Oop deure – meditasies vir hierdie seisoen van Lydenstyd, Pase en Pinkster.  

Die Stad met die Twaalf Poorte. Hoe moet ek maak om in te kom? Openbaring 21: 9-14

 

Hoe weet ek dat ek in die Stad van God welkom is? Is my geloof in die Here, die Lam wat geslag is, genoeg? Glo ek op die regte manier? In die Koronavirus-tyd word ʼn mens met die heel belangrikste vrae van die lewe gekonfronteer.

Nie almal kom op dieselfde manier tot geloof nie. Party het ʼn emosionele ervaring. Ander praat van ʼn dag en datum van bekering. Baie het nie so ʼn datum nie. Hulle glo van kleinsaf, soos Pa en Ma hul geleer het. Vir party kom geloof maklik, vir ander is dit ʼn worsteling.   Wie is reg?

In die vroeë kerk is al hierdie vrae op ʼn interessante manier beantwoord. Kyk wat staan daar in Openbaring 21 oor die Stad van God, is gesê.  Die stad het twaalf poorte, drie in elke windrigting: oos, wes, noord en suid. Dit is om ruimte te maak vir almal wat op verskillende maniere hul geloofsreis ervaar.

Aan die oostekant is daar drie poorte, in die rigting van die opkoms van die son, wanneer die ligdag breek – simbolies van almal wat in die oggendstond van hul lewe, toe hulle nog kindertjies was, Jesus leer ken het en Hom liefgekry het. Hulle het nie ʼn dag of datum, ʼn dramatiese bekering nie, maar van kleinsaf het hulle aan die hand van Jesus in hul geloof gegroei.

Aan die westekant is daar drie poorte, in die rigting van die ondergaande son, waar die laaste strale verskiet – simbolies van almal wat aan die einde van hul lewe, op hul oudag,  terminaal siek of, soos die moordenaar aan die kruis, in die laaste minute van hulle lewe  hul Verlosser ontmoet. Ons is dikwels skepties oor “sterfbed-bekerings”, maar aan die westekant is die poorte wydoop!

Aan die suidekant is daar drie poorte, die rigting (gesien vanuit Palestina) waarvandaan die warm, sagte, somerwind gewaai het. Partykeer was dit meer:  ʼn woeste warm wind, vanuit die woestyn aangeblaas. Dis simbolies van almal wat op die wind van emosie, van ʼn warm geloofservaring, hul pad na Jesus gevind het. Aangewaai deur die wind het hulle hul Verlosser ontmoet.

Aan die noordekant is daar drie poorte, die rigting vanwaar die koue winterwinde gewaai het – simbolies van almal wat op die koel wind van die rede hulle pad na die Stad van God deurgedink het. Ons wonder partykeer oor die mense met die baie vrae, wat redeneer en wat worstel om tot geloof te kom, maar ook vir hulle is daar wydoop poorte wat wag.

Of Johannes by die skryf van die teks dit so geïnterpreteer het, is ʼn ope vraag. Maar wat waar is, is dat Christene deur al die eeue groot troos uit die vroeë kerk se verduideliking van Openbaring 21 gevind het. Om te dink dat daar vir ons almal plek is. Vir Gereformeerdes en vir Charismatici, vir kindertjies en oumense, vir wetenskaplikes, vir almal van ons, hoe ons ook al tot geloof gekom het, is daar baie plek. Twaalf poorte, altesaam!

 

(Piet Meiring)

 

 

Share this post