Rassisme

Martin Luther King het jare terug die bekende stelling gemaak dat “the most segregated hour of Christian America is eleven o’clock on Sunday morning”. Hierdie stelling kon net sowel vandag ook oor Suid-Afrika gemaak word. Meer as twee dekades na die aanbreek van demokrasie in ons land, is die realiteit dat ons nog merendeels apart aanbid.

Maar hierdie stelling kring ook wyer uit:

  • Hoekom is daar nog soveel afstand tussen persone van verskillende etniese groeperinge?
  • Hoekom woon ons nog apart?
  • Hoekom sosialiseer ons nog net met ons eie mense?

Die vraag na die apartheid wat nog tot ʼn groot mate voortduur in ons diepverdeelde land is kompleks. Dit het ondermeer te make met die geskiedenis van apartheid in ons land. Hierdie stelsel het die bevoorregting van een groep ten koste van ʼn ander groep bevorder, en sekere bevolkingsgroepe uitgesluit – iets wat tereg as rassisme beskryf kan word. Dit het tragiese gevolge veroorsaak wat ons nog tot vandag toe voel: armoede, ʼn agterstand in onderwys, minimale gesondheidsorg, ʼn gebrek aan basiese dienste en ʼn gebrek aan aanvaarbare huisvesting.

Ons sien rassisme in die blatante haatspraak wat deesdae al hoe meer op sosiale media voorkom. Maar ons sien ook rassisme in die subtiele, maar nie minder skadelike, houdings waar mense ander groepe hanteer asof hulle minder intelligent of bekwaam is.

Dit is belangrik om te besef dat rassisme nie beperk is tot een etniese groepering nie. Alle mense maak hulself skuldig aan vooroordele en trek gereeld grense tussen “ons” en “hulle”. Dikwels word hierdie vooroordele gegrond in vrees of afkeur van ander, wat dan saamloop met laertrek-mentaliteit wat berus op ʼn voorkeur vir “ons eie mense”. Mens sou dalk die stelling kan maak dat ons almal “recovering racists” is en elke dag nog die “inner racist” in ons moet beveg.

Daar is egter heelparty Bybeltekste wat ons oproep om hierdie vooroordele, wat so maklik oorgaan in rassistiese grappe of houdings of dade, teen te staan. So lees ons hoe Rut, die Moabiet wat uit ʼn etniese groepering kom wat deur Israel gehaat is, ingesluit word nie net in die stamboom van koning Dawid nie, maar van Jesus Christus. En in Johannes 4, lees ons hoe Jesus die Samaritaanse vrou wat net so verafsku is, as gelyke behandel en intrek in die geloofsgemeenskap van sy tyd. Is dit dan nie soos ons in Galasiërs 3:28 lees nie: “Daar is nou nie meer Griek of Jood, man of vrou, slaaf of vry nie. In Christus is ons almal een.” Dit maak nie saak watter ras jy is nie. Jy is ʼn kind van God, uniek gemaak na die beeld van God.

Desmond Tutu en Douglas Carlton Abrams se pragtige kinderboek, God’s Dream, illustreer iets hiervan. In die boek hou kindertjies van alle etniese groepe hande vas op die voorblad van die boek met die boodskap dat dit nie saak maak watter kleur jou vel is, of hoe groot jou neus is nie, wat belangrik is om te erken dat ons almal broers en susters is.

Desmond Tutu en ook ander soos Martin Luther King kon ʼn ander wêreld verbeel waar die die inhoud van jou karakter saak maak; nie jou velkleur, die taal wat jy praat of jou kultuur nie. As dit hierdie droom van ʼn wêreld is wat kan en moet anders wees wat ons dryf, verstaan ons dalk ook die onlangse gesprekke beter wat gaan oor “black pain”, #OpenStellenbosch, #RhodesMustFall, #FeesMustFall en die “#BlackLivesMatter-veldtog in die VSA . Dan hoor ons dat ons swart broers en susters nog steeds uitgesluit voel, gemarginaliseerd voel en in haglike omstandighede leef. Dan raak die gesprek oor rassisme ʼn kwessie van menswaardigheid wat wil sê dat elke man, vrou en kind in hierdie land, ongeag hulle ras, met waardigheid behandel word. En waar dit nog nie die geval is nie, waar ons steeds mense uitsluit, afmaak, minder ag, moet ons ons bes doen om anders te leef.

Wat kan ons doen om rasseverhoudinge in ons land te verbeter en om jare se wantroue af te breek?

Ons kan dalk begin deur te vra:

  • Ken ons mekaar se stories?
  • Ken ons mekaar se pyn?
  • Eet ons saam?
  • Speel ons saam?
  • Dien ons saam?

Op hierdie manier breek ons mure af en begin ons om brûe te bou. In hierdie proses is daar ook ʼn belangrike paar “moenies” om in gedagte te hou. Ons kan rassisme aktief beveg deur te begin om die volgende nie te doen nie:

  • Moenie rassistiese grappe vertel nie. Taal is ʼn magtige wapen en humor maak nie net seer nie, maar met elke grap dra dit by om ʼn wêreld in stand te hou waar dit aanvaarbaar is om rassisties te wees.
  • Moenie veralgemeen nie. Net soos dit nie vir die bevolkingsgroep waaraan jy behoort aangenaam is om gestereotipeer te word nie, is dit ook nie vir ander bevolkingsgroepe aanvaarbaar nie.
  • Behandel ander soos wat jy graag behandel wil word. Sien ander mense as jou gelyke, moenie neerkyk op ander mense of afpraat na hulle nie.

Share this post