Oop deure – meditasies vir hierdie seisoen van Lydenstyd, Pase en Pinkster

‘n Stilte om in te kan wag

Openbaring 8:1

Die stil, heilige Saterdag van 2020. Ons onthou ʼn graf in Getsémane, afgesluit, verseël, bewaak deur soldate … en veral, stil.

Die vier Evangelies vertel baie min van daardie Saterdag. Matteus skryf vier verse oor “die volgende dag, die dag ná die Vrydag” (27:62), bedoelende, die Sabbat. Dat téén alle reinheidsvoorskrifte en sabbatsreëlings in, die priesterhoofde en Fariseërs na die huis van die Romeinse goewerneur Pilatus gegaan het met ʼn versoek om nóg wagte na die graf te stuur; daar moet nie ná die tyd stories oor ʼn “opstanding” rondvertel kan word nie (27:64). Markus eindig by die Vrydagmiddag, “die dag voor die sabbatdag” en hoe Jesus in die graf van Josef van Arimatea weggelê is, in doeke toegedraai en met die twee Marias wat stil toegekyk het (15:42). Johannes voeg by dat Nikodemus ook daar aangekom het met ʼn oorvloedige hoeveelheid mirre en aalwyn, en dat hulle gou gemaak het “omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het” (19:42). Lukas beaam dit, en volstaan dan: “Op die sabbatdag het die vroue gerus soos die gebod bepaal” (23:56). Stil.

 

En só het dit nou alles tot niks gekom, stof tot stof. Drie jaar van wonderlike woorde en werke, verby. Onvoorstelbaar, verskriklik die einde. Die geskreeu “Kruisig Hom!” ʼn wrede eggo van gisteroggend; die Romeinse soldate se gerumoer en hamerslae klaar; die klaagpsalm “Eloï, Eloï” tussen aarde en hemel aan’t wegsterf. Die graf is toe. Op die sewende dag het God gerus, sê die Skrifte. Stille Saterdag is “die dag van die afwesigheid van God, verborge deur die graf, stilswyend” het Pous Benedictus XVI eens opgemerk. ʼn Stilte waar-verby ons nie te gou moet blaai, haastig om van Vrydagaand na Sondagoggend te vorder nie. Wag maar daar, op die dag tussenin. Die dag waarop die vroue net getreur het, sonder enige verwagting. Die dag waarop die dissipels van skok nog stom was, diep teleurgestel in hul eie weghardloop. Dié dag moet deurleef word. Om die waarheid te sê, dít is waar ons ons bykans twintig eeue later bevind: ʼn aarde moeg, ʼn mensdom siek, ʼn hemel stil.

In sy visioen daar op die eiland Patmos beleef Johannes óók so ʼn stilte. ʼn Halfuur, het hy aangeteken (Openbaring 8:1). Dit was nét toe die sewende seël oopgemaak is – ‘n hemelse stilte. Die eerste ses was verskriklik: vier perde trek daar uit, die aarde vreesbevange en in die ban van die dood; die vyfde seël vol uitroepe van die lydendes – “hoe lank nog Here?” – en die sesde seël wat die son verduister, die maan soos bloed, sterre wat val, skrik rondom! “Wie sal staande kan bly, o God?” (Openbaring 6:17). Is alles dan tevergeefs? Vir ʼn oomblik sien Johannes ʼn menigte – ontelbaar, en tóg voltallig (Openbaring 7:4 en 9). Hulle roep uit en dit is asof die lof en aanbidding van Paassondag van daar voor af hierdie kant toe weerklink; wil bemoedig, beskerm en troos hier waar ons is. En dan die sewende seël: die stilte.

Dit is nie ʼn leë stilte nie: Johannes sien gebede, soos wierook, opstyg na God. Gebede van gelowiges vul dié wagtyd. Op Saterdag – die stil dag tussen Vrydag se lyding en Sondag se hoop – wag die kerk, die eeue deur, biddend. Dit is: om te luister – hoor ons die voetstappe van die Tuinier al naderkom, van die Bruidegom? Dit is ook nie ʼn eensame stilte nie: Johannes sien sewe engele daar staan, wagtend ook voor God. Uiteindelik ook die Gees en die bruid wat roep: “Kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

Dít is wat Stille Saterdag so heilig, so anders maak. Ons wag.

Jan Lubbe

Berg-en-Dal, Bloemfontein.

 

 

Share this post