In Biddende Verbondenheid – Biddend heeljaar lank
Take a look inside
Vir meer as ’n dekade het prof. Nico Koopman sy geloofsreis met ander gedeel deur daaglikse gebede – gewortel in die Skrif, gevoed deur die werklikheid van die openbare lewe, en deurdrenk met die pyn én die hoop van die wêreld.
Na sy gewilde bundel Pray Daily, Act Boldly kom hierdie nuwe, vars Afrikaanse versameling wat die tradisie van betrokke gebed voortbring. Met gebede wat diep in ons eie tyd en konteks ingebed is, bied hierdie boek ’n lewendige verbintenis tussen geloof en samelewing.
Hierdie gebede tree nie terug nie – hulle leer, daag uit, troos, roer die gewete en vra opregte betrokkenheid. Hulle lees die Skrif met oog vir geregtigheid en roep op tot nuwe verbeelding, morele moed en deernisvolle menslikheid.
Vir Koopman is gebed publieke teologie: ’n ruimte waar vrees plek maak vir hoop, en waar geloof gestalte kry in liefde en diens. Hierdie gebede bring ons nader aan die kwesbares, vorm ons deur genade, en roep ons om met oop oë, oop hande en ’n oop hart Christus in die wêreld te volg.
Vir wie is hierdie boek?
Hierdie boek is bedoel vir elkeen: vir die gelowige wat soms sukkel om woorde te kry om te bid, vir die leraar wat soms met woordeskat sukkel wanneer die wêreld ontwrig, vir die twyfélaar wat net nader aan God wil leef, en vir almal wat hul gebedslewe wil opskerp. Geen perfekte taal of volmaakte geloof word vereis nie – net ’n oop hart en die wil om te bid met woorde wat lééf in ’n wêreld wat roep om antwoord.
In Biddende Verbondenheid is meer as ’n gebedsboek – dit is ’n metgesel vir wie verlang om met durf te leef, met liefde te dien, en met getrouheid te bid. Vir elkeen wat soek na geloofstaal wat lééf, praat en hoor.
Information
R220,00
98 in stock


