Om jou nie te bekommer nie

Lees Matteus 6:25-34

“Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer
sy lewe met een enkele uur verleng?” (v. 27).

Jesus sê belangrike koninkryksdinge in sy preek op die berg – almal weet dit. En almal besef hoe ingrypend dit is. Dit is nie verniet dat die toehoorders aan die einde van die preek verbaas was oor alles wat Hy gesê het, en veral oor die gesag waarmee Hy dit gedoen het nie (vgl. Matt 7:28-29).
Daar was darem die één keer dat Hy sekerlik te ver gegaan het, té idealisties was, té veeleisend. Die keer toe Hy aan sy volgelinge sê: “Moet julle nie bekommer . . . nie” (v. 25).
Hy wys wel prentjies wanneer Hy dit sê: “Kyk na die wilde voëls . . . Let op hoe groei die veldlelies . . .” (v. 28).
En Hy vra: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (v. 26). Buitendien versier God die gras wat môre verbrand word, sê Hy. En julle bekommer julle oor môre! Julle is gepla oor wat julle gaan eet en drink en aantrek.
Te midde van al julle bekommernisse sorg God vir julle.

Al hierdie dinge verkondig Jesus klaarblyklik met groot oortuiging. En ten minste sy hedendaagse toehoorders, ons, luister mooi.
En draai dan om en gaan voort om ons dood te bekommer. Oor alles wat môre gaan bring. En oor wat ons sal eet en drink
en aantrek.
Ons beplan ons hele lewe rondom ons bekommernisse: Ons loop nie ’n nuusuitsending mis nie; ons boer op die slimfoon en die alleswetende internet. Die kundiges wat toekomsscenario’s skets – veral dié wat minder rooskleurige prentjies teken – vind in ons ’n gewillige (en angstige) gehoor.
Ons bring ons dae só deur: vol toekomsvrese. En ons beweeg bewerig en onseker voort, en kla-kla. Wanneer ons ’n slag stilhou-kans kry, maak ons naarstig sommetjies. Bereken risiko’s, beplan hoe ons dit gaan versprei – en skud ten slotte die kop oor ons onvol-doende bates. Môre, sê ons vir onsself en vir almal wat wil hoor, môre is dit nág.
En dit alles terwyl ons ’n Here het. Een wat ewe vroom deur ons “Voorsienigheid” genoem word; Hy vir wie ons aan die oorlaaide etenstafel eerbiedig aanspreek as “die Gewer van alle goeie gawes”.
Hoe lank sal dit duur voordat ons Hom op sy woord glo? Wanneer sal ons begin glo dat Hy bewus is van alles wat ons nodig het? Dat Hy haarfyn weet hoe om tussen behoeftes en begeertes te onderskei? Dat Hy ons soms met laasgenoemde heerlik bederf, en dat Hy eersgenoemde in sy hande het – vir vandag en vir môre, en vir al die môres in ons lewe?

Here, baie dankie vir alles
wat ons vandag uit u hand ontvang het.
En dankie by voorbaat vir môre se sorg
wat U belowe het.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post