Kwesbaar vir uitbranding

Ons hoor dikwels mense praat van iemand wat aan uitbranding ly. Verstaan ons regtig wat uitbranding beteken?

Wat is uitbranding?

Uitbranding: ’n Toestand wat die gevolg van werkverwante stres en frustrasie is en deur wisselende grade van depressie en apatie gekenmerk word (Nuwe Woordeboek vir Maatskaplike Werk).

Uitbrandsindroom: Emosionele uitputting, depersonalisering en ’n afname in persoonlike prestasie wat voorkom by mense wat met mense werk. Dit kan as ’n vorm van werkgeoriënteerde stres beskou word, wat ontstaan uit die sosiale interaksie tussen die persoon wat hulp verleen en die ontvanger van die hulp (Psigologie-woordeboek).

Is dit net professionele persone wat aan uitbranding kan ly?

Hoewel dit veral professionele persone is wat uitbrand, is dit waar dat alle mense op die een of ander manier aan uitbranding kan ly, afhangende van hulle unieke omstandighede. Enige persoon wat onnodig lang ure werk en nie ’n gebalanseerde leefstyl volg nie, kan vir seker aan uitbranding ly.
Daar is ’n ander toestand wat nou verwant is aan uitbranding waaroor ons ook hier moet gesels. Ons noem dit meelewingstamheid.

Meelewingstamheid

Verskeie kundiges wys daarop dat daar ’n koste aan omgee verbonde is. Baie min van ons raak by ander mense of hulle probleme betrokke met die wete dat ons heel moontlik duur sal moet betaal omdat ons vir ander omgee. Ons is idealisties, en daarom dikwels onvoorbereid vir die intensiteit waarmee ons omgee vir ander mense ons kan beïnvloed. Ons dink selde daaraan dat ander mense se omstandighede of trauma ook vir ons in slagoffers kan verander. Vrees, ontkenning, onkunde en selfs ’n oordrewe sin vir beheer of perfeksionisme, kan mense keer om hulle persoonlike kwesbaarheid te erken of iets daaraan te doen voordat groot skade in hulle lewe aangerig word.
Kom ons kyk na nog ’n paar definisies in ons poging om die hele omvang van uitbranding te verstaan.

Meelewing beteken “saamvoel met ander; jou indink in die toestand van die ander” (HAT).

In ons omgee vir ander kan ons so betrokke raak by hulle seer dat ons onbewustelik daardeur getraumatiseer word. Dit word in die algemene omgangstaal plaasvervangende trauma (vicarious traumatisation) genoem. McCann en Pearlman verwys na “… the enduring psychological consequences for therapists (and volunteers) of exposure to the traumatic experience of victim clients. A person who work with victims may experience profound psychological effects, effects that can be disruptive and painful for the helper and persist for months or years after work with traumatized persons” (2009:135). Dit oorvleuel in sekere sin met uitbranding, wat gewoonlik die gevolg is van ’n werksituasie wat te veeleisend, spanningsvol en/of onbevredigend is.

Meelewingstamheid is iets wat verskillende name kan hê, soos sekondêre viktimisering, sekondêre traumatiese stresversteuring of plaasvervangende traumatisering. Eenvoudig gestel, is dit ’n neweproduk van omgee. Hoe meer intens jy by ander mense se probleme betrokke raak, hoe meer kwesbaar is jy vir meelewingstamheid.

Plaasvervangende trauma is die term wat gebruik word vir die gedagtes, gevoelens en gedrag wat uit herhaaldelike blootstelling aan ander mense se trauma kan voortvloei. Dink byvoorbeeld aan die uitwerking van TV-beelde van die aanval op die World Trade Center wat weer en weer herhaal is. Sommige mense is getraumatiseer deur net na hierdie uitsendings te kyk. Mense kan ook opnuut getraumatiseer word wanneer hulle weer en weer kyk na beelde van natuurrampe soos die aardbewing en die tsunami in Japan.

Hoe ontwikkel hierdie plaasvervangende trauma?

As jy deurentyd ander mense ondersteun en help, kan jy nie anders as om daardeur geraak te word nie. Jy werk immers saam met hierdie mense deur hulle negatiewe ervarings. Net deur te luister na ander se ervarings, kan jy self ’n slagoffer word. Terwyl jy aan ander mense die geleentheid gee om hulle pyn en las met jou te deel, absorbeer jy ’n mate van hulle emosionele pyn. Dit gebeur nie doelbewus nie. Dit is hoe God ons geskep het om ons medemens se las te help dra.
Dit is ook belangrik om te weet jy kan uitbrand deur bloot te lang ure te werk of te veel energie in jou werk te stort. Wanneer jy dit doen, het jy geen energie vir jouself of jou geliefdes oor nie. Jy kom saans by die huis en val net voor die TV of op die bed neer. Jy is totaal afwesig vir jou gesin. Om uitbranding of meelewingstamheid in jouself of ander mense te herken, is dit belangrik om te weet wat die belangrikste tekens en simptome daarvan is.

Tekens en simptome van uitbranding

• Jy het geen tyd of energie vir jouself nie. Daar is net nie meer tyd om dié dinge te doen wat in die verlede vir jou lekker was nie. Selfs jou stokperdjies is nie meer belangrik nie. Jy neem baie min deel aan enigiets; jy werk net.
• Jy maak jou emosioneel los van die mense wat vir jou lief is. Jy distansieer jou selfs emosioneel van jou gesin en kan of wil niks meer saam met hulle doen nie.
• Jy onttrek jou sosiaal. Dit lei daartoe dat jy glad nie meer lus is om saam met vriende of familie te kuier nie. Jy lê of sit dikwels alleen in ’n donker vertrek.
• Jy ervaar ’n verhoogde sensitiwiteit vir geweld. Jy is baie bang vir enige onbekende situasie. Jy sluit dikwels alle deure en vensters. Jy gaan nie sommer uit die huis nie omdat jy bang is jy word ’n slagoffer van geweld.
• Jy raak onnodig en oormate sinies.
• Jy ervaar algemene wanhoop en hooploosheid, wat daartoe lei dat jy geen hoop meer vir die toekoms het nie. Jy kan nie vir jou of jou geliefdes ’n positiewe toekoms sien nie. Jy praat dikwels negatief oor die toekoms.
• Jy sukkel met nagmerries. Die tonele in jou drome word dikwels deur jou onderbewussyn na die oppervlak gebring. Dit veroorsaak dat jy te bang is om te gaan slaap.
• Jy twyfel aan jou identiteit en spiritualiteit. Skielik weet jy nie meer wie jy is. Jy twyfel ook dikwels of God werklik bestaan. Jy bevraagteken of Hy werklik in jou lewe is.
• Dinge wat jy in die verlede met gemak kon doen, raak vir jou ’n groot krisis. Jy kan dit net nie aanpak of deurvoer nie.
• Jy vind dit moeilik om logies te dink en selfs die basiese besluite te neem.
• Jy sukkel om jou basiese omgewing deur jou sintuie waar te neem en enigiets te geniet.

Hoe hanteer ’n mens uitbranding?

Dit is makliker om jouself teen uitbranding te beskerm as jy jouself ken en weet wat jou swak plekke is. Dit is belangrik dat jy met iemand wat jy kan vertrou oor jou emosionele gesondheid sal gesels. Berading vir meelewingstamheid en ander emosionele toestande is deel van selfsorg en algemene gesondheid.

’n Mens dink dikwels jy is sterk genoeg en het nie iemand anders se hulp nodig nie. Tog is dit soms nodig dat jy bereid sal wees om met ’n professionele persoon oor jou omstandighede te gaan praat. As dit nodig is dat jy gereeld verlof moet neem om jou van jou omstandighede los te maak, moet jy dit doen.

As jy nie aandag aan jou gesondheid (dieet, oefening en rus) gee nie, sal jy later niks vir iemand anders in die lewe kan beteken nie. Wanneer jy glo jy moet altyd sterk en in beheer wees, ly die mense rondom jou dikwels die meeste daaronder. Jy raak humeurig en geïrriteerd met jou lewensmaat en kinders – die mense wat die naaste aan jou is en dit die heel minste verdien.

Dit bly belangrik om oomblikke van stilword en gebed in jou lewensroetine in te bou. Die waarde van geestelike dissipline kan nie oorbeklemtoon word nie. Net by God vind jy ware rus!

Stel vir jou grense

Dit is baie belangrik dat jy vir jou grense sal stel. Lig ander mense in oor jou grense. Jy is die enigste een wat kan sorg dat jou grense nie oorskry word nie. Jy self moet toesien dat mense weet waar jou grense getrek is en dit dan respekteer. Jy moet ook sorg dat jy self jou grense respekteer. Dit kan van jou vra om jou selfoon ná ure af te skakel en sekere tye van jou dag slegs vir jou gesin beskikbaar te wees, nie vir enige werkverwante take nie.

Share this post