’n Koninklike plig

Lees Matteus 18:21-35

“Die koning het hom jammer gekry,
hom laat gaan en sy skuld afgeskryf” (v. 27).

Om sewe keer te vergewe is darem sekerlik genoeg. Sê-vra Petrus, maar Jesus maak ’n ander sommetjie: “selfs sewentig maal sewe keer” (v. 22).
En toe, soos sy gewoonte was, vertel Hy ’n storie. Sodat Petrus en ander selfversekerdes Hom duidelik kon hoor. Oor die amptenaar wat, kniediep in die skuld, die koning om uitstel gesmeek en allerlei beloftes gemaak het. En toe kry die koning hom jammer en gee hom uitstel.
Net halfpad reg! Nee, die koning kry hom inderdaad jammer . . . en skryf ál die skuld af. Sommer net so.
Wat sou die koning in ruil hiervoor verwag? Sekerlik dat sy voorbeeld van lankmoedigheid gevolg sal word, ten minste. Helaas. Daardie hoop beskaam op die kruuste denkbare manier: Die eens pleitende amptenaar word nou ’n selfversekerde baas en gryp en wurg en dreig.
Natuurlik hoor die koning dit en woedend roep hy die man, op sy naam: “Jou skurk!” (v. 32).
Hierdie hartverskeurende verhaal is alte bekend, eintlik té bekend. Want “bekend” maak mos . . . gesellig. Tog te maklik om aan te hoor, net om dit ewe gemaklik te vergeet.
Ons vergeet dat dié storie Jesus se uitgebreide antwoord op Petrus se vraag was, en dalk is dit omdat daardie vraag eintlik maar ons almal s’n is: Hoeveel keer moet ek vergewe? Ons verontwaardige vraag: Here, moet ek dan toelaat dat mense oor my loop? Toekyk hoe hulle nie hulle woord hou nie en my herhaaldelik skade aandoen?
Maar ons vergeet gerieflik dat ons koninkrykskinders is, bevoorregtes, en dat ons daarom van beter behoort te weet. Ons weet mos hoe ons vergewe is, en wat dit gekos het. En dat daardie vergifnis onvoorwaardelik is. Dat daar nie ’n “ja, maar . . .” in ons Here se woordeskat is nie. Nooit ’n “ek sal jou nog een laaste kans gee” nie.
Die koninkryk se kinders bestaan vanweë vergifnis. Ons mag nooit vergeet dat ons koninkrykskinders geword het juis omdat die Koning ons vergewe het nie. En dat Hy, die Liefde wat nie boekhou van die kwaad nie – ook nie van die kwaad wat sy eie kinders Hom aandoen nie – tog noukeurig let op hierdie vergifniskinders se optrede wanneer hulle te na gekom word. Ons het immers die dure plig om te vergewe soos ons vergewe is.
Ons moet tog nooit ons koninkrykspligte vergeet nie. Die gevolge van sulke vergeetagtigheid, sê Jesus, is te erg om aan te dink.

U spreek my vry, Here!
Bevry my ook van haat en woede.
Leer my vergewe.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post