Om aan te hou roep

 

Lees Lukas 18:1-8

“Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!” (v. 8).

Om met die Koning te praat is vir baie koninkrykskinders ’n moeilike saak. Hulle wonder: Wat vra jy Hom nou eintlik? Wat is daar wat Hy nie weet nie? Waarmee kan jy Hom verras?
Jesus se verhaal oor die waarde van aanhoudende gebed lewer meer as een verrassing op. Kyk dan net hoe lyk die rolverdeling: ’n nare ou regter, en ’n desperate weduwee. ’n Man met alle moontlike mag, en die geneigdheid om dit te gebruik, omdat hy nie vir God of mens enigiets voel nie. En ’n vrou, sonder man of aansien, maar met wilskrag en deursettingsvermoë wat haar ongetwyfeld in die warm water sal laat beland, veral by ’n ellendeling soos daardie regter.
Of nié. Want die regter word so moeg vir die vrou se aan-houdende gesoebat dat hy ten einde laaste toegee. Onderneem om haar te help. Ook maar mens, ook maar versigtig vir desperates, want straks “kom klap sy my op die ou end ook nog” (v. 5).
Aan die einde van hierdie verhaal klink Jesus die spyker netjies om: As die onregverdige regter só maak, hoe sal die regverdige, genadige God dan anders maak? Hy sal wel veel gouer help!
Maar toe kom die verrassende uitroep uit Jesus se mond, die boerpotvraag: “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (v. 8).

Sal Hy mense vind wat volgehou het met hulle geloof in die goeie God? Mense wat bly leef het in die besef van hulle afhanklikheid van Hom? Wat Hom ’n leeftyd lank vertrou het met hulle intieme versugtinge? Wat vol hoop bly vra het dat Hy moet ingryp?
Want Hy is immers ons enigste hoop in lewe en in dood. En dan, Goddank, nie ’n “hoop vir die beste” nie, maar ’n lewende, kragtige hoop. Vol liefde en goedheid. Immer gereed om sy kinders te omarm, te help en moed in te praat. Sodat hulle, hierdie koninkrykskinders, getroos kan lewe in die wete dat daar ’n oor is wat hulle hoor en ’n oog wat op hulle gerig bly. En altyd, áltyd ’n hand wat na hulle toe uitgesteek word.
En die beste van alles: Daar is ’n volmaakte, Goddelike tydsberekening in die Koning se doen en late. Sy “gou” (v. 8) is nie noodwendig gelyk aan ons “dadelik” nie; deur die genade is sy ingrype altyd volgens sy hemelse horlosie. En dit, weet ons almal, is die regte tyd.

Liewe Here, wanneer ek terugkyk op u tallose ingrype in my lewe – dié waarvoor ek gesoebat het
én daardie kere dat U opgetree het
sonder dat ek daarvoor gevra het –
dan sing ek, vol verwondering: “Hoe groot is U!”

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post