Hoekom moes Hy doodgaan?

Sondag 1 April 2018 sê Ilze vir my met ʼn koppie tee in die hand …”dis ʼn groot dag vandag – ons moet dit vier – Hy het opgestaan!”

Amper met skok neem ʼn emosie besit van my hart.

Hy het opgestaan, prewel ek vir myself. Alhoewel dit ʼn bekende dag vir my is, is ek so oorweldig in daai oomblik dat ek sonder ʼn woord my koffie klaar drink.

Maande terug lees ek hoe Rob Bell in sy boek: “What is the Bible?”, die verbond wat God met Abraham gemaak het beskryf. Dit is een van die mooiste verduidelikings van die verbond en die impak daarvan wat ek nog gelees het. God kom na Abraham met ʼn uitgewerkte plan. Tydens die sondeval het God hom so vererg dat hy die mens wegjaag voor sy aangesig en hulle verdoem. Die hele skepping ontgeld dit. Alles in die skepping word vervloek en gestraf, vir die ongehoorsaamheid van die mens.

Wat God gespreek het, kan nie teruggeneem word nie. Die tong is inderdaad magtiger as die swaard. Maar God wil sy verhouding met die mens, met die skepping herstel. Daarom dat Hy na Abraham gaan.

 

Ek sal vir jou ʼn God wees en jy sal vir my ʼn volk wees! God sluit ʼn verbond met Abraham en sy nageslag.

In daai jare het die sluit van ʼn verbond soos volg gewerk – elkeen bring ʼn dier om te offer wat middeldeur gekap word en dan word die twee helftes teenoor mekaar gepak op die grond, met ʼn opening tussen waardeur twee mense kan stap.

Die verbond word opgestel en terwyl die twee partye tussen die opgekapte diere stap, sê hulle vir mekaar wat hulle mekaar beloof met hierdie verbond. Dit word hardop gedoen en die laaste woorde is iets soos volg: “as ek versuim om te doen wat ek sê Here, laat my word soos hierdie diere wat op die grond langs my lê.”

Dan word die diere verbrand as ʼn offer.

God gee Abraham opdrag om diere te bring en hulle voor te berei vir die vaslegging van die verbond. Hy maak so, kap die diere op en plaas hulle op die grond.

En hy wag en hy wag en hy wag, dit is later donker.

Skielik is daar iets soos ʼn fakkel van vuur wat deur die diere beweeg. Abraham weet dadelik dat dit God is. Die fakkel beweeg stadig deur en God herinner vir Abraham daaraan dat Hy vir hom en sy nageslag ʼn God sal wees en hulle vir Hom ʼn volk.

Nadat God deurgeloop en gepraat het, slaan alles aan die brand.

Waarom loop Abraham nie deur nie?

Jy sien God weet, as mens is ons nie in staat om ons belofte met Hom te hou nie. God neem die belofte van beide partye op Hom en Sy seun, Jesus.

Sy alleen deurstap tussen die diere is ʼn bevestiging dat hierdie eintlik ʼn eensydige verbond is. God dra die las van beide partye.

Later gee Hy Sy eie Seun om gekruisig te word.

“Pappa, hoekom moes Jesus doodgaan?” vra Jan-Hendrik op een van daai onverwagse oomblikke wat ons kinders altyd kies.

Sy vraag is pertinent en met ʼn irritasie in sy stem.  Ek gaan jou die hele verduideliking aan hom spaar, want dit het ons amper die hele oggend gevat. Op ʼn tyd kon ek sien hy maak die besluit om te verstaan, op sy manier.

Miskien omdat die verduideliking vir hom te lank gevat het?

Miskien het hy nog baie vrae gehad maar nie verder lus nie?

Miskien het daai nuwe boomhuis net sy naam baie hard geroep?

Hy is immers ʼn kind en hierdie was nou ʼn lang, bo-aardse gesprek.

Maar daar was vrede in sy oë.

Vrede wat net van ʼn persoonlike oortuiging kan kom.

En dit was vir my genoeg.

Met storietyd Sondag gesels ek en die mannetjies weer lekker oor Jesus se opstanding. Klein Wynand merk op dat Jesus kaalvoet uit die graf uit stap met ʼn glimlag op sy gesig en giggel oor almal wat gedink het hy is gesteel.

Ek word opnuut herinner aan die alledaagse dinge waarin ons kinders vreugde vind en hoe vol draadwerk ons grootmense is. Self-gemaakte draadwerk.

Dan tref dit my weer – Hy moes sterf sodat Hy kon opstaan!

God offer Sy seun sodat ons kan leef. As Jesus nie ter helle neergedaal het en die dood oorwin het nie, het ons geen redding gehad nie. Het ons geen hoop gehad nie. Het ons nie Liefde gehad nie.

Terug na die verduideliking aan ʼn 5-jarige … ek het hard verduidelik, so eenvoudig as wat ek kon. Geduldig aanhou verduidelik, maar op ʼn punt het ek gesien hoedat hy ophou probeer verstaan:

Hy het besluit om net te glo.

Sy menswees was nie in opstand daarteen nie – ons is gemaak om net te glo.

Ons as mense se natuur is een van geloof.

 Jy sien, ek verstaan dit nou weer, Hy moes sterf sodat ek iewers kon ophou probeer verstaan, dat ek iewers besluit om te glo, glo soos ʼn kind!

Dit is presies ons probleem, ons wil verstaan en ons vergeet van glo.

Jesus verduidelik dit so mooi …. elkeen wat in my glo, is die reg gegee om my kind genoem te word. Nie elkeen wat verstaan nie, maar elkeen wat glo.

“Geloof is immers die vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien (ook vertaal: waarop ons HOOP), inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.”

Heb 11:1

Jesus moes doodgaan, sodat die belofte wat Sy Pa met ons voorvader Abraham gemaak het, gehou sal word. Al is nie een van ons in staat om die verbond met God te eerbiedig nie, is ons nie alleen nie want Abraham was ook nie in staat nie.

Meer as dit, moes Jesus doodgaan, want Hy moes opstaan uit die dood. Hy moes die dood oorwin sodat die dood vir ons geen bedreiging inhou nie.

Glo jy dit daar waar jy is?

Ek en Jan-Hendrik, verstaan dit glad nie maar ons glo dit.

Ons glo dit met alles wat ons het en dit maak ons vry.

Dood waar is jou angel?

Geloof is genoeg. Dit is jou besluit …

Wynand Olivier

Share this post