Grieving brings healing

Om te rou

Om oor verlies te rou, bring genesing

Deur ons lewe moet ons leer om verlies te verwerk. Ons moet afskeid neem, vertroude situasies, kosbare dinge of dierbare mense agterlaat, nuut begin. So is die lewe nou eenmaal. Dis ook deel van ons pad van groei na altyd groter volwassenheid. Telkens, in nuwe lewensfases, neem ons afskeid van ’n manier van lewe, van vriende, van veilige hawes, sodat ons nuwe lewenstake kan opneem. Maar soms is daar groot en ingrypende verliese wat ons moet verwerk. Hierdie verwerking vra natuurlik veel meer van ons, dit vra tyd en moed, emosionele energie. Dié proses sou ons ook ’n rouproses kon noem. Om te rou, of verlies te verwerk, is goed, dis nodig, dit maak heel en nuut. Dit is baie goed om die proses te probeer verstaan; en so minder traumaties te beleef. Dit kan dit minder traumaties maak. Dit kan ongelukkig nie die pyn en hartseer wegneem nie, maar wel gerustheid bring dat ek op die regte pad is.

Vir elkeen ’n unieke proses

Ons moet besef dat elkeen op sy of haar unieke wyse deur ’n rouproses gaan; daar is nie ’n resep of reëls nie. Soos enige lewens-ervaring vir elke mens anders verloop, so gaan elkeen se rou-ervaring anders wees, ’n ander volgorde hê.

Ons rou omdat ons iemand of iets kosbaars verloor het. Maar dit is nie al wat ons verloor het nie. Ons rou is nie net oor een verlies nie, maar oor talle verliese wat ek gelyktydig ervaar. Wanneer my man sterf verloor ek byvoorbeeld dadelik ook die status van getroud wees; ek kry ’n nuwe status van weduwee-wees. En op al die verliese het ek verskillende reaksies. Rou is nie drie of vier take wat ek moet afhandel nie, maar is eerder ’n groeiproses wat vir elkeen sy eie tempo volg. Met ’n groeiproses is ongeduld ’n frustrerende gevoel. Ons almal wil klaarkry en wil hê dit moet so gou as moontlik verbygaan. Dit vra egter werk en tyd.

Wat vra rou van my?

Dit vra om ’n verskeidenheid van hanteringsmeganismes vir veelvuldige sake, byvoorbeeld: Hoe hanteer ek my angs? Hoe hanteer ek die afwesigheid van die geliefde persoon? Hoe hanteer ek al die nuwe uitdagings? Sommige hanteer ek maklik, ander hanteer ek met moeite.

1. Afskeid neem
Die aanvanklike taak wat my konfronteer is die van afskeid neem. Die probleem is dat ek nie daarvoor gereed is nie en dit nie wil doen nie.
Ek bied weerstand daarteen. Alles is onwerklik, onregverdig en my hele wese kom in opstand daarteen – ek wil nie afskeid neem nie, so eenvoudig is dit.

Ons sit ook met ons wensdenkery: “As ek maar …” of: “Dit sal weer verander …” Dan kom staan skuldgevoelens ook nog voor ons: “Hoe kon ek dit misgekyk het?” “Hoekom het ek hom nie gedwing om dokter toe te gaan nie?” Woede kan ook ’n metgesel word: “Kyk in watter situasie laat hy my nou.” – woede teenoor God en jouself. Dit kan ook wees dat ’n mens in wanhoop verval en geen uitkoms sien nie. Of ons leef in ’n wêreld waar ons maak asof niks gebeur het nie. Ons gaan doodeenvoudig aan met die lewe.

Al hierdie uitdagings vra om ’n konfrontasie en deurbreking, sodat ek by afskeidneem kan kom. ‘Afskeid neem’ beteken om teenoor myself te erken dat die persoon onherroeplik weg is, en om dan verantwoordelikheid te neem vir my eie lewe, my eie geluk en vreugde.

2. Dit raak ons hele lewe
Ons word op alle vlakke van die lewe geraak deur ’n verlies.
Ons emosionele lewe word geraak: skuldgevoelens en selfverwyt is algemeen; daar is hartseer; angstigheid wat op verskillende vlakke na vore kom – dit kan wees omdat ekself bang is om dood te gaan, of dat ek beangs is om die lewe alleen aan te pak; alleenheid; hulpeloosheid; moegheid – gewoonlik van al die angs en sake waaraan aandag gegee moet word; selfs ’n doodsheid oorval my; kort van draad; verlies aan warmte in verhoudings. Ons emosies kan wipplank ry en mekaar vinnig afwissel.

Ons eerste taak is om te rou. Mense rondom ons voel ongemaklik en angstig oor my groot verlies en kom gee dan raad. Sommige sê: “Jy moet die Here prys en dankbaar wees vir …” of “Moenie voor die kinders huil nie dit ontstel hulle net” of “Jy moet nou sterk wees ter wille van ….” Al hierdie “goeie” raad wat mense uitdeel vertraag net die rouproses. Mense wat uiting gee aan hulle verdriet kom gouer by die aanpassingsfase. Die Bybel gee vir ons mooi voorbeelde van mense wat eg gerou het oor hulle verliese. Lees weer Job en merk hoe hy uiting aan sy emosies gee.

Ek mag maar op ’n sosiaal aanvaarbare wyse uiting gee aan my hartseer, woede, angstigheid, terneergedruktheid, sonder om skuldig te voel. Ons is so gemaak, om uiting aan emosies te kan gee. Trane is nie net daar om my oë skoon te was nie, maar ook om boodskappe aan my medemens te kommunikeer. ’n Verlies verhoog ook ’n mens se stresvlakke en ek sal dit ook moet kommunikeer en ’n manier moet vind om daaraan uiting te gee om sodoende te ontlaai. Stres tap ons energie en kan veroorsaak dat ek lusteloos is of nie kans sien om ’n nuwe taak aan te pak nie. Een van die sake wat die dood ons mee konfronteer is kontrole. Skielik voel ek dat ek nie kontrole het nie. “Ek kan môre sterf, ek het geen beheer daaroor nie.”

Ons het ook sterk behoefte aan emosionele ondersteuning, waar mense wys dat hulle omgee en daar is vir my. Dit word deur woorde of deur gebare of aksies oorgedra, byvoorbeeld ’n aanraking, gesigsuitdrukking, ’n handgebaar of ’n bord kos.

By sommige is daar die gevoel van kwesbaarheid en blootstelling. Almal wil kom simpatiseer, almal vra vrae, wil weet wat het dan nou gebeur, wat gaan jy nou doen? Jyself het nog nie antwoorde op al hierdie vrae nie.
Die fisieke: jou keel trek toe; droë mond; kort asem en benoudheid; leë en naar gevoel op maag; aptyt verlies; erge spanning kan spierstyfheid tot gevolg hê; spanning kan ook ’n bang gevoel tot gevolg hê en veroorsaak dat ek maklik skrik; voel sonder energie en krag.

Ons denke word ook duidelik geraak: ongeloof – ek kan dit nie begryp nie; dinge lyk onwerklik; glo ander sal nie verstaan nie; denke maal rondom die gebeure en steek vas by die verlies; gebrek aan konsentrasie; kan self verward raak of verdwaal in bekende omgewing; onlogiese denke.

Gedrag: kan aggressief raak; bang vir en vermy mense; rusteloosheid – ’n op en af lopery; begin nie aktiwiteite nie; moeilik om sake te orden; verlies van slaap of is gedurig vaak; droom meer en onthou die drome; huil maklik.

Neerslagtige en depressiewe gevoelens – moet ons medikasie neem of nie? Angstigheid met alles wat dit inhou; kla van baie “skete” aangesien ou pyne nou weer te voorskyn kom; misbruik van middels (pille of alkohol) kan voorkom.

3. Veranderinge en aanpassings
Rou kan verder gesien word as ’n deurtog van punt A na punt B. Daar is nou talle aanpassings wat gemaak moet word en dit sal natuurlik van mens tot mens verskil. Aanpassing beteken om sonder daardie kosbare iets aan te gaan met my lewe.
• Aanpassing by ’n nuwe status – ek was getroud nou is ek enkel; was die ouer van ’n kind, nou is ek dit nie meer nie; ek moet vir myself ’n nuwe identiteit ontwikkel. Wie is ek nou?
• Omgewingsverandering is meestal ook nodig. Kaste moet leeggemaak word, kamers word anders gerangskik en soms vereis dit ander verblyf. Hier moet ons net nie te haastig wees nie. Verhuising moet verkieslik eers plaasvind nadat die rouproses reeds ver gevorder het.
• Al hierdie veranderinge kan ook sosiale implikasies teweeg bring. My man se vriende kom nou nie meer oor nie.
• Nuwe verpligtinge kan nou op my gelaai word – nou moet ek die rekeninge betaal waar my vrou dit altyd gedoen het. Ek moet sorg dat die motor gediens word. My rol in die huis verander. Hoewel ek nie ’n pa vir my kinders kan wees nie, word ek nou “gedwing” om ook pa in ’n sekere sin te wees.
• My roetine kan nou heeltemal verander.

4. Nuwe begin
• ’n Belangrike taak van rou is herinvestering van energie. Wanneer ’n sportster se ster verskiet moet hulle hul energie in ander aktiwiteite kanaliseer – sommige van hulle word byvoorbeeld besigheidsmense. Na die dood moet ek ook leer om my energie wat in die geliefde persoon gegaan het nou op iets anders te rig. Jy pak vir die eerste keer ’n nuwe beroep aan of raak betrokke by liefdadigheidswerk.
• Daar ontstaan ’n sterk soeke na die sin van alles wat gebeur het. Sommige sal dadelik sê daar is nie sin in die dood nie; dis sinneloos. Dit is wel waar, maar ons soek ook na die betekenis van hierdie gebeure in my eie verhaal. ’n Verlies is tog net moontlik as die persoon deel van my lewe was, deel van my storie was. Hoe pas dit nou alles in my storie in? Waarom nou? Hoe gaan my lewe verloop sonder die persoon?
• Die rouproses is ook nie ’n egalige opwaartse pad nie, maar is eerder ’n proses van vorentoe beweeg en dan weer onttrekking. Ons waag dit na buite en dan het ons dit weer nodig om na binne te beweeg. Later word die na buite beweeg al hoe sterker.
• Verlies daag ons uit om na ons waardes en dit waarin ons glo te kyk. Skielik is dinge wat altyd baie belangrik was nou glad nie so belangrik nie. Skuldgevoelens oor dinge wat ons nagelaat het wat nou nogal belangrik lyk, pla ons. Dit waarin ek altyd vas geglo het, betwyfel ek nou. Is God regtig ’n God van liefde? Dit wat vir my sin gegee het en sin gemaak het, lyk nou so sinneloos. Skielik lyk die wêreld nie so ’n vriendelike plek nie, maar gevaarlik. Ek trek die goedheid van mens en God in twyfel.
• Ek moet my eie godsdienstige sin uit dit alles ontwerp. Sommige sê vir my: “God pluk die mooiste blommetjies in sy tuin.” “God het haar nodig gehad.” “God trek die streep en ons moet dit so aanvaar.” “Dit is beter waar sy nou is as hier op die aarde.” Wat is my antwoord op God se betrokkenheid in hierdie gebeure?
• Elke persoon rou teen sy of haar eie tempo. Tussen ouers wat ’n kind verloor het, kan probleme ontwikkel, want die een kan voel die ander gee nie om nie omdat hy/sy alreeds ’n ent verder gevorder het wat die rouproses betref.
• Sommige mense wil nie rou nie omdat hulle ’n verkeerde begrip daarvan het. “Ek wil nie rou nie want ek sal my kind/man nooit vergeet nie.” So ’n persoon dink om te rou beteken om van die geliefde afskeid te neem en van hulle te vergeet. Rou gaan nie oor vergeet nie, maar oor ’n internaliseringsproses. Die persoon wat altyd daar “buite” sigbaar en tasbaar was, word nou na “binne” gebring, “binne my rondgedra”. Wanneer ek so die persoon “na binne gebring” het, kan ek weer “na buite” iemand anders leer lief kry sonder dat die twee in stryd is met mekaar.

Die rou-proses kan ’n eensame pad wees, wat ons natuurlik self moet aanpak en deurvoer. Moenie jouself isoleer nie, reik uit na ander, praat met ander, soek hulp indien nodig. Gaan praat met jou geestelike leier, of met mense wat al self die paadjie geloop het. Kyk op die internet vir ondersteuningsgroepe in jou gebied, byvoorbeeld die ondersteunersgroep vir ouers wat ’n kind verloor het, die Compassionate Friends www.compassionate friends.org.za

Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. (Psalm 30:12)
Mag dit vir jou ook waar word.

Share this post