Hoe praat ek met my bure wat nie Christene is nie?

Suid-Afrika is ‘n land met baie mense – en met baie godsdienste. As jy deur ons dorpe en stede ry, sien jy nie net kerke nie, maar ook Moslem-moskees en Hindoe-tempels, Joodse sinagoges en Boeddhiste-sentrums.  Die Christene is vér in die meerderheid,  maar ons het baie bure wat anders glo, en wat ‘n groot rol in die samelewing speel.  Ons kry elke dag met hulle te make. Ons doen saam besigheid. Ons ontspan saam.  Ons kinders gaan saam skool.

Kan ons vir hulle van Jesus vertel?

Die groot vraag is: kan ons met ons bure oor ons geloof praat?  Ons praat maklik oor ons werk, oor wat in die koerant staan , wat op die sportveld gebeur, oor ons gesinne, oor die politiek. Maar kan ons met hulle oor Jesus Christus gesels? Kan ons Hom aan hulle voorstel?

Die antwoord is natuurlik “Ja!”. Ons kan dit nie net doen nie, dit word van ons verwag om getuies van Jesus se liefde te wees. Soos Jesus se dissipels, ontvang ons ook die opdrag om die goeie nuus van sy kruis en opstanding aan alle mense te verkondig. Hoe durf ons stilbly as ons so’n wonderlike geheim het om te deel?

Partykeer sal ons die kans kry – en dan moet ons dit gebruik –  om met ons bure oor Jesus se liefde  te praat. Wat egter net so belangrik is – partykeer nóg belangriker – is dat ons deur ons gesindheid en dade die liefde van Jesus demonstreer en uitleef. Een liefdesdaad is ‘n duisend woorde werd!  Wat jou Moslem- en Hindoe-kollega gaan oortuig, gaan nie soseer wees wat jy alles nie, maar hoe jy optree, hoe jy in liefde na ander uitreik.

Reëls vir ‘n gesprek

Een van die opwindendste dinge wat met ‘n Christen kan gebeur, is dat daar so’n goeie verhouding tussen jou en jou buurman onstaan, dat hy (of sy) vir jou sê: Ek kan sien dat jou geloof vir jou baie beteken. Vertel my daarvan”. Die inisiatief kan ook van jou kant kom, dat jy die gesprek aan die gang sit. Maar waaroor praat ‘n mens – en hoe praat jy? Die laaste ding wat jy wil doen is om ‘n twisgesprek aan die gang te sit, om op godsdienstige tone te trap. Ons wêreld het genoeg godsdiensoorloë – jy wil nie nog een begin nie!

Mense wat baie ervaring van intergodsdienstige gesprekke het, sê dat daar ‘n paar goue reëls is om te onthou:

  • Onthou dat ons medemense van mekaar is. Die gesprek is nie tussen godsdienste nie, nie tusen die Christendom en die Islam of die Hindoeïsme nie – die dialoog is tussen mense, Moslems en Hindoes en Christene. Ons is almal mense van vlees en bloed. Ons deel dieselfde wêreld, ons het met dieselfde vrae en vrese te make. Ons deel dieselfde bekommernisse en verwagtings. Ons wil almal saam die beste vir ons kinders en ons land hê.  Dus, om een voorbeeld te noem, as jy met jou kollega gesels moet jy eers vergeet dat hy/sy ‘n Moslem is. Hy/sy is ‘n mens net soos jy! En  dan, daarna, kan jy onthou dat hy of sy ‘n Moslem is – begin uitvra oor  wat vir hulle en hul geloofsgenote so belangrik is.
  • Vermy karikature van mekaar. In ons gesprek moet ons uitgaan van wat die “beste” in die ander geloof is en nie die “slegste” nie. As Christene is ons dikwels geneig om die mooiste in ons geloof met wat ons meen die mees problematiese in die ander geloof is, te Dis nie billik nie – en dit help ook nie. Ons sal met groot belangstelling moet luister na wat hy/sy vertel van hulle geloof, wat hulle oortuig en inspireer – wat vir hulle so belangrik is dat hulle bereid is om daarvoor te lewe en, as dit nodig is, te sterf. Daarna sal jy ook die kans kry om dieselfde te doen, om met ewe groot erns te vertel wat jy glo en waarom jy so glo. As julle ‘n hele end op die pad gestap het en mekaar leer vertrou en respekteer het, sal die geleentheid ook kom om oor die groot verskille tussen julle te praat – maar dan sal julle gereed wees om dit met liefde en begrip te doen.
  • Onthou dat God deel van die gesprek is. Hy was eerste daar! Lank voordat jy besluit het om die gesprek te voer, het God alreeds besluit dat dit sal gebeur. Dis Hy wat jou geroep en voorberei het. Dis Hy wat jou gespreksgenoot na die tafel gelei het.  Hy lei ons gedagtes. Hy gee, soos Jesus beloof het, vir ons die woorde wat ons nodig het. Dis wonderlik om te weet: die sukses van ons gesprek hang nie van my af nie, maar van die Here wat my begelei. Daar wag nie net vir my gespreksgenoot ‘n verrassing of twee nie, dit wag vir my ook!
  • Gaan sit waar jou gespreksgenoot sit! Toe die Here vir Esegiël as profeet na die ballinge in Babel gestuur het, het die Gees van God “hom laat sit waar die mense sit” (Eseg.3:15). Hy moes nie dadelik begin praat nie. Hy moes eers tussen die mense “gaan sit”. Hy moes hom met hulle identifiseer, hulle probleme leer verstaan, hulle lewe deel, regtig luister, voordat hy kon begin praat. Dis wat ons ook moet onthou. Die Here het ons toegerus vir ons taak deur vir ons twee ore te gee en net een mond! Om regtig te “gaan sit” is nie so maklik nie, Vra maar vir Paulus! Vir die Jode moes hy ‘n Jood word, vir die Grieke ‘n Griek, hy moes alles vir almal word – om sommige te kan red (1 Kor 9:19vv). Om jouself prys te gee, om jou totaal en al met ander te identifiseer is baie moelik. Maar dis die groot voorbeeld wat Christus self gestel het, toe Hy, God, ter wille van ons ‘n mens geword het (Fil 2:2:5vv).
  • Verwag dat iets besonders gaan gebeur! As jy met iemand om die tafel gaan sit verwag jy dat iets gaan gebeur. Daar gaan gesels word, inligting gaan gedeel word. Ons gaan eet. ‘n Verhouding gaan ontwikkel. In die gesprek gaan my Moslem (of Hindoe) buurman hopelik iets van my leer. Maar ek gaan beslis ook baie van hom/haar leer! Maar die verassing is nog groter: hoe verder die gesprek vorder hoe meer leer ons nie net van mekaar nie, maar van God, hoe meer kry die ou waarhede van die Bybel nuwe betekenis. Vra jouself af: in die eerste groot dialoog tussen ‘n Christen en ‘n nie-Christen, in die gesprek tussen die Jood Petrus en die Romein Kornelius  (Hand 10), wie het die meeste geleer? Wie se lewe is die meeste verander? Daarby kom die heel grootste verrassing. In die gesprek kom jy agter dat dit nie net jy en jou gespreksgenoot is wat praat nie. God praat saam – met hom/haar en met jou. Die twee-gesprek word uiteindelik ‘n drie-gesprek! Hy lei ons op sy pad, vorentoe.

 Waag dit – reik uit!

Moenie te lank wag nie. Tel gerus die telefoon op, maak ‘n afspraak met jou buurman/vrou. Begin die gesprek.  Jy kan gerus met hom/haar die inhoud van hierdie pamflet deel – dis hoe jy die proses sien.  Maak jou klaar vir ‘n lang gesprek wat oor ‘n lang tyd gaan verloop. Maar waag dit!  En onthou, jy sit nie alleen aan die tafel nie. Jy en jou vriend sit in die geselskap van die Een wat jou gestuur het. Vertrou Hom om jou die woorde te gee – en om deur sy Gees die gesprek te lei.

Luister, terwyl jy jou op hierdie geestelike avontuurtog begeef, na die woorde van Paulus in jou ore:  Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring!” (Rom 10:15).  Sterkte!

 

Prof Piet Meiring

Share this post