Kyk wie kom eet saam!

Lees Lukas 14:15-24

“Kom, die maaltyd staan klaar” (v. 17).

Baie van die mees betekenisvolle gesprekke wat Jesus met mense gehad het, vind rondom ’n etenstafel plaas. Geen verrassing hier nie. Ook óns mond gaan oop en ons tong kom los wanneer ons eet – en ons hart word warm.
Dit is juis wanneer Jesus aan ’n vooraanstaande mens se etenstafel sit en iemand verlangend verwys na “die maaltyd in die koninkryk van God” (v. 15) dat Jesus die geleentheid kry om ’n ete-storie te vertel: van genooides wat aanvanklik gesê het hulle kom eet saam, maar toe die tafel gedek is allerlei verskonings gehad het waarom hulle ongelukkig nié sou opdaag nie.
Goeie verskonings, nietemin: Een het ’n stuk grond gekoop, ’n ander het nuwe trekdiere gekoop wat hy moes leer. En, die beste van almal, dié van die man wat toe so pas in die huwelik getree het. Boonop is hulle deur die bank ordentlik en vra hoflik om verskoning: Dit is nou maar een van daardie dinge . . .
Die gasheer is egter bitter ongelukkig oor die verbreekte beloftes en die minagting van sy gasvryheid. Hy gee opdrag dat daar wyd gesoek moet word na nuwe tafelgenote. Mense wat die kos wat hy met soveel sorg berei het, nodig genoeg het dat hulle sal opdaag.
Toe kóm hulle. Uit die stad se strate en gangetjies, daar waar hulle sit en bedel – die armes en kreupeles en blindes en verlamdes. En hulle kom sit die tafel amper vol.
Is daar dan nóg plek? Wat sê die gasheer?
“Gaan uit na die paaie en die lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word” (v. 23).

Só lui Jesus se verhaal. Hy verswyg egter die besonderhede oor die saameters se reaksie.
Maar ons kan vermoed dat sulke vreemde tafelgenote gou vrede sou moes maak met wié langs wié sit, en hoe die een op die sitplek langsaan lyk. En ruik. Want vir mense wat hulle lewe in ’n stad se strate en gangetjies deurbring, is persoonlike higiëne nie noodwendig die eerste prioriteit nie. En beswete reisigers op die stofpaaie? Nou ja . . .
Maar nood ken nie klas nie. Behoeftigheid is ’n groot gelykmaker. En wanneer jy die verbluffende genade beleef van iemand wat jou kom opsoek en vir ete nooi, dan vra jy nie vrae nie. Jy kom net. So gou jy kan. Jy probeer ook nie die gasheer se motiewe peil of jou eie oordink nie; jy kom soos jy is.
En die besiges, dié met die ander prioriteite?
Jammer, daar is nie meer vir hulle plek nie. Hulle wou nie kom nie.

Here, kyk, ek haas my na u tafel!
Ons almal wat saam aansit,
verkyk ons aan soveel gasvryheid.
En vergryp ons aan u oorvloedige goedheid.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.

Share this post