My Kind is Gay

My kind is gay

Knieë naby mekaar in ’n kringetjie

Buite die vensters is die hele wêreld groen soos in Ierland, maar dit is die Vrystaat ná oorvloedige reën. Ons sit in ’n klein-groepkringetjie tydens ’n skryfskool vir jong, opkomende Christen-skrywers. Ons praat oor temas wat die werklike nood en vrae van 21e eeuse kinders van die Here aanspreek.

En hoeveel is daar nie! Mag ons met wat nou op mediese gebied tot ons beskikking is, ons eie sterfdatum kies? Hoe vergewe ek die een wat my kind of lewensmaat vermoor het? Hoe bly ons glo, binne ’n moderne wêreld? Hoe gemaak met eensaamheid? Die temas word net meer en meer.

Die vraag oor die slotparagraaf

Dit is oopkop-jongmense dié, denkende, Gees-vervulde jong Christene. Ons kliek soos wat vloerteëls met mekaar saamkliek. Ek vra die vraag waarop ek so lank al ’n antwoord soek, en terwyl ek dit vra, gaan daar ’n skietgebed deur my: “Praat met ons, Here.”

“Watter slotparagraaf sal julle skryf indien julle net duisend woorde moet skryf vir die ouers van ’n jong Christen wat pas vir hulle gesê het dat hy/sy gay is?”vra ek vir die groepie jong Christene. “Of dalk het die jongmens nog nie uit die kas gekom nie: dalk begin die ouers net die aanvoeling kry dat hulle kind ’n groot innerlike worsteling beleef.”

Waarom so ’n vraag?

Die groepie jong Christene vra nie waarom hulle met hierdie vraag gekonfronteer word nie. Hulle weet.
Talle van hulle gay vriende wil nie met ’n tang aan tradisionele Christenskap raak nie. Hulle wil nie meer kerk toe kom nie. Hulle is verwond deur Christenmense se uitsprake en oordele oor hulle seksuele oriëntasie, deur hulle ouers se onbegrip. Niemand kom immers ooit maklik uit die verwarring, aanvanklike geheimhouding, emosionele en geestelike stryd van die tyd wanneer hy/sy oor sy/haar seksuele oriëntasie twyfel, tob en wroeg nie.
Tienduisende Christenjongmense rol snags meer in hierdie vertwyfeling rond as wat hulle ouers ooit oor negatiewe bankbalanse, aflegging by die werk, Ouma se Alzheimersiekte, ’n knop in die bors of prostaatkanker rondrol. Oor prostaatkanker begin ’n man later praat. ’n Negatiewe bankbalans kan jy met jou vrou bespreek. Maar gestel jy moet dit aan jou pa en ma, wat dink jy is heteroseksueel soos hulle, onthul dat jy weet of dink dat jy gay is?
Waarom so ’n vraag? Omdat ’n kind wat met sy/haar ouers oor sy/haar seksuele oriëntasie praat, broos, weerloos, ontbloot, bang en uitgeput van baie nagtelike rondrol voor die ouer kom staan. Omdat die ouer se reaksie daardie kind kan maak of breek. Omdat die ouer se reaksie die liefde, genade en wysheid van Christus moet reflekteer. Omdat die kind in die oomblikke van naakte eerlikheid, weerloosheid en groot vrees en benoudheid niks anders as die gesindheid van Christus in sy/haar ouer mag beleef nie.
Wat antwoord Jesus?

Jesus Christus reik na mense uit: die vrou met jarelange bloedvloeiing wat haar onrein gemaak het volgens die Wet, die skelm groeigestremde klein tollenaar Saggeus, lastige, pleitende ma’s, woelige kindertjies, skares mense wie se mae skree van die honger, ’n man wat stoksielalleen tussen die grafte woon en homself met potskerwe stukkend krap, gewone mense met vrae en twyfel. Aan elkeen van hulle bied Hy die geleentheid om ’n lewe in die Koninkryk van God te leef, op die aarde en later in die hemel. Om elkeen van hulle slaan Hy sy arms, nooi Hy uit om in verhouding met Hom te lewe. En geeneen van hulle sou die koninkryk van die hemel ingaan op grond van enigiets anders as sy plaasvervangende kruisdood vir hulle diep verdorwenheid, hulle sondige aard en hulle sondes nie. Vir elkeen van hulle geld sy belofte en sy voorwaarde: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee”. Johannes 6:47-48

Daardie tollenaar se ruim bydraes tot die tempelskatkis na sy bekering sou nie vir hom die ewige lewe bekom nie. Daardie mammas se heteroseksuele oriëntasie sou nie vir hulle die ewige lewe verwerf nie.
As een van daardie kinders ’n gay tiener-ouboet gehad het wat ook eenkant na Jesus staan en luister het en Hom as Messias van die wêreld erken en bely het, ja, as sy eie Verlosser en Saligmaker, sou sy gaywees nie die ondeurdringbare muur tussen hom en ’n lewe in Christus gewees het nie. Onvoorwaardelik sou Jesus sy arms om hom geslaan het. Ook hy sou gered word deur die bloed van die Lam wat die sonde van die wêreld wegneem.

Asi, een van die pragtige jongmense in ons groepie het haar antwoord op dié vraag diep uit haar gelowige hart gegee: “As ek daardie ouer was, sou ek vir my kind gesê het: “My kind, ek weet jy is op ’n reis met die Here. Dit is ’n moeilike stuk van jou lewensreis. Ek het jou so-o-o lief. Dit moet jy altyd weet: Ek het jou so ontsettend lief. En dit moet jy weet: Ons as ouers bid vir jou, vir dié fase van jou reis met die Here.”

Die jongmense het verduidelik: “As ’n mens met enigiets in jou lewe worstel en iemand in jou vertroue neem, kan dit gebeur dat jy:

• met woorde aangeval word;
• moet hoor hoe bitterlik teleurgesteld jou vertroueling in jou is;
• moet hoor hoe geskok jou vertroueling is;
• met allerlei vooroordele gekonfronteer word, ’n reg of verkeerd benadering;
• voor die eis gestel word dat jy jou depressie, seksuele oriëntasie, drankprobleem, akade-miese prestasie of spirituele insinking moet regkry, anders verwerp jou vertroueling jou.

Dan gaan jy wegvlug van die een wat jy as jou vertroueling beskou het. Jy gaan ander soek wat jou nie verwerp nie.”
Daar is ’n beter weg. Op die eerste skof van ons kind se lang reis kan ons ons arms oopmaak soos ons hart.
Ons kan hom/haar styf vashou en in die gees van Christus vir hom/haar sê:
“My kind, ek weet jy is op ’n reis met die Here. Dit is ’n moeilike stuk van jou lewensreis. Ek het jou so-o-o lief. Dit moet jy altyd weet: Ek het jou so ontsettend lief. En dit moet jy weet: ons as jou ouers bid vir jou vir jou volle reis met die Here. Weet vandag: die Here is hier by ons, en Hy het jou nog liewer as wat ons jou het.”
So ’n antwoord is opreg, sonder oordele of om voor te gee ons het al die antwoorde. So ’n antwoord is wys, want dit skep ’n veilige, liefdevolle ruimte. So ’n antwoord bring heling, vir jou kind en vir jouself en vir julle verhouding.

Is wysheid nie beter as dwaasheid wat verwond en vervreem nie?

• “Wie het werklik wysheid? Wie kan verklaar wat gebeur? Wysheid maak ’n mens vriendelik, dit verander ’n strak gesig.” Prediker 8:1
• “Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase.”
• “By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig. Hy gee lig in donker dieptes, Hy maak donker plekke lig.” Job 12:13,22
• “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Jakobus 1:5.
• Die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vrede-liewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak. Jakobus 3:17-18.
Maretha Maartens

Share this post