Om die Here met dankoffers te dien

Het ons geld iets met ons diens aan die Here te doen? Hoekom moet ons geld gee vir die Here se werk? En vir mense wat minder as ons het? Om dankoffers te gee is ’n diep geestelike saak. Dit is deel van ons diens aan God. Hoé ons dankoffers gee en óf ons ooit gee, wys presies hoe ons oor onsself en oor God dink; dit weerspieël ons verhouding met die Here.

Eienaars of bestuurders?  

Ons almal dink meestal aan onsself as eienaars. Ons het goed wat ons graag ons eie noem. Ons praat van my huis, my gemeente, my werk, my kind, my geld, my tyd of my lewe – so asof ons die eienaars daarvan is. Tog leer die Bybel dat alles op die aarde aan die Here behoort. Hy het dit gemaak.

Alles, ook onsself, behoort aan ons Skepper.

In Ps 24:1 staan:  “Die aarde en alles wat daarop woon, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here” en in Haggai 2:8:  “Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige”.

God skenk aan elkeen van ons ’n deel van hierdie eiendom sodat ons dit kan geniet, daarvan kan lewe, dit kan oppas en met ander kan deel. Maar dit bly sy eiendom, dit word nie ons s’n nie. Hy vertrou dit net aan ons toe. Hy stel ons aan as bestuurders oor sy eiendom. Hy vertrou ons om sy eiendom goed te bestuur, namens Hom, in sy diens en as sy verteenwoordigers.

In Lukas 12: 35-48 en 1 Petrus 10-11 lees ons die verhale van goeie bestuurders. In Matteus 25:14-30 gaan dit oor die verskil tussen goeie en slegte bestuurders. Die verhaal van Josef in Gen 37– 47 is ’n pragtige voorbeeld van ’n goeie bestuurder.  Jesus Christus was egter die volmaakte bestuurder wat Homself prysgegee het in nederige diens aan God die Vader (Filippense 2:3-8).

In Lukas 12:13-22, 16:1-13 en 19:11-27 lees ons van slegte en dwase bestuurders. Dit is mense wat dink dat alles aan hulle self behoort. Hulle vergeet dat hulle net bestuurders is; hulle tree as eienaars op.  Daarmee beroof hulle vir God van sy eiendom. Geld en besittings neem dan die plek van die ware God in hulle lewe in. Hulle word slawe van hul besittings. Die Bybel waarsku baie teen gierigheid (1 Timotheus 6:10) en teen die aanbidding van Mammon, die afgod van geld en besittings: “jy kan nie God en Mammon dien nie” (Matteus 6:24).

Om met nuwe oë na ons geld en besittings te kyk. 

Wanneer die Here ons verlos van hierdie sondige geaardheid, besef ons dat ons nie meer aan onsself behoort nie, maar dat ons eie lewe en alles wat ons het aan die Here behoort. Dan kyk ons met nuwe oë na alles wat God elke dag aan ons gee: ons lewe, ons gesondheid, ons familie en vriende, kos en klere, ’n huis, verstand en krag om te werk, oë en ore, hande en voete.

Die Here gee ook vir ons die aarde en die natuur waarbinne en waarvan ons leef. Met nuwe oë sien ons dit alles as genadegeskenke uit God se hand. Hy gee dit vir ons om dankbaar te geniet, maar Hy stel ons ook aan as bestuurders daarvan. God wil hê dat ons verantwoordelik daarmee sal werk en dat ons dit met ander sal deel. Ons mag dit nie net vir onsself hou nie. Met ons gawes en talente, ons geld en ons tyd, moet ons Hom dien, waar Hy ons ook al geroep het om te werk en te leef.

Met die geld wat God ons gee moet ons vir ons gesinne sorg. Ons moet verantwoordelik werk met ons geld en dit nie op nuttelose dinge mors nie. In                     1 Timoteus 5:8 word ouers wat nie hard werk en goed vir hulle gesinne sorg nie, skerp aangespreek.

Met die geld en besittings wat die Here ons gee moet ons ook sover as moontlik vir ander mense in nood sorg (Efesiërs 4:28). Met ons nuwe oë sien ons raak waar daar nood is en leer ons hoe om op die beste manier te help.

Die egtheid van ons geloof word getoets daaraan of ons ander se nood raaksien en iets doen om te help. (Matteus 6:1-4, Markus 10:17-30, Matteus 25:31-46 en Jakobus 2:14-17). Dit alles doen ons uit dankbaarheid, met vreugde. Jesus self het gesê: “Om te gee maak mens gelukkiger as om te ontvang” (Handelinge 20:35).

Dankoffers – wat die Bybel ons leer. 

Ons word geroep om ’n deel van ons geld te gee vir die werk wat die Here in en deur sy kerk doen. Oor die dankoffers wat ons aan die kerk moet gee, word daar op baie plekke in die Bybel gepraat.

In die Ou Testament het die wet gesê dat elke Israeliet een tiende van hulle inkomste aan God moes gee (Levitikus 27:30-32). Dit het na die priesters en Leviete gegaan wat in die tempel diens gedoen het. Hulle het op hulle beurt ook ’n tiende van hulle inkomste as offers gegee (Numeri 18:26). Die eersgeborenes van die diere het ook aan God behoort. Daarby het die gelowiges ook spesiale dankoffers gegee om die tempel te bou en te  sorg dat dit in ‘n goeie toestand bly (2 Konings 12:9-14, 1 Kronieke 29.) Die een tiende beteken veral ook die “eerste” tiende, met ander woorde die beste deel van wat ons het.

In die tyd van die profeet Maleagi het die mense gekla dat God hulle nie genoeg geseën het nie. Hulle het gesê God het hulle nie lief nie (Maleagi 1:11-14). Die profeet se antwoord was dat die fout by hulle dankoffers lê. Die Here verwag dat ons die heel beste van ons besittings aan Hom sal offer, maar hulle het siek en gebreklike diere vir die Here gebring. Met sulke offers het hulle eintlik die Here beroof.

En dan daag die profeet die gelowiges uit om hulle volle dankoffers te bring en God te vertrou dat Hy hulle sal seën (Maleagi 3; 6-12). Wanneer ons dankoffers gee, is dit ’n teken van ons dankbaarheid en ons vertroue in die Here.

Toe Jesus oor die gee van tiendes gepraat het, het Hy verwys na die Fariseërs wat die gee van ’n tiende as ’n streng wet op mense afgedwing het, tot in die kleinste krummeltjie toe. Intussen het hulle egter van veel belangriker sake vergeet, soos om barmhartig te wees, om regverdig op te tree en betroubare bestuurders te wees (Matteus 23:23).

Nie net met tiendes nie, maar met ons hele lewe behoort ons die Here en ons naaste te dien. In Markus 12:41-44 wys Jesus vir sy dissipels hoe die arm weduwee haar laaste bietjie geld in die offergawekis by die tempel kom gooi. Dankoffers gaan daaroor dat ons die Here met ons hele lewe dien en Hom volledig vertrou.

Ons dankoffers moet ook nie net vir die werk in ons eie gemeentes gaan nie, maar ook vir ander gemeentes wat swaarkry. In 2 Korintiërs 8 en 9 skryf Paulus oor die vrygewigheid waarmee die gemeentes in Masedonië geld ingesamel het en vir die arm gemeentes in Judea gestuur het. Elkeen het bygedra volgens vermoë, party het selfs meer as hulle vermoë bygedra. Dit het hulle met blydskap gedoen, uit dankbaarheid vir al die Here se gawes aan hulle. Dit is vir die Here baie belangrik dat daar in die kerk groter eweredigheid kom; terwyl party oorvloed het, mag ander nie gebrek ly nie. Daarom moet ons mekaar met ons gawes dien.

Praktiese riglyne oor die gee van dankoffers:

Om dankoffers te gee is ’n belangrike deel van ons diens aan God. Dit is ons erediens. Daarom is dit ’n goeie gebruik om ons dankoffers binne die ere-diens op Sondag te kom gee. Dit help ons onthou dat ons hele lewe aan God behoort en dat alles wat ons het, van God af kom.

Wat behoort ons te gee? Elkeen behoort die        beste te gee wat hy of sy kan, na ons vermoë. Een tiende van ons inkomste bly ’n goeie riglyn. Ons moet geld gee, maar ook ons tyd en ons talente. In party kerke is daar nog die gebruik dat lidmate ’n klein ver-pligte bydrae gee, amper soos mens lidmaatskap betaal om aan ’n organisasie te behoort. Daarmee betaal jy dan vir sekere voorregte in die kerk. Gewoonlik is die bydraes baie klein en bly dit vir jare dieselfde. Dit is ’n verkeerde gebruik. Gemeentes wat op dié stelsel werk, groei nooit tot selfstandigheid nie. Dankoffers is iets heeltemal anders as om “te betaal om ’n lidmaat van die kerk te wees”; dit is ook veel meer as die klein verpligte bydrae. Waar lidmate begin om egte dankoffers te gee, gaan dit gou baie goed met die gemeente.

Hoe moet ons gee? Met dankbaarheid en vrygewigheid. Dit is ’n mooi gebruik as lidmate in die ere-       diens self hulle dankoffers vorentoe bring, soms selfs al singende en dansende. Dit wys hoe dankbaar ons teenoor die Here is. Dit is egter nie verkeerd as gemeentes dankoffers ook op ander maniere by lidmate gaan haal, byvoorbeeld deur te kollekteer of ’n basaar te reël nie. Maar dan moet die insameling met ywer en blymoedigheid gedoen word, as liefdeswerk vir die Here (2 Korintiërs 8:11).

Hoekom gee ons? Omdat ons elke dag soveel uit God se hand ontvang (2 Korintiërs 8:7). En veral omdat Hy sy Seun Jesus Christus gegee het as offer vir ons sonde. Daarom gee ons uit dankbaarheid. Wanneer ons gee, getuig dit van ons vertroue in God. Ons stel daarmee vir ander ’n voorbeeld en ons help om die bediening in en deur die kerk moontlik te maak. Deur dit alles word God verheerlik.

Is daar verkeerde motiewe om dankoffers te gee? Ja, dit is byvoorbeeld belangrik dat ons nie sal gee sodat ons deur ander gesien kan word nie. Dan gaan dit meer oor onsself, oor ons eie mag en invloed, as oor God. Dit is verder ook baie belangrik om nie God se seën te probeer verdien met ons dankoffers nie. Daar is vandag predikers wat ’n  “voorspoed godsdiens” verkondig. Hulle beweer dat hoe meer ons vir God gee, hoe meer sal God ons seën met rykdom en gesondheid en geluk. Dit is ’n gevaarlike beskouing wat ons nie in die Bybel kry nie. So ’n godsdiens gaan net oor die mens se eie behoeftes, oor hoe ons God se arm op allerhande maniere kan draai om ons voor-spoedig te maak. Dikwels gaan dit om die kerkleiers wat self baie ryk word uit die bydraes wat hulle op allerhande maniere uit die lidmate pers. Nee, dankoffers gaan om dankbaarheid en diens aan God en nie in die eerste plek om wat ons daardeur kan verdien nie.

Hoe behoort die kerk met dankoffers te werk? As goeie bestuurders moet kerkleiers baie verantwoordelik werk met die kerk se geld. Dit moet gebruik word om die kerk se eiendom in stand te hou. Dit moet ook gebruik word vir die kerk se werk, in die gemeente, maar ook buite die gemeente. Dit is belangrik dat die leraars of voltydse werkers in die gemeente ’n leefbare salaris moet kry (1 Timoteus 5:18). Dit is goed as bedienaars van die Woord hulle nie hoef te bekommer oor waarvan hulle moet leef nie. Hulle volle aandag moet aan die Here se werk gegee word. Waar dit egter nie moontlik is om hulle voluit te versorg nie, moet leraars ook toegelaat word om ’n ander werk as inkomste te doen. Om verantwoordelik met die Here se geld te werk, beteken ook dat daar behoorlik boekgehou word van die geld en dat daar gereeld rekenskap gegee word van die geld. Een persoon of ’n klein groepie behoort nooit alleen met die geld te werk of daaroor te besluit nie. In 2 Korintiërs 8:20 is dit nogal ’n belangrike beginsel dat mense saam verantwoordelikheid vir die geldsake neem; daardeur word vertroue geskep en kan mense met vrymoedigheid dankoffers bly gee.

Beloftes van seën 

Natuurlik is daar baie beloftes van seën as ons die Here met dankbaarheid dien. Daarvan is die Bybel vol, byvoorbeeld: “God het die blymoedige gewer lief.”      (2 Korintiërs 9:7). Die belangrike waarheid is egter: die Here seën ons uit genade en nie omdat ons dit verdien of Hom met ons dankoffers probeer omkoop nie.

Die Here seën ons, sodat ons vir ander tot seën kan wees. En sodat ons God sal vereer, ook met die geld en besittings wat Hy aan ons as sy bestuurders toevertrou het.

ϖ ϖ ϖ

Share this post