Hoe verwerk ek trauma?

Wat is trauma?

Trauma kan op verskillende maniere omskryf word. In kort kan ons sê: Trauma is die gevolg van (’n reeks) gebeure of omstandighede wat deur ’n persoon as ’n fisiese- of emosioneel-gevaarlike bedreiging ervaar is en wat ’n blywende, negatiewe uitwerking op die persoon se fisiese, sosiale, emosionele en geestelike toestand het.

Die woord trauma is afgelei van die Griekse woord wat wond beteken. Net soos mense liggaamlik verwond kan word, word hulle ook emosioneel en geestelik verword. Selfs gemeenskappe kan geestelik verwond word. Dink maar net hoe ’n skool se personeel en leerders of ’n dorp se inwoners getraumatiseer kan wees na ’n ramp. Wanneer ’n gewonde met ’n verband of gips om sy of haar arm loop, kry so iemand simpatie. Geestelike wonde is nie so opsigtelik nie en daarom dra baie mense swaar aan hulle trauma, sonder dat hulle baie simpatie kry.

Wat veroorsaak trauma?

’n Traumatiese insident kan op verskillende maniere na jou toe kom. Dit kan van buite af kom – iets wat iemand aan jou doen of iets wat met jou gebeur. Jy kan ook getraumatiseer word deur iets wat jy sien of hoor wat met ander gebeur, byvoorbeeld as jy sien hoe iemand anders aangeval word, of ’n ongeluk wat jy sien of hoor gebeur het. Selfs al is jy nie teenwoordig nie, maar word in kennis gestel dat iemand naby jou wreed vermoor of aangeval is, kan jy daardeur getraumatiseer word. Trauma kan ook deur jou eie toedoen wees. Dit wat jy aan ander doen, selfs al is dit per ongeluk, en ook dit wat jy jouself aangedoen het.

Hoe verloop die Trauma-proses?

  • Impakfase

Normaalweg vind trauma onverwags plaas. ’n Persoon kan nog rustig besig wees met iets en dan vind daar ’n traumatiese insident plaas. Dit is dan wat ’n vreemde reeks van dinge met jou gebeur. Jy skrik jou letterlik yskoud. Jou bloed onttrek uit jou vel en gaan na jou brein en ander organe wat jy nodig gaan kry. Jou breingolwe word stadiger en alles voel asof dit veraf en in stadige aksie gebeur. Jou brein skei onder andere endogene opiate af wat ’n natuurlike pyn-verdower is. Hierdie fase duur van ’n breukdeel van ’n sekonde tot ’n paar minute.

  • Reaksiefase

Nou skei die byniere die hormoon adrenalien af. Dit het tot gevolg dat jy in die situasie wil veg, vlug of vries. Mense reageer verskillend, maar ongeag hoe jy reageer, kan jy weet dat jou reaksie ’n natuurlike reaksie in ’n onnatuurlike situasie is. Jy hoef nie later skuldig te voel omdat jy dalk gevlug het of jouself verwyt omdat jy geveg of gevries het nie. Met die hoë vlak van adrenalien en opiate in die bloed, doen mense uitsonderlike dade wat hulle normaalweg nie kan doen nie. Hulle spring uitsonderlik hoog, slaan baie hard en kan selfs hardloop met ernstige beserings. Hierdie fase kan ure en soms selfs dae duur.

  • Terugtrekfase

As die onmiddellike gevaar verby is, begin die terugtrekfase. Hoewel die adrenalien verminder, skei die liggaam ’n ander streshormoon, kortisol, af. Hierdie fase word gekenmerk deur vreemde optrede soos vermyding. Mense vermy die plek waar dit gebeur het, of soortgelyke mense of dinge wat met die voorval verband hou. Sommige mense se slaap word erg versteur deur drome of ‘triggers’ wat hulle gedagtes betree en hulle aanhoudend ontstel. Ander is skrikkerig, bang en angstig.

Wanneer hierdie fase normaal verloop, (afhangende van die intensiteit van die trauma, asook hoe ’n individu die trauma-insident hanteer), kan dit ’n paar dae tot ses weke duur. Soos wat die tyd vorder, neem die simptome af en slaap die persoon weer beter, kry nie meer nagmerries nie, verdwyn die angstigheid en normale gedrag tree weer na vore.

  • Integrasiefase

Na ses weke behoort die laaste fase in te tree waar die trauma verwerk is, en die persoon aanvaar dat die trauma verby is. Die persoon word nie getreiter deur die gedagte aan die traumagebeure nie, hy of sy maak sin en ervaar groei as gevolg van die gebeure en kan weer voluit leef. As die traumagebeurtenis die dood van ’n geliefde ingehou het, sal die rouproses, wat baie langer duur, steeds voortgaan.

  • Komplikasies

Dit gebeur soms dat ’n persoon nie ’n integrasiefase beleef nie, en in plaas van ’n afgehandelde terugtrekfase, ’n voortsetting van die simptome van betreding (“triggers”, terugflitse “flash backs” en nagmerries), vermyding van persone, plekke en dinge, asook angs en ontoepaslike vrees het. Hierdie voortgesette simptome put die persoon uit en kan tot onproduktiwiteit, lusteloosheid en depressie lei. Soms kan so ’n persoon na ’n lekker lang vakansie weg van alles weer terugkeer na normaal deur die gebeure te integreer.

Sou die terugtrekfase en integrasiefase permanent wegbly, ontstaan Post-Traumatiese Stresversteuring (PTSV). Tipiese simptome is fobies (vrese), verandering in normale gedrag, herhalende nagmerries, “flashbacks”/ terug-flitse, “triggers”/snellers,  vermyding van plekke, mense, gesprekke en gedagtes oor die trauma, sukkel om aan die slaap te raak, wantroue, uitbarstings, oorversigtigheid, oormatige skrikkerigheid en versteurde verhoudings.

Wanneer moet ek hulp soek?

Dit is wenslik om na enige traumagebeurtenis hulp te kry. Families wat saam getraumatiseer is, groepe wat saam deur ’n trauma is, byvoorbeeld ’n ramp, gewapende roof, ongeluk, ensovoorts, kan baat vind by groepsontlonting.

Selfs al ly jy nie aan simptome soos hierbo genoem nie, is dit goed om binne die eerste twee weke na ’n traumatiese insident vir ontlonting te gaan. Die beste tyd vir hulp is drie tot sewe dae na die traumagebeure (dan is die adrenalienvlakke nie meer so hoog nie). In gevalle waar iemand dood is, is dit wys om tot na die begrafnis te wag voor traumaberading plaasvind. As jy betyds hulp kry kan jy die ontwikkeling van latere simptome voorkom.

Waar kan ek hulp kry?

Sielkundiges of beraders kan baie help. Maak seker dat die berader wat jou ontlont toegerus is om trauma te hanteer. Nie alle beraders is opgelei in effektiewe trauma-ontlontings-metodes nie. Vra die berader vooraf uit of hy of sy opgelei is vir die taak. Persone wat nie spesifiek vir traumahantering opgelei is nie, kan jou situasie waarskynlik nie help verbeter nie en kan dit selfs vererger.

Natuurlik is dit ook nodig om geestelike ondersteuning te kry. Die ondersteuning van ’n leraar, ’n omgee-groep of betroubare mede-gelowige, kan baie help. Hier moet egter gewaak word teen te maklike antwoorde, of die opwek van skuldgevoelens oor die helingsproses dalk nie gou genoeg plaasvind nie, of ’n ontkenning van die realiteit van die trauma. Dit is egter goed om te weet dat God naby ons is, dat Hy ons dra, dat Hy weet van ons, dat Hy vir ons ’n veilige skuilplek is en dat Hy uiteindelik alles ten goede laat meewerk, al verstaan ons nie hoe Hy dit doen nie. Ons kan maar al ons kommer en angs vir Hom gee, Hy sorg vir ons! (1 Petrus 5:7) Dit is ook goed om gepaste Skrifgedeeltes biddend te lees, byvoorbeeld Romeine 8:28-39, of die baie Psalms wat juis geskryf is vanuit ’n traumatiese situasie, byvoorbeeld Psalm 23, 42, 46 of 131.

’n Paar plekke waar jy hulp kan soek:

  • LifeLine telefoniese hulp: 0861 322 322
  • www.lifestresscounseling.com (heelwat opgeleide traumaberaders is hier gelys)
  • http://www.itn.org.za/ Inter Trauma Nexus
  • http://janviljoen.weebly.com/

Jan Viljoen

Share this post