Nagmaal

Die fees waar God self die gasheer is

Die nagmaal is spesiaal. In baie kerke is dit die belangrikste erediens; in kleiner gemeentes is dit dikwels die enigste tyd wat die leraar self teenwoordig kan wees. Daarom doen lidmate moeite om by die nagmaal uit te kom. Hulle berei hulle voor, trek mooi aan, kry hulle dankoffers gereed …

Verskillende sienings en gebruike

Nagmaal word op verskillende maniere verstaan en gevier. Sommige kerke vier elke Sondag nagmaal, ander nie so gereeld nie. By party is dit ’n heel stemmige geleentheid, met die voorlees van formuliere en vaste gebruike; by ander is dit ’n spontane, vrolike fees, vol sang en dans en beweging.

Die betekenis wat aan die brood en wyn gegee word verskil ook. In die Roomse mis word geglo dat die brood en wyn regtig in die liggaam en bloed van Jesus verander; die offer aan die kruis word herhaal. In Afrika Onafhanklike Kerke word geglo dat die brood en wyn soos ’n geneesmiddel werk; dit bring gesondheid, voorspoed en lewenskrag.

Kerke gebruik ook verskillende tekens. Meestal word brood en wyn gebruik. Party verkies druiwe-sap of gekleurde sap. Daar is ook kerke wat ander voedselsoorte uit hulle alledaagse lewe gebruik – ’n koekie van mieliemeel, aartappel of piesang en water of heuning. Jesus het gewone dinge, brood en wyn, uit sy leefwêreld gebruik. Die tekens self is nie spesiaal nie, solank dit net op ’n sinvolle manier heenwys na sy liggaam en sy bloed.

Kerke heg baie waarde aan wie die nagmaal mag bedien. Soms gebruik net die priester die wyn, namens die gemeente. By ander word die status van ’n leraar aan die uitdeel van die nagmaal verbind; net die leraar mag nagmaal bedien. Dit gebeur egter al hoe meer dat enige gelowige, byvoorbeeld die vader in die huis, nagmaal bedien.

Daar word op verskillende maniere voorberei-ding vir nagmaal gedoen. Meeste kerke het die Sondag voor nagmaal ’n spesiale voorbereidingsdiens. Dan word verduidelik hoekom die nagmaal so belangrik is en lidmate aangemoedig om hulle lewe baie deeglik te ondersoek. By die Sioniste moet die gemeente hulle byvoorbeeld voor die Here verneder, hulle moet bid en vas en hulle sondes aan die biskop of in die openbaar bely. Omdat die voorbereiding so streng is, gebruik party lidmate nie nagmaal nie; hulle voel te onwaardig en onrein.

Ongelukkig maak party kerke van die nagmaal ’n wettiese ding. Hulle dink die nagmaal is net bedoel vir mense sonder sonde. Daarom word nagmaal ook as kerklike straf gebruik: as jy iets verkeerd gedoen het of as jou geldelike bydraes vir die kerk nie voluit betaal is nie, mag jy nie nagmaal gebruik nie! Dit is jammer dat hierdie verskillende sieninge van die nagmaal dikwels tot spanning en skeuring in die kerke lei – iets wat Jesus juis nié met die nagmaal bedoel het nie!

Wat leer die Bybel ons oor die nagmaal? 

In die eerste drie evangelies word die verhaal van die instelling van die nagmaal vertel (Matteus 26:17-30, Markus 14:12-26 en Lukas 22:7-23). Die nag voordat Jesus verraai en gekruisig sou word, het Hy self die nagmaal ingestel. Hy het die dissipels beveel om die “maaltyd van die Here” te bly vier. In die evangelie van Johannes word na die “breking van brood” verwys (Johannes 6:22-59) – Jesus Christus is die brood van die lewe. In Lukas 24:13-35 word vertel hoe die Emmausgangers se oë vir die teenwoordigheid van die opgestane Here oopgegaan het toe Hy vir hulle die brood gebreek het.

In Handelinge lees ons hoe die eerste gemeente na die uitstorting van die Heilige Gees gereeld in mekaar se huise byeengekom en die gemeenskaplike maaltyd gevier het (Handelinge 2:42). Ook by ander geleenthede is “brood gebreek” (Handelinge 20:7 en 27:35). In die vroeë kerk is die nagmaalsdiens, as die belangrikste erediens op Sondae, eers die “breking van brood” of “gemeenskap” genoem. Dit was ’n gemeenskaplike ete, waar gelowiges rondom die tafel saam na die Skriflesing en prediking geluister het en saam gebid het. Die ete het opgewerk tot by die punt waar dieselfde dinge gedoen is wat Jesus by die laaste ete gedoen het. Die doel was om die dood en opstanding van Jesus te onthou. Lof en danksegging was ’n belangrike deel van so ’n diens. Later is die ete weggelaat en die breek van die brood en die drink van die wyn het die belangrikste tekens geword.

In Paulus se brief aan Korintiërs word die instelling en viering van die nagmaal die duidelikste beskryf. Die Here Jesus Christus het self die nagmaal ingestel met die gebruik van brood en wyn. Paulus dra hierdie boodskap in 1 Korintiërs 11:23-26 oor: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so ook het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis’. Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” In die Here se maaltyd vier ons die gemeenskap met die opgestane Christus (1 Korintiërs 10:16) en sien ons uit na die volle gemeenskap wanneer die koninkryk van God volledig kom. Dit is ook die viering van ons as gelowiges se gemeenskap met mekaar – in Christus word ons as een liggaam aan mekaar verbind. In 1 Korintiërs 14:16 word gefokus op danksegging (eucharistie) aan God vir die gawe van verlossing deur Jesus Christus.

Waar kom die nagmaal vandaan?

Die nagmaal se wortels strek ver terug in die geskiedenis van Israel. Die Israeliete was slawe in Egipte. Omdat Farao nie vir Moses wou toelaat om die Israeliete te laat trek nie, het die Here Egipte met plae gestraf. In die nag van die laaste plaag het die oudste seun in elke Egiptiese huis gesterf. Maar op God se bevel is daar in elke huis van die Israeliete ’n lam geslag en die bloed daarvan aan die deurkosyne gesmeer. Die engel van die dood sou nie ingaan by die huise waaraan die bloed gesmeer is nie, maar verbygaan. Hierdie fees is die “Pasga” genoem, wat “verbygaan” beteken. Die Israeliete het elke jaar die “Pasga” of Paasfees gevier, as herinnering aan die nag toe die dood by hulle verbygegaan en hulle uit Egipte verlos is. Dit het ook vooruit gewys na die dood van Jesus Christus, die Lam van God wat sou kom en deur wie se bloed mense verlossing en lewe sou ontvang.

Wat beteken dit dat die nagmaal ’n heilige sakrament is?

Die Heidelbergse Kategismus verduidelik by Sondag 25-28 dat Christus in die Nuwe Testament net twee sakramente ingestel het: die heilige doop en die heilige nagmaal.

Sakramente is tekens en seëls wat God self ingestel het. Deur die sigbare tekens help die Heilige Gees ons om die belofte van die evangelie te glo en beter te verstaan. Dit is egter meer as net tekens; dit is ook seëls, dit is ’n waarborg, dit verseker ons dat ons deel het aan al Christus se verlossingsdade. In die sakramente lê die klem nie op dit wat ons vir die Here doen of op ons offer aan Hom nie, maar volledig op dit wat die Here alles vir ons gedoen het – sy offergawe aan ons.

Wat vier ons alles in die nagmaal?

In die nagmaal vier ons die verbintenis of verbond tussen Christus en sy gemeente; dit word elke keer opnuut vasgeknoop.

Die nagmaal is ’n maaltyd van onthou. By die instelling van die nagmaal het die Here gesê: “Gebruik dit tot my gedagtenis” (Luk 22:19). As ons sien hoe die brood gebreek en die wyn geskink word, dan onthou ons hoe Christus se liggaam gebreek en sy bloed gevloei het. Ons dink daaraan hoe groot sy lyding was – alles net ter wille van ons!

Die nagmaal is ’n seël, ’n waarborg. Daarom sê Jesus: “Dit is my liggaam” en “Dit is my bloed” (Matteus 26:26, 28). So seker as wat die brood voor ons oë gebreek en die wyn geskink word en ons daaraan kan vat en voel, dit kan ruik en proe – met al ons sintuie kan ervaar – so seker het ons deel aan Christus, aan sy sterwe en sy opstanding. Hierdie waarborg staan so vas, dis asof onsself al die straf vir ons sonde gedra het! Dis nie op ons gevoelens of ons eie oortuigings gebou nie; dis God self wat dit waarborg.

Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. Die nagmaal help ons om in ’n verhouding met die Jesus Christus te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus self by ons teenwoordig. En, deur dieselfde Gees word ons, al is ons ook hoe verskillend van mekaar, as lidmate van die één liggaam van Christus in liefde aan mekaar verbind (1 Korintiërs 10:17).

Die nagmaal verkondig wat ons in die toekoms kan verwag. Ons het in die nagmaal die versekering dat die opgestane Here naby ons is. Tog kyk die gemeente in die nagmaal ook vooruit na Christus se wederkoms. Die nagmaal versterk ons hoop. Ons kan verseker weet: wanneer Jesus weer kom, sal Hy alles, die hemel en die aarde én onsself, nuut en heel maak en sal “God alles… vir alles” wees (1 Korintiërs 15:28). Met die viering van die nagmaal verlang die kerk as bruid van Christus na die bruilofmaaltyd van die Lam, waar ons as oorwinnaars nuwe wyn saam met Christus in sy Vader se koninkryk sal drink (Matteus 26:29).

Die nagmaal is ’n vreugdefees. Al gaan die tekens oor die lyding en sterwe van Jesus Christus, sy liggaam wat gebreek en sy bloed wat gestort is, is die nagmaal regtig nie ’n hartseer saak nie. Dis ’n vreugdefees! Dis die fees waar die Here die vrug van sy lyding, sterwe en opstanding aan ons uitdeel – verniet, uit genade alleen. En, hierdie genadegeskenk mag ons neem en ook aan ander uitdeel. Die nagmaal is ’n heerlike voorsmakie van die hemelse fees wat kom!

Die nagmaal is daarom ook ’n fees van dankbaarheid. Die Heilige Gees verseker ons deur die tekens van brood en wyn van die verlossing in Christus. Ons vier die nagmaal met groot dankbaarheid, ’n dankbaarheid wat nie anders kan as om oor te spoel in ons lewe van elke dag nie.

Wie mag nagmaal gebruik?
Hoe moet ons naderkom?

By Sondag 30 leer die Heidelbergse Kategismus wie na die nagmaalstafel van die Here mag kom: mense wat weet dat hulle sondaars is, wat daaroor berou het, maar wat ook glo dat Jesus hulle sonde vergewe het – mense wat dus die verlossing in Christus dankbaar ontvang en met vreugde vier.

1 Korintiërs 11:17-34 en 2 Korintiërs 13:5 leer dat elkeen hom of haarself moet ondersoek voor die nagmaal gebruik word. Hierdie selfondersoek bestaan uit drie dele:

Ek moet my sonde raaksien, daaroor berou hê en myself voor God verneder.

Ek mag en moet in die geloof vashou daaraan dat al my sondes ter wille van Christus vergewe is.

Ek moet my voorneem om Jesus met my hele lewe te volg en Hom lief te hê, uit dankbaarheid vir sy verlossing.

Leef vanuit die Nagmaal!

Die nagmaal het ’n ryke en diepe betekenis; ons almal behoort dit meer en met groter oorgawe te vier. Dit sit in die hart van die erediens, dit is waar Jesus Christus ons ontmoet en die tekens van sy verlossing aan ons uitdeel. Dit is waar ons as gelowiges aan Hom en aan mekaar gebind word, waar ons gevoed en getroos word en vanwaar ons die wêreld ingestuur word om tekens van die Here se genade met woord en daad verder uit te deel. Die nagmaal is ’n fees; vier dit met vreugde. Want, in hierdie fees is die Here God self die gasheer!

Share this post