Ook vir die ontevredenes . . .

Lees Lukas 15:25-32

“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom . . .” (v. 28).

Latere lesers van die veelseggende, aangrypende verhale oor die skaap en die muntstuk wat weggeraak het, en die seun wat weggeloop het, moet nie vergeet waarom Jesus hierdie stories vertel het nie: Lukas sê dit was die tollenaars en sondaars se gewoonte om na Jesus te kom luister.
Maar die kerkmense het net mooi niks daarvan gehou nie; Jesus het dan selfs saam met die uitvaagsels geëet! En die vromes en regverdiges het verontwaardig hierteen beswaar gemaak.
Toe, sê Lukas, vertel Jesus hulle dié drie verhale. By die laaste een voeg Hy ’n stertjie by, een met ’n skerp, skérp angel: die reaksie van die oudste seun.
Die oudste seun – daardie goeie, bestendige, verantwoordelike en betroubare kind – wat toegekyk het hoe die niksnuts van ’n jonger broer alles verkwis het, hoor die partytjiegeluide. Hy kan sy ore nie glo nie.
Een van die bediendes kom bevestig sy ergste vermoedens: Die klein ellendeling is terug. En die vetgemaakte kalf, daardie slagding vir heel spesiale geleenthede, is op die vuur.
Die ouer broer is só kwaad dat hy nie eens in die huis wil ingaan nie – sê nou net hy loop dié mannetjie raak . . .
En wat het hy nou eintlik vir sy ou pa te sê; dié het hom weer eens ’n gat in die kop laat praat deur die wegloper met sy slimstories.
Toe gebeur daar ’n vreemde, wonderlike ding: Toe die pa hoor dat sy oudste buite rondstaan, siedend, woedend, staan hy op, dié pa, en gaan uit na die ontstelde kind toe. En hy gaan praat mooi met hom.
Die ontevredene gee nie ’n aks toe nie. Sy woorde is hard, sy beskuldigings op die man af. En sy logika dodelik.
Wat kan die pa hierop antwoord? Sal die uitvoerige bevestiging van die oudste seun se plek in die vaderhuis hom troos? Ag, en wat van dié pleitrede (let op die insluitende “ons”): “Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie . . .” (v. 32).
Wat antwoord die oudste seun toe? Was hy toe tevrede? Het hy besin?
Ons weet nie.

Ons weet wel iets van die vader. Van sy opregte deernis, sy onwrikbare regverdigheid, sy verbluffende geduld, en sy liefde vir sy kinders – ál sy kinders. Hy staan op vir hulle, hy kom hulle tegemoet. Hy blom van blydskap oor hulle, die weglopers wat weer terug is, én oor die betroubares en verstandiges.
Die vraag is natuurlik: Is sy warm hart nie dalk té ruim vir laasgenoemdes nie?

Hoe kan ek ontevrede wees oor u barmhartigheid, Vader?
Ek leef dan daarvan!

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post