Kersfees is ’n Christusfees

Kersfees word oral in die wêreld gevier. Dis nie net kerke en Christene wat dit vier nie. Mense van ander gelowe en selfs nie-Christene neem ook deel aan die feesvierings. Is Kersfees vir jou as Christen ’n belangrike fees om te vier? Hoe kan ons as Christene hierdie fees sinvol vier? Behoort dit ook in al die kerke gevier te word?

Baie van die dinge wat tydens hierdie feestyd gebeur het min met die Christelike geloof te doen. Meestal gaan dit bloot oor vrolikheid en jolyt. Daar word geëet en gedrink en partytjies gehou. Mense gee vir mekaar geskenke. Besighede floreer. Mense spandeer baie geld en in feitlik al die winkels word bekende Kersfeesliedere oor en oor gespeel hoewel min werklik luister na die woorde of dink oor die betekenis van die liedere. Kersvader word ook as belangrike simbool vir advertensie ingespan. Die doel is om ’n atmosfeer van “welwillendheid” te skep. Ons word verlei om met oorgawe geld uit te gee, om “goed te koop wat ons nie regtig wil hê nie met geld wat ons nie eintlik het nie”. Die “sukses” van die Kersseisoen word gemeet aan die omset van die besighede, aan die hoeveelheid geld wat spandeer word.

Wat vier ons nou eintlik?

Natuurlik het Kersfees vir ons as Christene ’n spesiale betekenis. In die Kersseisoen vier ons die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus. Ons fokus op die betekenis van sy koms na die wêreld. Dit is vir ons oorgenoeg rede vir ’n fees. Ons het die goeie tyding ontvang van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is (Lukas 2:10). Die boodskap is: In die stad van Dawid is daar vir julle ’n Verlosser, ’n Redder, gebore: Christus die Here! (Lukas 2:11)

Wie is hierdie Verlosser?

Ons glo dit is God self wat Mens geword het! Ons glo dít is wat werklik by Jesus se geboorte plaasgevind het: God het mens geword. Jesus is Immanuel. Dit beteken: God by ons (Matteus 1:23). Die Woord, wat in die begin al daar was, wat by God was en self God was (Johannes 1:1), het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14). Johannes sê: Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

Dit is moeilik om te verstaan, maar juis daarin lê die hart van die Christelike geloof. As Jesus maar net ’n gewone mens was, sou alles wat Hy gedoen het net beperkte betekenis gehad het. Maar omdat Hy werklik God was, het sy lewe, sy wonderwerke, sy preke, sy dood, sy opstanding en sy hemelvaart alles spesiale betekenis. Dit is God self wat ingryp om die mens – en die hele wêreld – te red uit al die ellende waarin ons onsself gedompel het. Jesus is die Messias, die Een wat God sou stuur om die hele wêreld nuut te maak. Daarom is sy geboorte die begin van ’n nuwe tyd, ’n nuwe era in die geskiedenis van die wêreld. Dis soos die aanbreek van ’n nuwe dag, ’n groot lig wat skyn in ’n donker land (Jesaja 9:1-6).

Ons kan nie anders nie. Hierdie geboorte móét gevier word. Toe die geboorte van Jesus daar in die velde van Betlehem aangekondig is, kon die engele hulleself nie bedwing nie. Hulle het dit uitgejubel tot eer van God in ’n magtige koor (Lukas 2:13-14). En die skaapwagters het daarvan begin vertel. Hoe kan óns dit nalaat? Hoe kan óns stilbly?

Hoé moet ons Kersfees vier?

Meeste mense wat so met oorgawe Kersfees vier, verstaan glad nie waaroor dit eintlik gaan nie. Baie van dié vierings het min of heeltemal niks met Jesus te doen nie. Vir ons as Christene het die fees egter ’n spesiale karakter, wat anders is as die wêreld se feeste. Vir ons lê die fokus op die werklike betekenis van Kersfees. Dit bly ’n fees, maar ’n fees wat aan God al die eer gee, wat die aandag toespits op God se Grootste Geskenk aan die wêreld – Jesus Christus!

Geskenke

Een van die tradisies van Kersfees is die gee van geskenke. Gesinne spandeer heelwat tyd en geld om vir mekaar mooi geskenke te koop. Dit word gewoonlik in die geheim gedoen en toegedraai sodat dit ’n verrassing kan wees. Soms is daar ’n kersvader wat geskenke bring. Dit maak natuurlik die kinders verskriklik opgewonde. Lank voor die tyd begin hulle al droom oor hulle kersgeskenke. Van pure opgewondenheid kan hulle die aand voor die tyd amper nie slaap nie. Hulle oë blink as hulle die pakkies oopmaak. Dit oorheers eintlik hulle hele ervaring van wat Kersfees beteken. Dis waaroor hulle vreugde gaan en dis wat hulle onthou: die geskenke wat hulle ontvang.

In Christelike huise sal die ouers gewoonlik verduidelik dat ons vir mekaar geskenke gee omdat God vir ons so ’n groot Geskenk gegee het – sy eie Seun! Ons geskenke moet ons dus daaraan herinner dat ons net gelukkig kan wees as ons bereid is om te gee. As ons vir mekaar omgee en mekaar gelukkig maak, sal ons self ook vreugde ervaar. Ongelukkig werk ons koppe meestal anders.
Ons fokus meer op die ontvang as op die gee. As ons regtig wil verstaan waaroor Kersfees gaan, moet ons baie meer klem lê op die feit dat dit mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). Dit is wat God ons met Kersfees leer. Hy gee die grootste Geskenk – sonder om iets terug te ontvang. Daar is gesinne wat hierdie les prakties uitleef deur in Kerstyd nie net vir mekaar geskenke te gee nie, maar ook vir minderbevoorregtes. As ons uitreik na mense wat nie ’n inkomste het nie en wat ons nie kan “terugbetaal” nie, dan begin ons iets verstaan van God se liefde wat ons in Jesus se geboorte sien.

Liggies en kersbome

Nog ’n tradisie wat baie algemeen met Kersfees verbind word, is die gebruik om kersbome te versier met liggies en ander tierlantyntjies. Die geskenke word gewoonlik onder die boom geplaas. Dié gebruik het nie ’n Bybelse oorsprong nie. Net so het die liggies wat oor Kerstyd in baie dorpe se strate aangebring word nie veel waarde as Christelike simbole nie. Dit skep wel ’n jolige atmosfeer en lok besoekers na die dorpe, maar die waarde daarvan is baie meer ekonomies as geestelik. Dis niks meer as mooi versierings nie.

Maar ons kan wel aan die simbool van lig ’n Christelike interpretasie gee en daarmee die regte boodskap oordra. Liggies wat in die vorm van ’n ster of ’n kruis gerangskik is, kan mense se aandag op Jesus rig. Kandelare en kerse kan ook as mooi Christelike simbole gebruik word. Jesus het as Lig na die wêreld gekom. “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Johannes 1:5)

Kersfees en die kerk

Daar is kerke wat nie juis moeite doen met die viering van Kersfees nie. Dikwels is dit dieselfde kerke vir wie Paasfees en Pinkster groot geleenthede is. Veral Paasfees kry buitengewone aandag. As dit egter kom by Kersfees, is dieselfde kerke amper leeg. Daar gebeur niks spesiaal nie en die mense doen nie moeite om kerk toe te gaan nie.

Daar is ander kerke waar die situasie byna presies die teenoorgestelde is. Met Kersfees is daar twee dienste om te sorg dat almal plek kry, maar met Paasfees is die kerk leeg omdat almal met vakansie is. Baie van die mense wat so met Kersfees die kerk volpak, is dan ongelukkig mense wat net nou en dan in die kerk kom. Hulle kom dikwels ook na die vroeë erediens, sodat hulle die res van die dag vir hulleself kan hê. Op die ou end neem hulle ook nie Kersfees baie ernstig op nie.

Maar wat kan kerke doen om te sorg dat hul lidmate Kersfees op die regte manier vier?

Advent

Advent is die tyd op die kerklike kalender waarin ons voorberei vir Kersfees. Dit sluit die vier Sondae voor Kersfees in en in dié tyd word dan spesifiek gepreek oor die betekenis van Jesus se koms (advent) na die aarde. Dit werk amper soos die sewe lydensweke waarin ons voorberei vir die Paasfees. As ons in die adventstyd toelaat dat die Here ons aanspreek deur sy Woord, kom ons in die regte stemming vir Kersfees. Hoe beter ons begryp wat sy koms alles vir ons inhou, hoe groter word ons vreugde. Uitbundige vreugde is beslis die belangrikste kenmerk van hierdie tyd. Kersfees vorm uiteindelik die hoogtepunt daarvan.

Kersliedere en kerssangdienste

Die vermoë om te sing is ’n besondere gawe wat God aan ons hier in Afrika gee. Afrika-mense gee uiting aan vreugde deur sang. Dit kom byna vanself. Dit pas natuurlik uitstekend by die vreugdekarakter van Kersfees.

Kersliedere is al van vroeg in die geskiedenis deel van die kerk se manier om Kersfees te vier. Die engelekoor het reeds daarmee begin, daar in die velde van Betlehem die nag toe Jesus gebore is. Met hulle sang het hulle nie net sy geboorte aangekondig nie, maar ook gevier.

Dit is wel so dat baie kerke se Kersprogram in ons tyd hoofsaaklik bestaan uit die sing van kersliedere. In meeste gevalle word ’n hele erediens ingerig as ’n sangdiens. Daar is gewoonlik ’n klomp kore wat deelneem en elke koor sing ’n paar kersliedere wat hulle ingeoefen het. By tye sing die gemeente ook saam. Verder lees verskillende mense ook gepaste gedeeltes uit die Bybel. Die preek is gewoonlik kort of word heeltemal weggelaat. Daar is kerke waar so ’n sangdiens dwarsdeur die nag kan aanhou.

’n Ander benadering is waar ’n groep jongmense of ander gemeentelede of selfs ’n koor na bepaalde mense se huise toe gaan om vir hulle kersliedere te sing. Dit gebeur gewoonlik op Oukersaand (die aand voor Kersfees). Dit bly altyd ’n baie besonderse ervaring van lof en aanbidding, beide vir dié wat gaan sing en dié wat die voorreg het om daarna te kan luister.

Die groot uitdaging is dus om die bekende kersliedere op so ’n manier te sing dat dit mense se harte opnuut sal aangryp en hulle sal lei tot werklike aanbidding en lof. Terselfdertyd is daar ook ’n groot behoefte aan nuwe kersliedere wat eie is aan Afrika. Eers as ons kersliedere het wat uit ons eie harte uit kom, in elkeen se eie taal, en op ritmes wat die Afrika-mens se hart aanspreek, sal ons weet wat dit regtig beteken om Kersfees te vier met sang.

Saamwees

’n Belangrike deel van Kersfees is die saamwees as gesinne en families. Mense doen groot moeite om Kersfees huis toe te gaan, bymekaar te wees. Dit is baie goed so. Met Jesus Christus se koms aarde toe, het Hy mense weer in liefde aan mekaar kom bind, as gesinne en as families, maar ook as gemeenskappe. Hy het versoening en vrede kom bring, mense kom leer hoe om regtig vir mekaar en ander lief te hê. Dit was juis dié geskenk waaroor die engele so gesing het: “Vrede op aarde …”(Lukas 2:14). Daar is baie mense rondom ons wat alleen en eensaam is. In die gemeente word ons mekaar se familie, God die Vader se gesin. Daarom is dit goed as gemeentes en lidmate meer doen om uit te reik na eensames, bejaardes, siekes, hulle wat honger is en wat uitgestoot voel – miskien ook spesiaal in die kerstyd.

Feesmaaltyd!

Dis interessant dat baie mense – ook in die armste dele van Afrika – aan Kersfees dink as die een geleentheid in die jaar waarby daar lekker geëet moet word. Wanneer die ouer mense in Malawi rys op die tafel sien, en nie net pap nie, sal hulle dikwels vra: Is dit dan Kersfees? Miskien laat dit God glimlag, want dit beteken dat hulle regtig aan Kersfees dink as ’n fees. Watter Afrika-mens kan aan ’n fees dink sonder lekker kos? Daarom mag ons maar Kersfees ook op daardie manier vier – en geniet!! Ook binne ons kerke. Dis ’n vrolike fees. Ons mag eet en lag en sing. Tog sal daar ’n verskil wees waar God se Koninkrykmense dit vier. Want, soos die mense van Afrika wat nooit alleen eet nie, sal mense wat aan God se nuwe wêreld behoort altyd deel wat hulle het – al het hulle net ’n klein bietjie …

Kersfees gaan oor viering van die geboorte van Christus. Dit is meer as net ’n verjaarsdag wat gevier word Ons onthou nie maar net dát Jesus gebore is nie. Ons onthou veral Wie gebore is: Christus die Here! (Lukas 2:11) Dis die Messias, die Een wat God gestuur het om die hele wêreld nuut te maak. Deur Hom kom God se Koninkryk en ons het deel daaraan. Ons word ook nuutgemaak. En alles rondom ons. Daarom juig ons. Daarom vier ons fees.

Oor dié Christus.

Share this post