Oop deure – meditasies vir hierdie seisoen van Lydenstyd, Pase en Pinkster

 Uit elke nasie, stam, volk en taal kom die kruisdraers

 Openbaring 5:9-10

Dit is Goeie Vrydag 2020. Ons onthou ʼn doringkroon en houtkruis, ʼn uitroep van verlatenheid en ʼn laaste sug van oorgawe. Ons sing: “O Lam van God, onskuldig…” (Lied 377).

Nadat die Apostel Johannes in daardie visioen van die hemelse troonsaal sy moedverloor uitgehuil het én deur een van die ouderlinge getroos is met ʼn heenwysing na die Leeu, die Lam langs die troon, klink daar óók ʼn lied op: “U is waardig… omdat U uit elke stam en taal en volk en nasie mense vir God losgekoop het, hul ʼn koninkryk gemaak het, priesters vir ons God!” (Open. 5:9-10). Die vier-en-twintig ouderlinge sing en die lied groei aan tot der duisende engele en die ganse skepping saamsing! Die Lam wat geslag is daardie Pasga in Jerusalem, is waardig die lof en eer, heerlikheid en krag tot in alle ewigheid (Openbaring 5:13). Amen! Die koninkryk van God en die heil wat die Lam gebring het, strek skeppingswyd uit. Oor alle grense heen, sluit dit mense van alle tale en volke, lande en eeue in.

Juis daardie Vrydagoggend het dit onverwags op die kruisweg na Golgota sigbaar geword. Matteus, Markus en Lukas het in hul optekening van daardie verskriklike gebeure dié man se naam onthou: Simon van Cirene (Matteus 27:32). Hy’t van buite die stad ingekom (Luk. 23:26), dalk op pad na die tempel vir die Pasga. Cirene was ʼn Romeinse provinsie in Noord-Afrika, vandag Libië. Vir eeue al het daar Jode gewoon en deel van Afrika geword, sodat sommige aan hierdie man uit Cirene die bynaam “Niger” gegee het (Hand. 13:1). Deur die Romeinse soldate nadergeskree en onder die kruis van ʼn uitgeputte, struikelende Jesus ingedwing. Wat hy op daardie ent pad gehoor en gesien het, kan mens jou net indink. En wat van hom geword het ná hy die kruishout op Golgota neergesit het, weet ons nie – het hy weggehardloop of verslae bly staan? Dertig, veertig jaar later lyk dit of sy naam bekend was in die vroeë Christelike gemeentes: Simon van Cirene, “pa van Aleksander en Rufus” (Mark. 15:21)! Later – ná Pinkstersondag toe daar ook mense uit Cirene in Jerusalem was (Hand. 2:10) – vertel Lukas dat Simon onder die gemeenteleiers in Antiogië was, ʼn medewerker van Barnabas en Saulus. En wanneer Paulus sy brief aan die Romeine afsluit, stuur hy besondere groete aan Rufus “en aan sy ma, wat ook vir my altyd ʼn ma was” (Rom. 16:13)…

Op ʼn vreemde manier het die vernedering van Simon van Cirene daardie Vrydag toe hy gedwing is om sy waardigheid prys te gee en die vloekhout op te neem, sy lewe en dié van sy gesin diep geraak.  Meer nog: deur homself te verloën en die kruis van die Groot Verloënde op hóm te neem, word hy ʼn vergestalting van Jesus se woorde vroeër: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg…” (Mat. 16:24). ʼn Man uit Afrika. Dalk een van die eerstelinge om in die spore van die Gekruisigde te volg; een uit ʼn ander stam en oord, vrygekoop vir God, singend met die menigte die lied tot eer van die Lam…

Op ʼn Goeie Vrydag soos dié en aan die suidpunt van die einste Afrika wat soveel kruise ken, is ons geroep om Christus in gedagtenis gehoorsaam te volg, dankbaar dat Hy ook óns uit hierdie volk en nasie en taal ingesluit het by die menigte van sy koninkryk.

Jan Lubbe

Berg-en-Dal, Bloemfontein.

 

 

 

 

Share this post