen nie, is daar sommer ʼn klomp ander spelers om jou te vervang. Die speling tussen wen en verloor is so klein, die geringste foutjie kan beteken jy verloor. Ware sportmanskap klink deesdae na iets outyds. Deesdae is sportmanskap iets wat jou die wedstryd, jou plek in die span, ʼn beurs of internasionale kleure kan kos.

Dink maar aan jou tennis-opponent se dien wat dalk nét op is, maar wat jy “af” roep. Dink aan die netbal-verdediger wat jy stilletjies vashou wanneer niemand oplet nie. Dink aan die stampe en stote van atlete in ʼn bondel of die sokker- of rugbyspeler wat vreeslik aansit na ʼn duikslag om ʼn strafskop vir die span te kry. Is dit verkeerd, of is dit deel van die “game”?

Waardes op die sportveld

Die belangrikste kenmerk van goeie sportsterre is seker hul persoonlike waardes. Vir ’n Christen is dit nog belangriker om die beginsels van die Bybel bo alles uit te leef. Jou waardes moet nie net mooi woorde soos “eerlikheid”, “integriteit” of “geloof” wees nie, maar dit moet duidelik gesien kan word in alles wat jy sê en doen. Dit moet so deel van jou wees dat jy altyd daarvolgens lewe. Selfs in ʼn vurige eindstryd wanneer reg optree jou die wedstryd kan kos, moet jou waardes steeds wen.

“Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is … Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ’n mens trots kan wees.” (Filippense 4:8)

Waardes is ʼn kompas wat die rigting van jou besluite bepaal. Jou besluite en optrede op die sportveld moet daarom altyd gerig word deur jou Christenskap.

Waarop baseer jy besluite op die sportveld?

Jou opponent

Prestasiedruk laat ons maklik vergeet wat ʼn opponent eintlik is. Ons sien dat sportmense hul humeur verloor of hul opponente verkleineer en intimideer om te wen. Maar ʼn opponent kan nooit as ’n vyand gesien word nie; ons het tog mekaar nodig om te kan speel.

Opponente moet die beste uit ons haal. Hoe beter die opponent, hoe groter kans het ons om te presteer. Om in muurbal elke keer met skoon stelle te wen, is mos nie lekker nie. Maar, speel teen ʼn gedugte teenstander, en skielik laat die opwinding altwee spelers op ʼn hoër peil speel.

Sport help ons groei

Net soos oefening jou liggaam bou en verbeter, so gee sport jou ook die geleentheid om jou karakter te bou. As jy die wedstryd met die regte gesindheid benader, groei jy as mens en kan jy belangrike eienskappe ontwikkel soos:

deursettingsvermoë

leierskapsvaardighede

doeltreffendheid in spanverband

selfbeheersing

Uitdagings help ons om sterker te word. Dit is waar op die sportveld en ook in ons geestelike lewe. Jakobus 1:12 vertel ons wat God belowe aan dié wat hom bly liefhê in moeilike omstandighede: “Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy ’n gelukkige mens … Want wanneer God tevrede is met so ’n mens, dan sal God vir hom ’n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee.”

Hoe gebruik ons woorde op die sportveld?

Hoe praat jy oor en met ander? Dink gerus oor wat die Bybel van woorde sê, want woorde verklap jou gesindheid en jy sal die gevolge van wat jy sê, moet dra.

“Woorde kan mense laat sterf of dit kan mense laat lewe.” (Spreuke 18:21)

Die Here is altyd naby

Wanneer iemand jou in ʼn wedstryd onnodig bykom, gebeur dit partykeer dat jy, sonder om mooi te dink oor die gevolge, die ander persoon terugslaan of terugstamp. Dan voel jy dat jy as Christen misluk het, en partykeer word jy en jou span selfs onregverdig deur die skeidsregter gestraf.

Wat moet mens doen wanneer jy nie regkry om volgens jou Christelike beginsels op te tree nie? Gelukkig is God nie ʼn God van geelkaarte nie en Hy sal ons nooit weggooi nie. God aanvaar ons met ons mislukkings en teleurstellings. En wanneer ons leer om onsself te aanvaar en te vergewe soos God dit doen, dan wen ons meer deur ons sport as net wedstryde en bekers …

Toets jouself met hierdie vrae:

  • Help my sport my om geestelik te groei?
  • Help sport my om ander te respekteer en te waardeer?
  • Bring my sport my nader aan die Here?
  • Bring ek ander nader aan die Here deur my sport?
  • Wys ek God se beeld wanneer ek aan sport deelneem?
  • Geniet ek nog my sport?

Jou Christenskap in sport

As Christen is jy ʼn voorbeeld vir jou opponente. Maar as jy deel is van ʼn span, is wie en wat jy tussen jou spanmaats is eintlik belangriker as jou spel. As Christen moet jy ʼn voorbeeld stel en die leiding kan neem met besluite en keuses. Dis moeilik as die span dinge doen wat teen jou beginsels indruis. Hoe jy dit hanteer en hoe jy aanhou om reg op te tree, word dan getoets. Jy leer om daaroor te praat en om dinge te hanteer waarvoor jy nie altyd gereed voel nie. Jy moet jouself toelaat om te groei en te ontwikkel terwyl jy ander respekteer.

Christo Spies

Share this post