Kry weer hoop

“Here, ek vra nie dat U my ’n doel moet laat skop nie. Ek vra net, gee my ’n gaping.” So het ’n jongman glo voor ’n sokkerwedstryd gebid. En dit is min of meer hoe Christene se hoop moet werk. Want hoop is ’n werkwoord. Dis iets wat jy en God saam laat gebeur. En die werk wat gedoen moet word, is joune.

Maar is daar dan ’n regte en ’n verkeerde manier van hoop?

Wel, partykeer kry ’n mens die idee dat mense maar net hoop dat die ergste nie sal gebeur nie. Nou, dit is seker een manier van hoop. Maar ons Christene het tog meer toegang tot hoop as dit. Ja, ons mag meer, baie meer hoop as dit.

Die Bybel is oorvol hoop. Dit beur by elke bladsy uit. Die Bybel vertel juis stories van hoop. Want dit is wat ons verhouding met God ons gee: hoop.
Kom ons vat nou maar vir Job. Dinge gebeur wat al Job se hoop by hom steel. Hy verloor alles. Maar Job laat inderdaad nie toe dat sy ellende sy hoop by hom afvat nie. Job hou aan om op God te hoop. God sal geregtigheid laat geskied. God sal hom versorg. So hoop Job. En so eindig Job se verhaal dan ook op ’n hoopvolle noot.

Die begrip “hoop” is een van die begrippe wat die meeste in die Bybel voorkom. Om die waarheid te sê, dit kom in soveel vorme voor dat ons nie eers ’n woordtelling kan hou nie. Ons kan nie eers sê hoeveel keer daar van “hoop” in die Bybel gepraat word nie. Ons weet net elke bladsy in die Bybel loop daarvan oor.

Die boodskap van Jesus is immers dat ons vir ewig op God kan hoop, en dat Hy ons selfs nie in die graf sal verlaat nie. En dit is wat Paulus aan die gang gehou het toe hy in huisarres was, en in die tronk, en slae gekry het: die hoop dat môre ’n beter dag sal wees, en dat daar ’n môre sal wees, al kry jy swaar en al sterf jy selfs.

Maar die Bybel gaan lank nie net oor hoop op die ewige lewe nie, alhoewel dit ons spesiaalste boodskap van hoop is. Die Bybel vertel van mense wat elke dag bly hoop het omdat hulle in God glo. Wanneer daar hongersnood in die land is en selfs die koning nie meer hoop nie, is dit die profeet Elisa wat kom (2 Konings 6:33) en vir die mense sê, kom belê in die dag van môre! En sowaar, die hoop het nie beskaam nie, en is vir hulle kos gebring.

Die Psalms is ook liedere van hoop. Dis hoop op ’n wysie. Dis die Top Tien van hoop in die Bybel. En dis nie sommer sulke goedkoop hoop wat jy jouself verbeel nie. Die psalmis vertel telkens (byvoorbeeld in Psalms 7 en 22) hoe hy diep gewanhoop het en rede gehad het om vir sy lewe te vrees. En hoe die hoop hom geleer het om weer aan die lewe te proe. En sommer homself heerlik daaraan te versadig.

Kom ons kyk weer ’n bietjie na die idee dat hoop ’n werkwoord is. Met ander woorde dis nie iets wat God jou skuld nie, maar iets wat julle saam aanpak. Hoop is eintlik iets wat jy vir ander mense skuld. Jy weet hoe dit voel as iemand in ’n geselskap inkom en soos ’n nat vadoek oor almal kom lê. G’n mens kan hoop as dit so gaan nie. Met jou hoop kan jy mense aan die brand steek. Soos Paulus gedoen het en die profete van ouds – en Jesus self. Net soos jy met jou wanhoopspraatjies en opgeknypte bolip die lewe uit hulle kan haal.

Ja, hoop is ’n werkwoord. Dis om die gaping te vat as jy hom sien. En dis om te glo dat die gaping gaan kom.

Hoop vra ’n spesiale manier van dink

Maar watse soort kop moet ’n mens hê om te bly hoop die gaping gaan kom en om dit te kan vat? Watse meubels moet jy in ’n hoopkop sit? En watter vriende moet jy innooi? Hoop se vriende is genoeg slaap, reg eet en gereelde oefening. ’n Moeë, stadige kop vol suiker en vet kan nie hoop nie. Wanhoop se vriende is oorstuursheid en niks pret hê nie. En in die Bybel is dit nogal belangrik dat ’n mens na jou liggaam sal kyk sodat jou kop sal werk. Kyk maar hoe het Jesus omgesien na mense se liggame met kos en genesing sodat hulle kan opstaan en hoop.

In die Bybel laat God die mense vlieg omdat hulle hoop het. Soos Dawid wat sommer vir die yslike Goliat aanpak omdat hy in God glo. En Dawid was maar toe net ’n seun van twaalf of so.

Die Bybel verwag natuurlik nie van ons om met ’n simpel klomp hoop in ons kop in die wolke rond te swewe tot ons hard val nie. Nee, die hoop waarvan die Bybel praat, is ’n realistiese hoop. Dis ’n werkwoord, ’n kop wat ’n gaping kan vat, op ’n lyf wat gesonde gewoontes handhaaf. Dis nie ’n roekelose, onverantwoordelike hoop nie. Dis juis ’n hoop wat ’n mens veilig laat voel. Ek wil my hoop op U gevestig hou, U is my veilige vesting, sê Psalm 59:10. Hoop moet jou nie losruk van die werklikheid dat jy dinge wil doen wat te erg is vir jou nie. Hoop moet jou die gaping laat vat wat God jou laat sien.

Maar waarop kan ons hoop?

Waarop durf ons hoop? Ons hoop op die ewige lewe. Maar durf ons ook hoop dat hierdie lewe sal verander? En wat moet ons doen om so ’n soort hoop te verdien? Lees tog Psalm 119. Dis ’n lang psalm, en dit kan ook maar lank wees, want dit is die ene hoop. Vers na vers verlustig die psalmis hom in sy hoop.

Hy verdien dit om te kan hoop, want hy gehoorsaam God se gebooie. Maar as jy nou mooi daaraan dink, God se gebooie is juis om te hoop! God se gebooie leer ons om gesond te lewe, sodat ons op more kan hoop.
Miskien het ons vandag ’n ellendige lewe – al kom ons God se gebooie na en al lewe ons gesond. Mag ons hoop dat dit sal verander? Versoek ons God dan nie?

God het aan elkeen van ons die basiese reg op menswaardigheid gegee. En dis ’n onvervreembare reg. God sal nooit ons reg om menswaardig te lewe van ons wegvat nie. Hy het ons daarmee geskape. Daarom, as ons lewe ons waarde van ons wegvat en ons lei ’n lewe waarin pyn en vernedering en ’n gebrek aan geld ons menswaardigheid by ons steel, dan mag ons natuurlik hoop dat die lewe sal verander. Maar op watse soort verandering mag ons hoop? Dat as ons arm is, ons ryk sal word? Dat as jou man of jou vrou of jou kind jou seermaak, hulle skielik sal ophou?

Ons mag hoop op ’n gaping, om anders te dink oor ons lewe en seerkry, of om anders daaraan te werk. Laat my elke dag U liefde ondervind, want op U hoop ek, sê Psalm 143:8. En is dit nie maar die liefde van God wat ons laat hoop, wat vir ons ’n deur laat oopgaan, wat ons ’n gaping laat raaksien nie? Dis om die liefde van God te ondervind, wat hoop vir die dag bring.

Wanhoop kan nie God se liefde by jou wegneem nie. Hoop help jou om van ’n tragedie, van slegte nuus, ’n geleentheid te maak – ’n gaping wat geneem moet word.

Hoop is om vir God ’n gaping in jou lewe te gee

Wanneer jy hoop, erken jy eintlik dat God jou behoeftes aanvoel. Jy gee vir God ‘n gaping in jou lewe. Jy nooi God in om ’n pad saam met jou te stap. En die grote God doen dit. Hy stap saam. En dit lees ons keer op keer in die Bybel. En God stap nie net saam met die grotes en vromes en allerheiligstes wat alles in die boek reg doen nie. God stap saam met Eva nadat sy en Adam uit die paradys uit is. God stap saam met Gideon wat uit ’n gesin sonder rang kom. God stap saam met Moses wat ’n gebrek het. Die pad van hoop saam met God is vir elkeen.

Maar wat nou as die hoop beskaam?

As jy nie kry waarop jy gehoop het nie en die lewe verander nie? Het God dan opgehou om saam met jou te stap. Nee, hoop is om ’n tree te gee. Soms is hoop net ’n treetjie. Dis ’n treetjie weg van wanhoop af. Dis ’n treetjie na beter voel oor die lewe. Dis ’n treetjie nader na ’n ander mens toe. Dis ’n treetjie saam met God.

Om te hoop is om te sê: Ek word nie net deur die lewe rondgeskop en geskud nie. Met my kop en my hart neem ek beheer oor my lewe. En ek doen dit deur my geloof in God en sy goeie wil vir my. My geloof laat my hoop. En my hoop laat my lewe. Nou en vir ewig.

Die uitdaging van Christenwees is om ’n instrument van hoop te wees – vir jouself en vir ander. En ons leer dit by Jesus, wat knaend lief vir ons was en dit in die Gees altyd sal wees. Die Gees wat in ons woon, is ’n Gees van hoop. Dis die Gees wat Martin Luther, die groot Hervormer, laat sê het: Al weet ek die wêreld vergaan more, sal ek nog vandag ’n boom plant!

Share this post