Oop  deure – meditasies vir hierdie seisoen van Lydenstyd, Pase en Pinkster.

… en ʼn goue bak vol wierook (Openbaring 5:8)

 

Die Gees het vir Johannes weggevoer om in ʼn visioen ʼn glimp te laat kry van die hemelsaal waar God op die troon sit. Die deur na die toekoms, God se toekoms, is vir hom op ʼn skrefie oopgemaak sodat hy kon inloer. En dan sien hy voor die troon van die Vader staan die Lam wat geslag is, en die Heilige Gees – asof hy tot die ruimte van die Drie-enige God toetree. En voor die troon buig die ouderlinge, elkeen met ʼn siter (harp) in die hand … en ʼn goue bak met wierook.

Natuurlik gaan dit hier oor simboliek, beeldryke taal met ʼn dieper betekenis. Daarom die vraag: waarop dui die goue bakke met wierook dan?

Op vele plekke in Openbaring lees ons van die goue bakke met wierook; soveel kere dat dit eintlik ʼn sentrale plek inneem, duidelik ʼn belangrike boodskap dra. Trouens, dit is ʼn baie sentrale simbool dwarsdeur die Bybel. Reeds in Exodus 30:1-10 lees ons van die wierookaltaar wat in die tent (tabernakel) in die woestyn moes wees. In die latere tempel in Jerusalem was die goue bakke netso prominent (2 Kronieke 3-5). In Lukas 1:9 lees ons hoe Sagaria nog getrou die wierookoffer in die tempel gebring het. Die wierook was simbool van gelowiges se gebede, die gebede van die kerk deur die eeue heen. Hierdie gebede is soos wierook, dit styg op na die troon, dit is vir God soos ʼn aangename geur. God ruik dit, is bewus daarvan; dit doen iets aan God.

In Psalm 141:1 en 2 smeek die digter: “Ek roep na U, Here, kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U. Mag my gebed voor U wees soos ʼn wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ’n graanoffer in die aand”.

Dit gaan dus nie net oor die siter – die lofliedere in die aanbidding van God – nie, maar ook die smeekgebede, die roep na God. Die gaan oor die versugting van gelowiges oor die eeue heen, die gelowiges se uitsteek van die hande in krisistye. Dáárvan is die goue bakke met wierook simbool. En dis hierdie gebede wat die ouderlinge, as verteenwoordigers van die lydende kerk, soos ʼn offer uithou na die troon van God.

Gebede gaan nie net oor mooi lofbetuiging nie; ja, beslis daaroor ook, maar ook oor méér. Gebede is nie bloot terapeuties, die uitsê van ons kommer en pyn ter wille van emosionele verligting nie; ja, dit ook, maar méér. Gebede is nie net ʼn inspanning van ons eie geloofskrag om God te probeer beweeg nie; ja, dit miskien ook, maar dalk juis nie! Gebede is nie bloot mooi woorde nie, die aanspraak maak op voorspoed, heling en bewaring nie; nee, dis iets anders. Dis ʼn versugting, ʼn verlange, ʼn draai na en ʼn gerigtheid op God, ʼn uitsteek van die hande, ʼn roep na God. Luister tog! Soms is die roep nie eers meer in woorde nie, maar bloot stil-wees; daar waar ek op die einde van my eie krag, vermoë of begrip gekom het, en waar net sug en swye nog soos ʼn skraal wierookwolkie op walm. Dáár verwoord die Gees my sug, daar tree die Lam vir my in, daar waar Hy op die troon sit, hóór die Vader my.

En dís die dieper betekenis van die wierookbak voor die troon. Ons gebede is dáár, daar voor die troon. God is bewus daarvan, God ruik dit, God hoor dit … en dwarsdeur die eeue het dit ʼn invloed op die koers waarin God die geskiedenis laat wankel en wentel; God neem dit in ag as Hy die verloop van ons eie klein lewensverhaal, maar ook dié van volke en nasies en die gang van die ganse skepping – ook die draaipunt van plae en pandemies – bepaal.  GvdW    

Share this post