Corruption lets overcome it

Korrupsie: Kom ons oorwin dit!

Die krag van selfsugtigheid is sterk. Dit kan huwelike en gesinne opbreek. Selfsug is by magte om enige verhouding te vernietig. In die vorm van korrupsie kan selfsug ’n hele nasie breek.

Transparency International, een van die talle organisasies wat korrupsie beveg, gee ʼn bondige definisie: “Korrupsie is die misbruik van toevertroude mag vir persoonlike gewin”.

Korrupsie kom oral voor

’n Verkeersbeampte wat jou na ’n verkeersoortreding – of vermeende oortreding – laat stilhou en dan beduie dat jy ’n swaar boete kan vermy deur omkoopgeld te betaal.

’n Staatsamptenaar wat beloof dat jy ’n lisensie of ’n dokument spoedig sal kry, indien daar ook “iets” vir hom of haar in is. Volgens Transparency International erken 47 % Suid-Afrikaners dat hulle in die jaar 2012-2013 omkoopgeld betaal het.

Ten opsigte van tenders en tenderprosedures is daar baie korrupsie waardeur mense hulleself verryk.

Korrupsie kom nie net by die regeringsamptenare voor nie. Die korrupsie-kultuur het selfs ook in van ons mees gerespekteerde maatskappye en besigheidsinstansies posgevat.

Dikwels is dit ook mense wat hulleself Christene noem, wat by korrupsie betrokke is.

Die vernietigingskrag van korrupsie

Korrupsie benadeel die hele land se ekonomie

Sakevertroue, entrepreneurskap en beleggings ly ernstig skade. Wie wil nou hulle geld belê in ’n land met soveel korrupsie? Die armstes ly die swaarste. Geld vir werkskepping en opheffingsprojekte beland in korrupte amptenare se sakke. Adv. Paul Hoffman van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika meen dat R675 miljard sedert 1994 weens korrupsie in die staatsdiens verloor is (Beeld 5, September 2013).

Die sosiale gevolge is egter die ergste 

Korrupsie maak dat ons mekaar en die samelewingsinstellings wantrou:

Duisende staatsamptenare bedryf ondernemings wat kontrakte kry by die departemente waar hulle werk. Daar is talle voorbeelde van polisielede wat by korrupsie betrokke is. Kaderontplooiing, korrupsie en onbevoegdheid by sowel politieke leiers as munisipale amptenare word as vernaamste oorsake beskou vir die beroerde toe-stand van munisipaliteite in ons land. Net nege van 278 het in 2013 ’n skoon oudit van die oudi-teur-generaal, Terence Nombembe, gekry. Dit is slegs 3 %! (Citizen, 15 Augustus 2013).

As leiers in die polisie en ander staatsdeparte-mente korrup is, hoe kan ons mense vertrou? En, hoekom moet ek dan anders wees as my leiers so maak? Moet ek nie ook maar vat wat ek kan kry nie? Korrupsie vernietig ons sosiale weefsel.

Korrupsie vernietig mense se hoop op ’n beter toekoms:

Regeringsinstansies wat tenders gee aan maatskappye met sterk politieke verbintenisse, is ʼn groot probleem. Mense na aan politici kry die meeste geld vir ontwikkelings-en opheffingsprojekte in ruil vir gunste. Dis nie mense wat die langste vir huise wag wat dit kry nie, maar mense wat die meeste vir die politici kan beteken. Sonder gesonde, oop mededinging is dienste aan die land se burgers duurder, en van swakker gehalte. Mense verloor vertroue in die toekoms. As mense eers hoop verloor, sinies word, dan gee hulle nie meer om wat hulle doen nie.

Korrupsie lei daartoe dat langtermyn skade aan die omgewing gedoen word:

Spruite, riviere en ondergrondse waterbronne word sedert 2006 deur onverwerkte rioolafval vergiftig. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs is die besoedeling “onhoudbaar” en het die vlak van E.coli-bakterieë in riviere en spruite van Mpumalanga “katastrofale vlakke” bereik (Beeld, 19 September 2013). Munisipaliteite kan vanweë swak bestuur, onbevoegde amptenare en korrupte praktyke nie hulle rioolstelsels onderhou nie.

Dit is skrikwekkend is om oor groot dele van Mpumalanga te vlieg. Kosbare vleilande en landbougrond is deur oop-groef steenkoolmyne vernietig. Gerugte lui dat mynlisensies en omgewingsertifikate op korrupte wyse uitgereik word.

Ons moet aandag aan morele vorming in ons samelewing gee

Omdat korrupsie meestal verweef is met verskynsels soos traak-my-nie-agtigheid, selfsug, onregverdige bevoordeling, geheimhouding, slinkse sakepraktyke, bedrog, diefstal en afpersing, moet ons erken: ons samelewing beleef ʼn moraliteitskrisis. ’n Moraliteitskrisis beteken dat families, kultuurgroepe, skole en geloofsgemeenskappe nie slaag om mense met goeie karakter te vorm nie. Indien mense nie uit innerlike waardes goed en reg optree nie, is ons gedoem. Streng wette, beter polisiëring en meer howe sal nie ons land behoorlik laat funksioneer nie. Christene en geloofsgemeenskappe het ’n besondere rol om morele vorming moontlik te maak.

Ons moet morele mense help vorm, maar nie moralisme bevorder nie:

Denkers oor die eeue is dit met mekaar eens: die grootste vyand van moraliteit is moralisme. Moralisme is wanneer mense hulle eie lysies maak van wat goed en reg is.

Nasionalisme byvoorbeeld, is waar volksgroepe so verblind word deur ideale oor volk, ras, roem en mag, dat hulle ʼn valse beeld skep van wat morele goedheid en ’n fatsoenlike lewe behels. Daarby word ’n beeld van God gevorm waar God die “oppasser” van eiegemaakte fatsoenlikheid word. Jy kan eers as “iemand” gereken word as jy aan die nasionale norm vir menswees voldoen en nie omdat jy jou eie oortuigings en persoonlikheid uitlewe nie. Wie nie inpas by die volksmoraliteit nie, word vervreem. “Ek is, omdat ek aan my volk behoort”.

In die plek van nasionalisme het materialisme gekom. Onder beswyming van ideale oor geld, besittings, roem en mag skep die media en veral die magtige advertensiebedryf ’n beeld van wat morele fatsoenlikheid sou wees. Hierby kom ’n passende godsbeeld: ’n god wat mense seën met oorvloed en besittings. Jy word aanvaar en kry ’n goeie selfbeeld as jy die regte dinge besit: “Ek is, omdat ek besit”. So raak ons onderdanig aan lewensverlammende wette, konvensies en skuldgevoelens. Mense dink: “As ek nie ryk is nie, is ek niks!”. Ons konformeer en dra maskers. Ons sug heeltyd na besittings. Ons sal enigiets doen solank ons ryker kan word.

Daarteenoor is ons taak om mense te vorm wat goed voel oor hulleself, al is hulle nie ryk en beroemd nie. Hulle moet van hulle eie persoonlikheid hou en daarom ook van ander mense. Hulle moet ’n karakter hê wat ander mense nie wil bedrieg nie.

Ons moet morele vorming in ’n gees van blydskap aanpak

Daar is groot kommer oor die morele opvoeding van ons land se mense. Hoor hulle van “reg en verkeerd” net in terme van dreigemente, ʼn pak slae, tronkstraf of ontslag van werk? Hoeveel mense sien ooit ’n navolgingswaardige rolmodel in hulle huis, skool, by die werk en in die parlement? Sodat hulle vreugde put uit die navolging van rolmodelle?

Die Bybel leer immers:

Om te mag weet wat reg en verkeerd en wat goed en wat is sleg is, verskaf mens vreugde. Dit is deel van jou verlossing.

Die Rabbi’s wat die kinders die onderwysing van die Here uit die kop laat leer het, het dit self geken en geleef. Blykbaar het hulle aan kinders heuning gegee om die positiewe assosiasie te versterk.

Sabbatsvieringe en wetsvoorlesing was vrolike geleenthede met ’n ete waarby almal welkom was. Die tien gebooie is beskou as deel van gelowige se vryheid: God het hulle uit slawerny gelei. En in die Psalms word gesing dat die wat ’n lamp vir hulle voet en ’n lig vir hulle pad het, gelukkig is (Psalm 119).

Rabbi Jesus begin sy lering ook met sulke geluk-uitsprake. In ’n tyd van moralisme en vormgodsdiens wys Jesus op die diepere betekenis van God se wil.

Dit gaan volgens Jesus nie net om afhanklik van God se wet te wees nie, maar om van God self afhanklik te wees (Matteus 5:3). Afhanklikheid van ’n wet kan jou uiterlike verander maar afhanklikheid van God jou innerlike, jou hart.

Dit gaan om meer as net wat jy doen (doing); dit gaan om jou wese (being). Dit gaan om meer as ’n lysie van reg en verkeerd; dit gaan om wysheid wat tussen goed en kwaad kan onderskei. Dit gaan om meer as ’n lamp wat jy aan jou buitekant dra; eerder om die oog wat vanuit jou hart na buite kyk.

Wanneer jou hart oorvol is met allerlei ideale, skatte, gode, verpligtinge en sorge dan flikker jou innerlike oog rond. Maar gelukkig is jy wanneer jy so afhanklik van God is dat daar eenvoud in jou hart kom (Matteus 6:22-23). Dan kan jy God in die gewone sien (Matteus 5:8) en hoef jy nie agter besittings aan te skarrel vir sekuriteit nie (Matteus 6:25-34).

Christene se dubbele taak om korrupsie te beveg

Net soos ons regering, praat ons burgers ook makliker oor korrupsie as om daadwerklik iets daaraan te doen. Omkoopgeld is veel goedkoper en makliker as om later in ’n hof vir geregtigheid te gaan pleit. As ons egter elkeen bereid is om met ’n bietjie ongerief te verduur, sal ons korrupsie drasties kan verminder.

Ontbloot korrupsie

Dit is nie in alle omstandighede maklik om iets te
doen nie. Om byvoorbeeld ’n klokluier (ook fluitjieblaser genoem) in ’n staatsdiensdepartement te wees, is ’n groot risiko. Daar is talle voorbeelde van klokluiers wat hulle werk verloor, onreg moet verduur, selfs vermoor word. Hoe moeilik en gevaarlik dit ook al is, korrupsie kan egter net deur ons selfopoffering gewen word.

Die grootste probleem in ons wêreld is dat goeie mense niks aan die kwaad doen nie! 

In ’n studie deur Price Waterhouse Coopers is bevind dat terwyl net 15 % van die ekonomiese misdaad deur risikobestuurstelsels ontdek word, 23% bekend raak na informele wenke hieroor (Beeld, 14 Augustus 2013). Ons verantwoordelikheid as werknemers en burgers om korrupsie te ontmasker, is van deurslaggewende betekenis. Sonder moed sal dit nie gewen kan word nie.

Die ontbloting van korrupsie is egter nie net ons taak as verantwoordelike burgers nie. Dit is deel van ons lewe deur geloof. God vra geregtigheid en gehoorsaamheid. Jesus vra van ons moed as sy navolgers. Ons moet verby ons eiebelang kyk. Ons moet iets aan korrupsie doen, al kos dit ons dalk ongewildheid of die verlies aan bevordering.

Aangesien dit so gevaarlik kan wees en mens ook nie al die kundigheid het nie, is dit die beste om saam instansies te skep en te steun wat korrupsie beveg. Daar is nommers wat anoniem gebel kan word en maniere om jouself van wraak te vrywaar.

Kerke kan ook hande vat om die boosheid van korrupsie saam te beveg. ’n Organisasie wat wêreldwyd erkenning geniet, Exposed, word deur ds. Dion Foster, ’n Suid-Afrikaanse leraar van die Metodiste kerk, gelei.

Help mense om ’n gesonde selfbeeld en waardes te hê

Om korrupsie net te ontbloot deur daaroor te praat of te kla of aan te meld, is nie genoeg nie. Dit is om soos ’n vinnig groeiende gifplant se blare af te kap maar niks aan die wortelstelsel te doen wat plek-plek nuwe lote laat opskiet nie.

Exposed waarsku daarom ook teen ons ekonomiese kultuur se meedoënlose versugting na mag en wins. Ons moet die gulsigheid wat mense dryf om ’n “iemand” te wees, met ’n alternatiewe styl van lewe bestry. Die valsheid van “Ek is, want ek het” of “Ek sal iemand wees, as ek baie het” moet aan die kaak gestel word. Dit kan net as ons as Christene die leuse uitleef: “Ek is, want die Here het my lief!”.

As ryk mense in die kerke meer aanvaar word as arm mense, help ons die gees van gulsigheid in ons land. As ons in die kerk meer bewondering toon vir rykdom as vir die gawes van die Gees soos vriendelikheid, selfbeheersing, hulpverlening, bevorder ons die klimaat waarin korrupsie gedy.

Kerke en Christene moet self leef wat die Here vra. God vra dat ons gelukkig sal wees met wat ons het en nie heeltyd na meer en meer sal verlang nie. Om te gee maak mens gelukkiger as om te ontvang, het Jesus gesê (Handelinge 20:35). Ons weet dat God se Gees ons van selfsug bevry. In ons eredienste, bidure, kleingroepe en eie stiltetye met God wil die Gees ons van selfsug vrymaak, vry om ander te kan dien.

André van Niekerk

Share this post