Ons is tempel, hemel en God se misterie

 

Die grootste voorreg is om deel van God se kerk te wees. Wanneer laas het jy stilgestaan in bewondering vir die feit dat jy deel van die liggaam van Christus is?

“… want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is”
Efesiërs 5:29–30

Ons het nodig om bogenoemde woorde ʼn paar keer te lees, sodat dit werklik tot ons kan deurdring. Paulus wys ons op hierdie geheime misterie, soos wat hy dit noem. Raak gou rustig en lees weer die twee verse ʼn paar keer oor. Besef wat jy lees, dat ek en jy mens is en deel van God is.

Lees weer … stadig.

Die son is meer as 120 miljoen kilometer van die aarde af weg en steeds kan ons nie direk na die son staar nie. Dit is nie moontlik om naby aan die son te kom of te vat nie, maar steeds is ons deel van die God wie se heerlikheid helderder as die son skyn.

Jesaja 6:2 leer ons dat die hoofengele hulle met hul eie vlerke in sy teenwoordigheid toevou en bedek.

Hoekom sal iemand so belangrik, besluit om na ons om te sien soos wat hy na sy eie liggaam omsien?

Ek lees weer 2 Kronieke 7:1–4 raak. Die oomblik toe Salomo met sy gebed klaar is, het vuur uit die hemel gekom en die vuur het die brandoffers en diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van God het die tempel gevul. Die priesters kon nie ingaan nie want God se teenwoordigheid het die tempel gevul. Die mense het hierdie dinge sien gebeur en hulle het gekniel en God geloof met die woorde:

“Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Ek weet nie van jou nie, maar ek sal baie dinge in die lewe opoffer om voor die tempel te kon staan en hierdie gebeure met my eie oë te kon sien. Die Here gee ons in werklikheid soveel meer as net dit, hy maak ons inderwaarheid deel van sy tempel. Deur die bloed van Jesus word ons elkeen wat sy naam aanroep, waardig en vorm ons saam met ander om ons die woonplek van God hier op aarde.

Petrus noem ons: “lewende stene” wat tot ʼn “geestelike huis” opgebou is. Ons is boustene in dieselfde struktuur waarvan die apostels en die profete die fondasie is en Jesus self die hoeksteen is. Waar Paulus oor die konsep praat, noem hy dat ons almal deel van die tempel is. Ons is almal deel van een tempel, die tempel van God. Die feit dat ons sy volgelinge ʼn tempel is, beteken ons is sy woning. Hy leef in ons en as deel van ons.

As hierdie jou nie opgewonde maak en uit jou nate laat bars nie, lees dit oor en oor, totdat dit insink. Moet nie probeer verstaan of ontleed nie, sit net en staar in God se oë, wees net.

Die dag toe Paulus hierdie konsep aan die mense van Korinte verduidelik het, het hy ʼn erge waarskuwing toegevoeg:

“Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.”

1 Korintiërs 3:16-17

As jy kon ervaar hoe die vuur van God uit die hemel, op die tempel neerdaal en die offers verteer, sou jy in die tempel platgeslaan gewees het?

Verseker sou ons nie, want ons sou in verwondering gestaan het voor sy teenwoordigheid. Nou moet ek myself ʼn paar vrae vra en ek weet ʼn paar mense wat dit lees moet dieselfde vrae vir hulself vra.

Hoekom is ons so vinnig om te oordeel?

Hoekom is ons so vinnig om te skinder?

Hoekom moet ons so vinnig die leierskap van die kerk afkraak?

As enigiemand die tempel van God vernietig, sal God daardie persoon vernietig!

Skielik kom daar ʼn ou liedjie in my kop wat ons altyd by die kinderkrans gesing het.

“Weet jy nie, weet jy nie, jy is ʼn tempel, jy is ʼn tempel van die Heilige Gees.”
Vol van lof, vol van krag, vol vreugde …
Jy is ʼn tempel van die Heilige Gees.”

Ons lewe in ʼn era waar dit so normaal is om te kritiseer, dat ons nie meer agterkom dat ons dit byna in elke sin doen nie. Dit is mos ons reg om kritiek te lewer. Ons het ʼn opinie oor alles wat gebeur. Luister maar weer ʼn slag na die mense rondom jou.

Die Uber drywer ry te stadig of te vinnig, die foto op Instagram is onsmaaklik, die pizza se kors is te dun of vulsel te skraps. Ek is nie bereid om betrokke te raak op grondvlak nie, maar ons land gaan dit nie maak nie. Ons dorp is besig om agteruit te gaan, maar dit is nie my werk om dit verander nie!

So werk dit in die kerk ook. Plaas dat ons die mistieke wonderwerk waarvan ons deel is, omarm. Dit is gemakliker om kritiek te lewer op mekaar.

Verskillende kerke spandeer te veel tyd om mekaar se “foute” uit te wys in plaas daarvan om die mistieke wonder om deel van die tempel te wees, te omarm en te leef. As ons ander nie kan oortuig daar waar ons deel van ʼn gemeenskap is nie, dan skuif ons na ʼn ander gemeenskap waar ons manier van verstaan aanvaar word en pas. Die probleem is dat ons as mense net heen en weer skuif van gemeenskap na gemeenskap en tydens hierdie proses is dit die tempel van God wat beskadig word, want elke gelowige is deel van sy tempel. Ek is deel van sy liggaam.

Daar is net een tempel en almal wat Hom as verlosser erken, het Hy die reg gegee om sy tempel te wees, sy woning waar Hy intrek geneem het!

Iemand vra my die ander dag hoekom ek so min kerk toe gaan. Ek is gou om te begin antwoord, maar terwyl ek antwoord besef ek dat ek ʼn voorhamer in my hand het en dat ek rond en bont slaan. Ek is besig om die tempel af te breek. Hoekom?

Dit is hoe ons deesdae is, ons is eers krities, ons breek eerder af as om te bou. Ek word yskoud terwyl ek besef dat ek God se tempel, God se woonplek afbreek. Vir elkeen vir wie God die reg gee om sy kind genoem te word, gee God die opdrag om sy tempel, sy woning te bou en te onderhou, en dit is ons wese.

Ek besef eens dat die tempel die plek was waar God gekies het om op aarde te woon en nou is die kerk die tempel waar God woon. Ons is die kerk, so ons is die tempel waarin God deur die Heilige Gees woon. 2 Kronieke 7 was nie die enigste keer dat vuur uit die hemel op die tempel neergedaal het nie. In Handelinge 2 gebeur dit ook. Die dissipels is almal saam en besig om saam te bid. Daar het vuur in die vorm van tonge, uit die hemel gedaal en op hulle geval. Hulle was die tempels en die res is geskiedenis.

Ons is elkeen deel van ʼn prentjie wat baie groter as onsself is, misties en heilig. Die offer van Jesus aan die kruis, maak jou, kind van God nie net deel van sy tempel nie, maar ook deel van die hemelse gemeenskap van heiliges. Verstaan jy hoe groot dit is? Lees die vorige sin gou weer.

Kom ons hou op om met die hamer na mekaar te swaai en met die kritiek op mekaar se manier van tempel wees. Kom ons begin weer ons tempel te leef. Daar is net een kerk en dit is God se kerk. Daar is net een tempel en dit is God se tempel. God se woning is ek en jy, ons is die tempel, die woning van God.

Die oomblik as ons die kerk uit God se perspektief sien, wanneer ons die kerk volgens God se ontwerp waardeer, dan staan ons in verwondering. Wie behalwe God kon met so plan vorendag kom? Dit is vir my persoonlik hartseer dat ons sukkel om die wonder van God se kerk meer raak te sien. Die engele staan in verwondering oor God se kerk en soms voel dit asof ons net gaap en kritiseer.

Die vroeë kerk het nie energieke musiek, video’s, aantreklike leiers nodig gehad om opgewonde te wees om deel van God se liggaam te wees nie. Die wese van God, om deel te wees van sy liggaam en die inwoning van die Heilige Gees was genoeg om hulle in verwondering te bring.

Is jy nie ʼn bietjie skaam dat jy al hierdie ekstra goed nodig het nie?

Vir dekades het kerkleiers, soos ek self die wonder van God se mistiek gemis en dit het veroorsaak dat ons na ander metodes begin gryp het om mense te behou. As ons eerlik is, het ons jou geleer om met minder as God se mistiek en wonder tevrede te wees.

Ons het iets baie spesiaals en kosbaars afgewater en goedkoop gemaak. Vir my aandeel daarin bely ek voor God en vra ek onomwonde verskoning …

 

Wynand Olivier

Share this post