Is menswaardigheid ʼn Bybelse begrip?

Die woord “menswaardigheid” kom nie in die Bybel voor nie.

Denke oor menswaardigheid het ontstaan na die Tweede Wêreldoorlog. In die lig van die uitwissing van die Jode het mense begin nadink oor die vraag: Het elke mens ʼn basiese waardigheid wat nie van hulle weggeneem kan word nie?

Bo die hek van een van die konsentrasiekampe was daar ’n leuse wat gelui het: “Aan elkeen wat hom toekom.” Met ander woorde, in die denke van daardie tydsgewrig was ’n konsentrasiekamp en ’n gaskamer dit wat ’n Jood toegekom het.

Kan ons só oor mense dink? Is dit hoe die Bybel oor mense praat? Is dit hoe God oor mense voel? Is daar mense wat weens hulle ras, kultuur, geloof, nasionaliteit, ekonomiese vermoë, sosiale status, liggaamlike werklikheid, of watter kategorie ook al, so veragtelik is, so onwaardig is, so onmenslik is, dat hulle nie verdien om met dieselfde respek hanteer te word as ander mense nie?

Alhoewel die Bybel nie die woord “menswaardigheid” gebruik nie, hoor ons deurgaans in die Bybel van God se “reg en geregtigheid” wat aan die mees weerlose mense, die “arme”, die “vreemdeling”, die “weeskind” en die “weduwee” moet geskied.

Dwarsdeur die Ou Testament en in Jesus se ganse bediening sien ons dat die mense wat geen waarde in die oë van die samelewing het nie, waardig geag is deur God.

As Jesus aan onrein mense, onwelkome mense, onwaardige mense – melaatses, ’n vrou wat aan bloedvloeiing ly, kinders, ’n man met ’n gebreklike hand – kom raak met sy hande en hulle intrek in die geloofsgemeenskap, verklaar Hy voor almal hulle Godgegewe waarde.

Die mees verrassende en merkwaardige aspek van die Bybelse verhaal is natuurlik dat God Sélf mens geword het in Jesus van Nasaret! Die inkarnasie is die goeie nuus dat Jesus Immanuel is: God met die mens!

En die verdere verrassing, wat so vreemd is dat ons gedagtes dit beswaarlik kan bedink, is dat hierdie Jesus ook liggaamlik uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. Dit beteken dat die mens vir ewig by God is!

Die verrassing behoort egter nie so groot te wees nie, want reg aan die begin van die Bybelse verhaal, in Genesis 1:27, lees ons: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”

Ook Psalm 8 besing die lof van God as die Skepper van hemel en aarde, en bely dan: “…wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon…”

So gesien is die Bybel, van Genesis tot Openbaring, ’n boek wat praat oor ’n God wat mense ag, ten spyte van al hulle foute, gebreke en tekortkominge. Maar ’n mens kan dit maklik mis lees, as die Gees nie jou oë daarvoor oopmaak nie.

Deur die gang van die Kerk se geskiedenis het dit telkens so gebeur – in die stryd teen slawerny, die stryd teen kolonialisme en apartheid – dat dit nie Bybelstudie was wat die Kerk se oë oopgemaak om onreg raak te sien en teë te staan nie, maar die ontmoeting met die persoon wat onregverdig behandel word.

Dit is eers wanneer die Gees gelowiges se oë oopgemaak het om God se beeld in die verwerpte mens te sien, om Christus in die “geringste” persoon (Matteus 25:40) raak te sien, dat gelowiges met nuwe oë die Bybel begin lees het, en tot hulle skok ontdek het dat die Bybel deurgaans praat oor ’n God wat barmhartigheid bewys aan die onderdrukte, wat reg laat geskied aan die verontregte, wat die slaaf en die gevangenes bevry.

 Is menswaardigheid gereformeerd of humanisties?

Die Hervormers het die volkome genade van God, waarvan ons veral in Paulus se briewe lees, herontdek. Dit het hulle genoop om die Kerk te suiwer van alle pogings om mense se regverdigheid en heiligheid (hulle waardigheid in God se oë) te meet aan hulle eie prestasies of goeie werke, hulle status of posisie in die Kerk of staat, of hulle vermoë om geldelike bydraes te maak as boetedoening vir hulle sondes.

Sowel ons regverdigmaking as heiligmaking is volkome die werk van God se suiwer genade in Jesus Christus. Mense kan niks toevoeg tot hulle waarde voor God nie, want slegs die versoeningswerk van Jesus Christus maak hulle regverdig en heilig.

Die Hervorming het natuurlik ook hand aan hand gegaan met die ontwaking van die humanisme. Hervormers soos Luther en Calvyn het humanisme en Christenskap nie gesien as teenpole nie, maar gevoel dat humanisme beperkinge het.

Een van die groot vaders van humanisme, Desiderius Erasmus, wat ’n toegewyde Christen was, was in ’n voortgaande debat met Luther. Hy het gevoel dat Luther die hervorming van die Kerk te ver dryf. Erasmus het steeds die gesag van die pous erken en aangevoer dat die mens se vrye wil en vermoë om goed te doen, vernietig is deur die sondeval vernietig is nie.Vir Luther het Erasmus nie ver genoeg gegaan om God se oorvloedige genade aan die mens te beskryf nie. Sy lering van “geloof alleen” het volgehou dat die mens niks goed uit vrye wil kan doen nie, maar dat ons God se genade slegs in die geloof kan ontvang.

Die Hervormers wou dus God se oorvloedige genade en agting van elke mens in die Kerk en samelewing nog sterker tot uitdrukking te bring, as wat humanisme dit kon doen.

Om die Bybel in Duits te vertaal sodat gelowiges dit self kon lees, en om te leer dat elke gelowige ’n priester van God is, was wyses waarop Luther baie verder as Erasmus gegaan het om die waardigheid van elke mens te ag.

Die lering van die corruptio totalis – die totale verdorwenheid van die mens – was nie ’n negatiewe mensbeskouing nie, maar juis ’n verkondiging van die goeie nuus dat die mens niks kan doen om God se agting te verdien nie, maar dat God die mens ag uit loutere genade.

Calvyn, wat nie ’n teoloog was nie, maar ’n regsgeleerde, het ook verstaan dat God se genade vir die mens gestalte moet vind in die strukture van die samelewing. Daarom het hy so hard gewerk om elke faset van Genève te hervorm.

Dit was nie genoeg om God se heerlikheid op ’n Sondag te verkondig nie. God se heerlikheid moes ook gesien word in elke deel van die stad.

Calvyn se leuse was Soli Deo gloria – Aan God alleen al die eer! En God word verheerlik, het Calvyn gesê, daar waar mense floreer. God word verheerlik in ’n gemeenskap waarin die beeld van God in mense, die heerlikheid van Christus wat van mense uitstraal, al hoe meer toeneem deur die werking van die Heilige Gees.

Dit is ook insiggewend om daaraan te dink dat sowat ’n kwart van die bevolking in Genève bestaan het uit vlugtelinge, waarvan Calvyn self een was.

Vir ontheemde mense, wat alles verloor het en wat dus absoluut niks van waarde gehad het nie, niks gehad het waarop hulle sou kon roem of ander se respek kon wen nie, het Calvyn die goeie nuus verkondig dat God hulle uit suiwer genade gekies het, en nie op grond van enige menslike kategorie of status nie.

Vandag word die mensdom met ander vraagstukke gekonfronteer as in die tyd van die reformasie, of miskien word soortgelyke vraagstukke anders verwoord. Mense word uitgedaag deur kwessies soos ekonomiese onreg en ongelykhede, seksisme en rassisme, seksualiteit, gestremdheid en MIV/VIGS, globale verhitting en ekologiese volhoubaarheid.

Maar steeds leef die vraag van Martin Luther voort: “Waar sal ek ’n genadige God vind?” Steeds moet die Kerk wat voortdurend reformeer, haarself afvra: Hoe moet ons optree as ons bely dat God in Jesus Christus neergedaal het in die diepste ellende en nood van mense om heelheid en herstel vir die mensdom en die ganse skepping te bring?

Tinus van Zyl

Share this post