Rus en vrede

Met Desembervakansie nou voor die deur, is my gedagtes rondom die welverdiende ruskans. Die wonderlike, salige en broodnodige geleentheid om weer asem te skep, om jou liggaam te laat rus en jou gedagtes skoon te maak van die jaar se roesemoes. Die paar dae, of selfs weke, wat ons fokus kan verskuif na dit wat vir ons saak maak, en sperdatums en teikens vir eers op die agtergrond geskuif word. Die ruskans wat ons batterye herlaai vir die nuwe jaar met al sy uitdagings.

Ons definisies van rus sal noodwendig verskil. Vir party beteken dit die geleentheid om hulle tone in die seesand in te grawe en saam met hulle kinders in die branders te baljaar. Vir ander is dit sinoniem met laataand kuiers met geliefdes wat gewoonlik ver is, ’n stapel storieboeke vir luilekker dae of die kans om weer by stokperdjies uit te kom. Ander vaar die stil vlaktes, die onbekende, of die inkopiesentrums, in.

Natuurlik verdien ons naas die ruskans, ook ’n bederfie of twee. Die luukse akkommodasie wat sal verseker dat almal behoorlik kan ontspan. Lekker eet- en drinkgoed, ’n nuwe speelding of twee om die kleingoed te trakteer en natuurlik mooi toegedraaide Kersgeskenke om jou hartsmense se oё te laat blink. Broodnodig. Welverdiend.

Ek sou dit nie anders wou hê nie. Ons sien elke jaar reikhalsend uit na die geleentheid om tot bedaring te kom en dis waarskynlik hierdie vooruitsig wat die meeste van ons deur die dolle November dra.

En tog moes ek nou die dag my definisie van sinvolle rus hersien. Jesus, lees ek in my stiltetyd raak, het tydens sy bediening op aarde waarskynlik die mees veeleisende skedule gehad waarmee enigeen ooit te doen kon kry. Hy was 24/7 aan diens. Hy kon sowaar nie sy rug draai nie, of daar was siek, desperate, of soms vyandige mense wat Hom inwag. Van ’n gesteelde afdag was daar nie sprake nie. Spertye? Verseker. (Hy moes immers ’n wêreldwye bediening binne net drie jaar aan die gang kry, en dit met ’n groepie volgelinge wat selfs op hulle beste dae maar traag was om te verstaan.) En tog lees ons nooit dat Hy iemand weggewys het nie. Elke persoon wat na Hom uitgeroep het, wat ’n hand uitgesteek het, aan sy kleed se soom gevat het, het Jesus se volle en onverdeelde aandag gekry.

Hoe het Jesus dít reggekry? Hoe het Hy hierdie pas volgehou? Wat het Hy gedoen om te ontspan, sy batterye na ’n veeleisende dag tussen die skares van Israel te herlaai? Hoe het Hy Hom voorberei vir ’n besige werksweek? Lees ons iewers van ’n luukse piekniek langs die See van Galilea of dalk ’n vakansie in die buiteland? Het Jesus straks vir beter akkommodasie (’n enkelkamer, ’n gemakliker bed of ’n kamer met ’n mooi uitsig) gevra sodat hy ’n slag behoorlik kan uitrus? Of was daar lekker kos waarmee Hy Homself bederf het?

Klaarblyklik nie. Dit lyk asof Jesus telkens eerder na sy Vader gedraai het vir krag en leiding. In Lukas 6 vers 12 lees ons die volgende: “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.” Nadat Hy dit gedoen het, het Jesus teen dagbreek die manne gekies wat Hom tydens sy aardse bediening moes vergesel.

’n Hele nag, in gebed? Dit is wat Lukas vertel. Ook die ander evangelieskrywers verwys na spesifieke tye wat Jesus in gebed deurgebring het. Natuurlik was Jesus soms moeg. Ontsteld. Moedeloos. Natuurlik het Hy wysheid nodig gehad. Maar Jesus het geweet waar sy krag lê en waar Hy sy batterye moes herlaai. By die bron. Sy Vader. Geen vakansie of luukse bederf kon sy gees en gemoed verkwik soos tyd saam met sy Vader nie. Sy innige verhouding met God en sy gesprekke met die Vader, het Hom versterk en toegerus vir sy taak op aarde.

Wat ’n ongelooflike voorbeeld. Hierby, meen ek, kan ons leer. ’n Eerlike verhouding met God, ’n opregte soeke na sy wil en leiding, is die grondslag vir ’n verkwikkende en sinvolle rustyd. Ekstra sjokolade, ekstra skermtyd of die luukse van ’n middagslapie is ontspannend en lekker, maar dis nie die antwoord nie. Ekstra tyd by die voete van ons Vader, sal ons toerus vir die jaar wat voorlê.

Dit beteken nie dat ons die stapel leesboeke of familiekuiers rondom die braai en etenstafel moet opsy skuif nie. Of dat ons sonder daardie blik vakansiekoekies moet klaarkom nie. Vir seker het ons dit ook nodig. Maar laat ons in hierdie vakansietyd nie vergeet waar ons krag en sterkte werklik lê nie. En laat ons veral nie so opgeslurp raak in die geharwar van aktiwiteite dat ons nie ons batterye by die bron herlaai nie. Sorg dat jy jou hart en gedagtes oopmaak vir die leiding en vrede waarmee God jou wil seёn. Die vrede van Kersfees. Vir elkeen in wie Hy ’n welbehae het.

Susan Goosen

 

 

 

 

 

Share this post