Soos saad wat vanself groei

Soos saad wat vanself groei

Lees Markus 4:26-32

Vanself bring die aarde die graan voort . . . (v. 28).

In hierdie twee eenvoudige gelykenisse verduidelik Jesus bloot wat almal tog weet – hoe die groeiproses verloop: Iemand saai die saad, gaan slaap, en ná baie dae sien die saaier hoe die saad opkom en vrug dra. En wanneer dit ryp is, word dit geoes.

Eenvoudig, inderdaad, die saak van die koninkryk van God. En jy kan jou dit boonop as ’n eenvoudige mosterdsaadjie voorstel, sê Jesus. Die kleinste van almal, maar dan groei dit uiteindelik uit tot die grootste boom in die tuin, met groot takke en baie skaduwee vir die voëls.

So eenvoudig soos iemand wat saad saai en dan gaan slaap. En so onberekenbaar ingewikkeld dat hy, dié saaier, nie ’n benul het hoe dit gebeur dat dit ontkiem en groei nie. Die beste wat hieroor gesê kan word, is “vanself” (v. 28).

Dit is tog so ’n uitasem woord dié, vol verwondering. En ’n versterking van die onbegrip wat reeds in “hóé weet hy self nie” (v. 27) uitgedruk is.

Want dit is ten slotte hoe die koninkryk is: ’n misterieuse gebeurtenis. ’n Goddelike daad, wat tog ook, hoe en hoekom weet g’n mens nie, ’n menslike inset vra. Geen heldedaad nie, nee, asse-blief tog nie, en beslis niks kreatiefs nie. Bloot gehoorsaamheid. Dalk volharding. Soos iemand wat opstaan en gaan saai, en dan weer gaan slaap.

O, en verwondering. Soos een wat hom deurentyd vergaap aan die vrug wat voor sy oë ontwikkel. Sodat hy op die regte tyd kan begin oes.

Wat ’n oorvloedigheid is die koninkryk van God tog nie! Wát ’n tuiste, ook vir die voëls van die hemel. En vir elkeen wat ’n skadukol in die hitte van elke dag se stryd begeer.

Ja, dié Jesusvergelykings is verbluffend eenvoudig, met min glans. Hier is immers geen sprake van stryd en oorwinning nie; niks waarop uiteindelik geroem kan word nie. Dalk is dit dié dat prestasiegedrewenes ongemaklik hieroor voel. Vir hulle is die hele besigheid straks valerig en die seën daarin glad te alledaags.

Buitendien is dit in hulle aard om strenger voorwaardes te wil hê, omdat hulle oortuig is dat húlle daaraan sal voldoen. En dat dit darem ’n soort eksklusiwiteit verseker. Dit krap hulle om dat Jesus hierdie koninkrykstories met ’n ongedefinieerde “iemand” (v. 26) begin. En tog soveel klem lê op “kleinste” (v. 31).

Dit kan mos nie wees dat die Koning sommer enigiemand in diens neem nie! En die grote God het tog kinders nodig wat bo die res uittroon. Of hoe?

Nee, Here, hier is ék dan ook!
Ook ek, kindjie klein, staan in u diens.
En vol verwondering oor U
wat my werkies tot ’n wonderwerk laat uitgroei.

Bostaande inhoud is ‘n uittreksel uit die CLF publikasie: Seisoene van Genade deur Barend Vos. Bestel aanlyn by bit.ly/2reP7zp of stuur e-pos na order@clf.co.za

Share this post