Magteloos – of nie?

Ek het reeds op skool met die agtervoegsel “loos” kennis gemaak. “Loos” beteken “sonder”, en dit dui op die afwesigheid van iets. Soms is die betekenis positief. Wie wil nou nie ’n vlekkelose gelaat of sorgelose bestaan hê, of blaamloos voor die regbank staan nie. Ander kere weer dui dit die afwesigheid van iets wat jy graag sou wou hê. Moedeloos … Hopeloos … Toekomsloos … Hier het die agtervoegsel ’n negatiewe betekenis en impliseer dit ’n leemte, ’n groot gemis.

Magteloos beteken dat jy sonder mag en sonder krag is, ’n gevoel wat ons op die oomblik alte goed ken. Dit beteken dat jy met jou rug teen die muur staan, dat jy nie herwaarts of derwaarts weet nie of dat die spreekwoordelike mat onder jou voete uitgeruk is. In jou lewe kan dit beteken dat jou inkomste en al jou sekuriteite skielik daarmee heen is, dat jy weens die inperking nie by geliefdes wat swaarkry kan uitkom nie of dat jy moet toekyk hoe jou kinders se lewens onherroeplik verander. Dit kan verwys na jou egskeiding, jou opstandige kind of die gevolge van ’n motorongeluk. Wat ook al die rede: die situasie laat jou sonder beheer, sonder planne en met ’n lang lys van bekommernisse.

Dit is egter nie ’n hedendaagse gevoel wat tot ons unieke tyd beperk is nie. Dink maar aan die geloofsreus, Elia, wat na sy epiese oorwinning op Karmelberg, homself onder ’n besembos ’n dagreis ver in die woestyn bevind. Magteloos. Kragteloos. Moedeloos. Gereed om maar eerder te sterf. Paniekerig bang vir koningin Isebel en haar trawante. Sy optrede kan vir ons as Bybellesers moontlik nie sin maak nie. Want het Elia nie pas God se almag met sy eie oё aanskou nie? Het hy nie gesien hoedat God sy gebede met vuur en reёn beantwoord nie? Kan Elia nie maar net vertrou nie? Kan hy nie maar net bid en wag dat God sy vyande voor hom verdryf nie? Maar Elia kan nie, al wat hy nou sien, is die penarie waarin hy hom tans bevind.

Gelukkig het God begrip en genade. Hy staan nie arms gevou en wag dat Elia homself moet regruk nie. God ontmoet vir Elia daar waar hy op moedverloor se vlakte vir die dood wag. Hy stuur sy engele om vir Elia van kos en water te voorsien. En nadat Elia uitgeput aan die slaap geraak het, kry hy ’n tweede porsie. “Staan op en eet,” sê die engel. “Sodat jy met hernude energie jou reis kan aanpak.” Elia gehoorsaam, en skielik het hy genoeg mag en krag om 40 dae en nagte aanmekaar te stap – ’n skrille kontras met die afgematte man van ’n paar uur gelede. Sy situasie het nie verander nie, maar die ontmoeting met God het sy perspektief totaal en al verander.

Ook Koning Dawid met al sy soldate het geweet wat dit voel om heeltemal magteloos, radeloos en reddeloos te voel. Dink maar aan die keer toe sy seun Absolom teen hom in opstand gekom het. Sy seun, sy geliefde, pragtige en intelligente seun, het skielik so doelbewus teen hom gedraai. “Ek het so by vyande, Here!” sug Dawid dit uit in Psalm 3. “Daar is talle wat van my sê: ‘Van God kom daar vir hom geen hulp nie.!” In Psalm 6 bekla Hy oor ’n ander saak sy lot: “Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane. My oё het dof geword van verdriet, verswak deur wat my teëstanders my aandoen.”

Maar God los nie sy kinders alleen nie, dit weet Dawid ook. In Psalm 3 vervolg hy sy lied: “Maar U, Here, beskerm my aan alle kante. U herstel my eer en aansien. As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; en ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.” Of Dawid hier al uit sy verknorsing gered is, is onduidelik. Dalk was die gevaar nog net so werklik. Maar hy het duidelik besluit om nie verder slaap daaroor te verloor nie. Hy het eerder sy fokus van sy groot probleem na sy groot God verskuif. “My hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.”

’n Goeie strategie. Sonder dat ons self enige uitkoms, toekoms of hoop kan sien, of dat ons enigsins sterker, beter gewapen of beter toegerus voel, kan ons maar net weer ons vertroue in God, die Skepper, Onderhouer en Versorger plaas. Ons fokus verskuif. “As ek swak is, is ek eintlik sterk,” meen Paulus. “Want dan kan God se krag juis deur my werk.” “En,” belowe hy, “ons kan vas en seker en sonder enige voorbehoud weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hy liefhet.” Dalk nie vandag, of môre of volgende week nie, maar Hy sal. “Hy sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” So watter uitdaging ek en jy vandag ook al ervaar of in die gesig moet kyk, magteloos, is ons nie.

 

 

Susan Goosen

 

Share this post