Kan die wonde van mishandeling genees

Dis ou verskonings. ’n Vrou wat “gegly en by die trap afgeval het, vandaar die blouoog”; kinders met sigaretbrandmerke op hul lyfies, “einas” wat weggesteek word vir maatjies en bure; bejaardes wat verwaarloos en selfs aangerand word deur hul kinders. Stukkende mense wat meestal in stilswye onder gesinsgeweld gebuk gaan, liggaamlike en emosionele pyn verduur. En dikwels is dit buitestaanders wat hierdie sweer op die lappe bring.

Wat is gesinsgeweld?

Gesinsgeweld teenoor eggenote, kinders, ouers en grootouers neem verskillende vorms aan:

  • Om iemand fisies aan te rand, of selfs net te dreig om dit te doen.
  • Om iemand anders seksueel aan te rand, te teister of selfs net te dreig om dit te doen.
  • Om iemand emosioneel te mishandel, byvoorbeeld om ’n persoon se selfbeeld af te kraak.
  • Om iemand se reg om self besluite te neem weg te neem, iemand in te perk of te verbied om vriendskapsverhoudinge aan te gaan.
  • Verbale mishandeling – om ’n persoon te beledig, te verneder of te vloek.
  • Ekonomiese mishandeling, deur te weier om ’n persoon finansieel van die basiese lewensbehoeftes te voorsien, of om hom of haar te verbied om te werk.
  • Om ’n persoon te agtervolg en te intimideer – enige gedrag wat hom of haar met vrees vervul.
  • Om persoonlike besittings van die slagoffer te beskadig.
  • Om met geweld of selfs ongenooid die slagoffer se woonplek te betree.

Wie is die slagoffers van gesinsgeweld?

Statistiek wys dat een uit elke ses vroue ’n slagoffer van gesinsgeweld is. Dit sluit gewoonlik aanranding soos klappe, vuishoue, slaan met ’n voorwerp soos ’n lyfband, verbale mishandeling (beledigings, vernede-rings en vloek- en skeltaal) en selfs verkragting in. In uitsonderlike gevalle is die man die slagoffer van gesinsgeweld, meestal verbale mishandeling of die vernietiging van persoonlike besittings. Hoewel fisieke geweld teenoor mans nie algemeen voorkom nie, is daar tog gevalle van vroue wat hul mans te lyf gaan en selfs vermoor.

In baie gevalle is kinders die slagoffers van gesins-geweld en mishandeling. Hoewel ouers die reg het om kinders te dissiplineer, moet straf binne perke wees. Die wet vereis van ouers of voogde om kinders met groot versigtigheid en selfbeheersing te dissiplineer. Straf wat tot ernstige fisieke beserings mag lei, is onwettig en strafbaar. Onnatuurlike strafmaatreëls mag fisieke en emosionele skade teweegbring. Daar is selfs ouers wat hul kinders straf deur hulle ure lank in ’n kamer toe te sluit sonder enige kos of water.

Ouers en grootouers is dikwels ook slagoffers van gesinsgeweld. Dikwels word ouers deur hul kinders aangerand en verbaal mishandel. Ouer mense se pensioene word dikwels deur hul nabye gesinslede misbruik, wat die bejaardes sonder geld en dus sonder die basiese lewensmiddels laat. Die mishandeling of verwaarlosing van ’n bejaarde persoon kan fisiek, emosioneel, seksueel of finansieel van aard wees, of mishandeling of blote verwaarlosing behels. Hoewel daar nie spesifieke wetgewing bestaan wat ouers en grootouers teen gesinsgeweld beskerm nie, het hulle tog toegang tot die howe, waar hulle klagtes van aanranding kan maak of ’n interdik kan kry.

Wat sê God se Woord oor  gesinsgeweld?

Die Bybel is gekant teen enige vorm van geweld. Daar is duidelike riglyne oor hoe die wedersydse verhouding tussen man en vrou en ouer en kind binne gesinsverband moet wees. Lees gerus Efesiërs 5:21 tot 6:1-6, Kolossense 3:18-21 en 1 Petrus 3:1-7: daar is duidelike opdragte aan vroue, mans en kinders oor wat van hulle verwag word. Die verhoudinge moet gekenmerk word deur liefde, respek en omgee.

Beide mans en vroue word eerstens deur Paulus in Efesiërs 5 opgeroep om “uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig te wees”. Christus se optrede word as model vir hulle voorgehou. Volgens Paulus is Christus die hoof van die kerk, aan wie die kerk onderdanig moet wees. Die vrou moet dus netso aan haar man onderdanig wees. Hierdie opdrag kan egter baie maklik die indruk skep dat die vrou onder die heerskappy van die man staan en dat hy soos ’n tiran oor haar mag heers. Eers wanneer die opdrag aan die man hiermee saamgelees word, naamlik dat hy haar soos sy eie liggaam moet liefhê en versorg, word die opdrag aan die vrou verstaan. Dit is dus nie ’n geval van die een (die vrou) wat onderdanig is en die ander (die man) wat heers nie, maar eerder ’n geval van ’n man en vrou wat uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig is. Die man mag nie sy posisie misbruik om oor sy vrou te heers, haar te onderdruk, te verneder en selfs fisieke geweld aan te doen nie. In Genesis word dit duidelik gestel dat God die man en vrou gemaak het om mekaar se maats te wees wat by mekaar pas en mekaar help. Gesinsgeweld staan direk teenoor dié bedoeling met die skepping van man
en vrou.

Die Here versoek ons om mekaar lief te hê (1 Korintiërs 13) en die liefde doen ons naaste geen kwaad nie, maar vereis wedersydse respek vir mekaar.

Streef ’n volmaakte verhouding met God na (Psalm 133:1). As daar vrede in jou is, sal jy ook vrede in jouself nastreef. Bly geduldig teenoor jou gesin en neem hul menings in ag, al stem jy nie altyd daarmee saam nie.

Romeine 12 sê dat ons nie kwaad met kwaad moet vergeld en wraak moet neem nie. Ons moet kwaad met goed terugbetaal.

In Matteus 7 gee Jesus self die goue reël, naamlik om ander te behandel soos jy self behandel wil word.
God het kinders aan ouers en volwassenes toevertrou om hulle te beskerm, te versorg en op te voed, en nie om hulle kwaad aan te doen nie.

Daar rus ’n wedersydse verantwoordelikheid tussen ouers en kinders (Efesiërs 6:1-4). Kinders moet hul ouers eer, ook as hulle veeleisend en onredelik is. Ouers moet op hul beurt hul kinders met liefde grootmaak, selfs as hulle ongehoorsaam is. Gelowige ouers en kinders moet mekaar in ag neem en in liefde met mekaar omgaan. Dit kan egter net gebeur as hulle uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig is. Gehoorsaam en eer is twee verskillende begrippe. Om gehoorsaam te wees beteken om te doen wat jou ouers van jou eis, en om hulle te eer is om respek en liefde aan hulle te betoon. Kinders moet aan hul ouers gehoorsaam wees totdat hulle nie langer onder die gesag van hul ouers staan nie. Hulle moet egter hul ouers lewenslank eer.

Wat kan gedoen word teen gesinsgeweld?

Daar is verskeie beskermingsmeganismes vir slagoffers in die Suid-Afrikaanse howe. Volgens die Wet op Gesinsgeweld van 1998 kan enige persoon wat binne ’n gesinsverhouding aan geweld blootgestel is, hom of haar op die howe beroep vir beskerming. Dit sluit ook persone van dieselfde geslag in wat binne ’n gesinsverhouding leef, of diegene wat nie saamwoon nie maar in ’n verhouding is. Selfs al sou ’n verhouding reeds beëindig wees en die gewelddadigheid duur voort, kan die slagoffer steeds die beskerming van ’n hof soek.

Die Wet op die Voorkoming van Gesinsgeweld van 1993 maak voorsiening vir die verkryging van ’n interdik wat ’n persoon verbied om bepaalde gedrag te toon. Vroue wat beskerming teen hul mans soek, kan by die howe vir dié tipe interdik aansoek doen.

Om veiligheidsredes kan vroue uit die huis trek en ander verblyf soek. Die vrees dat hulle onderhoud vir hulself en hul kinders mag verloor, is ongegrond. Hulle mag lewensmiddels koop en die man word wetlik verplig om daarvoor te betaal. Al sou hulle nie langer ’n huis deel nie, is die man verplig – solank die huwelik nie ontbind is nie – om onderhoud te betaal.

Daar is plekke van veiligheid waar vroue kan gaan indien hulle vir hul veiligheid vrees.

Vroue kan ook ’n siviele eis vir skadevergoeding instel, sowel as ’n kriminele klag teen hul mans lê, indien hulle só aangerand is dat dit tot fisieke pyn en lyding aanleiding gegee het.

’n Vrou is geregtig om ’n saak van aanranding by enige polisiestasie te gaan lê indien sy verkrag is. Sy mag selfs ’n klag teen haar wettige man lê.

As laaste uitweg kan vroue om ’n egskeiding aansoek doen. As gronde vir ’n egskeiding kan aangevoer word dat die huwelik onherstelbaar vernietig is en dat die persoonlike veiligheid van die aansoeker nie gewaarborg kan word nie. ©

Kry hier hulp:

  • Soek ondersteuning en advies by familie en vriende, ’n huweliksberader, ’n predikant, ’n maatskaplike werker en ’n prokureur.
  • HEAL – Halt Elder Abuse Line 0800 003 081
  • Childline 08000 55555 of 021 461 1114
  • Kontak die Maatskaplike Sinodale Kantoor by 012 342 0092.

 

Share this post