Ons woon in die aarde

Die aarde is ons woonplek. Maar eintlik woon ons nie óp die aarde nie; ons woon ín die aarde; ons leef ván die aarde. Die aarde is ons huis. En is dit nie ’n wonderlike huis (oikos) waarin die Skepper-God ons geplaas het nie? God se kinders behoort met verwondering in hierdie huis te leef. Ons behoort met ontsag op die aarde te loop. Maar doen ons dit? Of aanvaar ons die aarde as vanselfsprekend? Aanvaar ons ons kan die aarde maar gebruik en misbruik soos ons wil? Ons huis is in die moeilikheid, en ons almal wat hier woon, word bedreig.

God se bedoeling met die aarde

God se skeppingsdoel met die mens, soos dit in Genesis verwoord is, is dat die mens – wat na God se beeld geskep is – medeverantwoordelikheid moet aanvaar vir die welwese van God se skepping. Ons as mense is veronderstel om die skepping te bestuur en daaroor te heers, maar dan te heers volgens die opdrag van die Eienaar in wie se Naam ons hierdie opdrag ontvang het. Ons het ʼn groot verantwoordelikheid teenoor die aarde: om te heers én te bewaar. Volgens Genesis moet God se verteenwoordigers op die aarde vermeerder en die aarde vul met die getuienisse oor God se liefde en sorg. Ons moet dus hierdie liefde en sorg uitleef.

Die mens misbruik die aarde

Ongelukkig is dit so dat mense vandag (ten minste sedert die Industriële Revolusie van die 18de eeu) hulle heerskappy oor die skepping op ’n enorme skaal begin uitleef het. Die aarde word oormatig ontgin en bewerk. Dit lyk of daar geen einde is aan die mens se kreatiwiteit om alles wat die aarde bied, te gebruik en te omvorm tot produkte tot ons voordeel nie. Die tegnologiese ontwikkelings is asemrowend. Die jammerte is dat ons skynbaar vergeet het dat ons opdrag ’n dubbele opdrag was: bewerk én bewaar. Die mens het inderdaad die aarde begin vul; ongelukkig nie met ontsag vir God nie, maar met ons eie produkte.

Ons verbruik te veel

Die waarheid is dat die sterk toename van ’n verbrui-kergesinde mensdom daartoe lei dat ons die aarde oorbenut. Volgens berekening verbruik ons tans 150% meer as wat die aarde kan voorsien. Ons leef op die opgeboude kapitaal van miljoene jare. Teen hierdie tempo sal daar teen 2030 reeds twee aardes nodig wees om ons almal te onderhou. Ons verbruik oorskry die vermoë van die natuur om die bronne aan te vul. Hulle noem dit ons “voet-spoor”. Die voetspoor wat ons nalaat, is te groot. Daar is formules waarvolgens ons ons gesin se voetspoor kan bereken. Ons kan selfs elke gemeente s’n bereken. En dan kan ons aanpassings maak waar nodig.

Ons as gelowiges behoort hierin die voorbeeld te stel. Ons moet eenvoudig ons onbeteuelde drang na nuwe verbruiksgoedere afskaal. Ons kan nie op dieselfde skaal aanhou verbruik nie. ’n Eenvoudiger leefstyl sal tot almal se voordeel wees. Ons behoort hierdie boodskap te verkondig, maar as Christene behoort ons dit ook voor te leef.

Ons maak rommel

Paul Johnstone het geskryf dat homo sapiens beskryf kan word as “a rubbish-making animal”. Die verbruikerskultuur het tot gevolg dat alle produkte die een of ander tyd afgeskryf en weggegooi word.
Kan ons sommige ou produkte nie dalk langer gebruik nie? Al die nuwe produkte kom immers weer in nuwe verpakkings … wat later ook weggegooi word.

Rommel hoop op. Tog kan die meeste hiervan – papier, blikkies, plastiek – op ’n manier weer gebruik word. Al hierdie rommel besoedel die aarde, of dit nou rondlê en of dit na stortings-terreine geneem word.
Verantwoordelike getuies van God se genade behoort alles in hulle vermoë te doen om rommel te verminder, én die voorbeeld van herwinning en her-gebruik stel. Dink bietjie hier aan projekte wat julle as gemeente kan aanpak.

Ons verbruik te veel energie

Om al hierdie verbruikersprodukte te vervaardig verbruik ’n enorme hoeveelheid energie. Waar kom hierdie energie vandaan?
Meestal uit onhernubare bronne soos steenkool en olie wat verbrand word. Gelowiges behoort alles in hulle vermoë te doen om nie net elektrisiteitsverbruik te verminder nie, maar ook so ver moontlik hernubare kragbronne (soos son- en windkrag) te gebruik.

Ons besoedel

Ons gewoontes lei tot besoedeling, nie net van die aarde nie, maar ook van die lug. Die opwekking van elektrisiteit deur verbranding blaas onmeetbare hoeveelhede gasse en partikels in die lug in, wat ’n groot impak op die wêreldklimaat het. Dieselfde geld vir die gasse van ons voertuie.

Behoort ons nie ons gewoontes van brandstof-verbruik aan te pas nie? Ons kan waarskynlik meer stap, meer fietsry of selfs ons voertuie deel. Ons kan dit ook oorweeg om voertuie te koop wat minder brandstof verbruik. Ons kan ons voertuie só gebruik dat dit meer ekonomies is (deur stadiger te ry). Die heel beste voordeel hiervan is dat ’n mens só geld spaar.

Dit is egter nie net die grond en lug wat besoedel word nie. Wat van die vars water en ons oseane? Soveel besoedeling beland in ons (skaars) waterbronne. Die volgende groot oorloë – so sê die kenners – gaan oor water wees. Ons voel dit in verskeie dorpe reeds aan die lyf; nie net die gebrek aan water nie, maar ook die swak gehalte van ons water. Wat kan ons as Christene doen?

Ons moet anders leer dink en doen

Ons as Christene moet in die eerste plek leer om anders oor ons omgewing te dink. Ons moet goed nadink oor ons plek op die aarde. Ons moet daaraan dink dat dit nie regtig óns wêreld is nie, maar Gód se wêreld. Ons rol is om te bewerk en te bewaar. Ons moet ons ingesteld-heid radikaal verander, maar ook tot daadwerklike aksie oorgaan.

Die eerste aksiedaad is om ons gewoontes en leefstyl aan te pas. Ons moet verantwoordelik en sensitief leef ten opsigte van ons impak op die omgewing. As ons self eers oortuig is hoe nodig dit is, behoort ons as gemeentes en gelowiges ook saam te doen wat ons kan om te bespaar en te hergebruik.

“Groen” sake beteken ook “bruin” sake

Daar is egter ook dringender sake wat ons nie kan ignoreer nie. Om jou besig te hou met die dinge van die natuur en omgewing kan maklik as ’n luukse beskou word, iets waarmee ryk mense hulle besig hou. Daarom moet ons besef, die sogenaamde “groen” sake – die natuur en die omgewing – is onlosmaaklik gekoppel aan die sogenaamde “bruin” sake – armoede en ontwikkeling.

Die eerste mense wat swaarkry onder ’n omgewing wat agteruitgaan, is die armes. As ons omgee vir mense, moet ons ook aandag aan hulle omgewing gee. Ons kan nie maar net voortgaan om te gebruik en te vermors nie. “We must live simply so that others may simply live,” het iemand gesê.

Daarom moet ons gegronde standpunte ontwikkel – en standpunt inneem – oor sake soos om ons waterbronne te beskerm (ons moet opstaan teen misbruik en besoedeling), biodiversiteit (ons moet opstaan teen gebruike waardeur spesies uitgeroei en habitat vernietig word), atoomkrag, die benutting van son-, wind- en hidroëlektriese krag, en die (dreigende)ontginning van gasbronne. Nie alle ontwikkeling is goed en gesond nie.
Buiten al hierdie sake, moet ons ook aandag gee aan krisisse soos die agteruitgang van ons munisipale rioolplase en die hantering van stortingsterreine.

Dit het alles met die evangelie te make

Het al hierdie dinge dan iets met die kerk en die evangelie te make? Is die “groenes” nie maar net ’n klomp ongebalanseerde mense en dikwels heidene nie? Nee, die evangelie het alles met hierdie sake te make. As jy mooi lees, sal jy sien die Bybel is vol daarvan. Ons as gelowiges se getuienis is hier van die grootste belang.

Dink ’n bietjie hieroor:

God het die aarde mooi en goed geskep – die ganse skepping vertel van sy grootheid en almag (Gen 1 – 2, Job 36 – 37; Ps 8; 19; 104). Die aarde en alles daarop behoort aan die Here (Ps 24:1-2).

Ons het die opdrag om die aarde te bewerk en op te pas (Gen 2:15).
Weens die sonde het God se goeie skepping seergekry. Ons pas dit nie op soos God gevra het ons moet nie. Ons maak of die aarde aan
ons behoort.

Christus het vir ons sonde gesterf en uit die dood opgestaan, maar ook om die aarde nuut en heel te maak, om alles weer met God te versoen (Kol 1:20). Hy maak alles nuut; ons is op pad na sy nuwe hemel en nuwe aarde (Op 21:1-8). Dit is die hoop waarin ons leef.

Intussen wil Hy ons as sy gestuurdes gebruik om oral tekens op te rig en te getuig van die nuwe en heel wêreld waarheen God met ons op pad is. God wil ons as sy beelddraers, sy bestuurders, gebruik om met verantwoordelikheid op en in sy aarde te woon.

In hierdie huis moet ons vir mekaar en ons nageslag leefruimte maak. Ons moet die aarde saam met mekaar in verwondering, vreugde en dankbaarheid geniet – tot eer van God.

Share this post