Hoe om geestelik te groei

Wil jy graag dat daar meer in jou verhouding met God moet wees as wat jy tans ervaar? Dalk soek jy na meer begrip vir God se liefde. Of is jou behoefte dalk na ’n dieper vrede en rustigheid? Kan ook wees dat jy verlang dat God jou lewe sal verander?

Hierdie soort verlange dui op die behoefte aan geestelike groei. Dit is ’n begeerte om meer geloof, hoop en liefde van God te ontvang. Ten diepste is dit meer as net ’n wens na die gawes wat God gee; dit is ’n verlange na God self. Met hierdie versugting is jy gelukkig nie alleen nie. Meeste mense het ’n behoefte aan God. En tog word die verlange na God op verskillende maniere beleef en beskryf.

Ons behoefte aan God verskil 

Ons gee verskillende name aan ons verlange na God. Ook die Bybelskrywers gebruik dikwels verskillende woorde en beelde vir byna dieselfde soort geloofservaring. Dit is so dat die Here aan ons elkeen ’n unieke persoonlikheid gegee het en boonop het ons elkeen ’n eie verlede en lewensomstandighede.

Daarom verskil die wyse waarop ons God ervaar (ons noem dit “spiritualiteitstipe”) en ook hoe ons die behoefte aan geestelike groei beskryf:

  • Daar is kinders van die Here – mens sou hulle gevoelsgelowiges kon noem – wat ’n behoefte het om met ’n “passie vir God vervul te word”. Hulle wil God, en die gawes wat sy Gees gee, graag meer bewustelik en deurlopend ervaar.
  • Sommige gelowiges dien die Here weer die graagste met hulle verstand. Mens kan hulle kopgelowiges noem. Hulle behoefte is daarom om ’n “stille wete van God” se werking in hulle lewe te kan hê.
  • ’n Derde groep Christene kan die hartsgelowiges genoem word. Die behoefte aan geestelike groei noem hulle ’n verlange na “toename van God se vrede in my binnewêreld”. Hulle verwag dat God hulle van binne na buite sal omvorm.
  • Nog ’n groep is die gelowiges wat veral daarop ingestel is om in uiterlike gehoorsaamheid aan die Here se wil te groei. Hulle wil graag vir die Here dinge doen. Ons sou hulle handgelowiges kon noem.

Moenie bekommerd wees as jy nie ewe sterk oor al die groepe voel nie. Dit is goed dat ons verskil. Kom eerder agter by watter groep of groepe jy meer tuishoort. Aanvaar dit, maar moenie die ander wat nie soos jy is verwens nie. God het die verskeidenheid lief.

Die groot fout wat godsdienstige mense maak

Hoewel ons in ons behoefte aan geestelike groei verskil, maak ons meestal dieselfde fout, wat dan ons geestelike groei strem en selfs verhoed. Die fout is dat ons dink: “Ek moet self geestelik groei; dit hang van myself af”.

Hierdie misverstand lei tot ’n groot teleurstelling. Ons probeer hard, maar raak moedeloos omdat die groei uitbly en die verandering wat wel in ons lewe kom, nie volhoubaar is nie. Dikwels is die verandering so oppervlakkig dat jy net meer tipiese godsdienstige woorde bykry en dit oral gebruik. Jy word egter nie werklik diepgaande deur God se Gees omvorm, byvoorbeeld om minder geïrriteerd teenoor jou kinders of meer vergewensgesind teenoor mede-landgenote te wees nie.

Dat mens dink dit hang van jou eie insette, opoffering en moeite af, is ’n tipies menslike oortuiging. Meeste godsdienste werk met die oortuiging. Hoe meer jy prysgee en opoffer, hoe beter of harder jy bid of hoe langer jy godsdiens hou, hoe meer sal jy kwansuis ontvang – so preek en pleit baie predikers. Selfs baie Christene val vir die soort prediking. Hulle verstaan geestelike groei dan as die mens se reaksie op dit wat God doen: eers red God my, maar dan is dit my beurt om iets te doen. In die ou kerktaal lui die misverstand so: God bewerk deur sy genade my regverdigmaking, maar daarna is ek as mens verantwoordelik vir my heiligmaking. Dis hoe baie selfs die Bybel lees.

Die geheim is God se wind 

Dit is God se Heilige Gees wat ons vernuwe en heilig. Maar, in die proses van heiliging sluit die Heilige Gees ons gevoel, verstand en ons wil nie uit nie. Dis ons wat na die werking van die Gees verlang. Dis ons wat aan die Gees gehoorsaam moet wees. Ons moet die opdragte van die Skrif gehoorsaam en doen. En tog hang dit nie alles van ons af nie…

In Johannes 3 verduidelik Jesus dit aan Nikodemus. Die Gees werk soos die wind: mens kan die wind nie sien nie, jy kan net die gevolge van die wind sien. Dink maar aan ’n vlag wat wapper, takke van ’n boom wat in die wind buig en wolke wat beweeg en reën bring. So werk God se Gees. Jy kan die wind nie beheer of beïndruk om iets vir jou te doen nie.

Ons is, soos die wapperende vlag, bewegende takke en reënbringende wolke, egter nie uitgesluit in die proses nie. Die Gees sluit ons in en werk in en deur ons menslikheid. Dit beteken nie dat die Gees van ons samewerking afhanklik is nie. Soos die wind, waai die Gees waar Hy wil.

Hierdie Godsgeheim kan ons nie heeltemal snap nie. Dis ons self wat verander, maar dis God wat ons nuut maak. Ons lewe is soos ’n vlieër. Wanneer jy geestelik wil groei, moet die wind van God deur jou waai om jou hoër lig. Jy kan jouself uit die wind hou en die Gees “blus”, maar jy kan nie die wind laat waai nie. As God se “wind” jou hoog waai is dit nie omdat jy so goed is nie, maar omdat God so goed is!

Om in God se wind te staan

Dit hang nie van ons af nie. Dit hang van God af. Hoe staan mens dan in God se wind? Ons behoort mekaar te help met geloofsgewoontes sodat die Gees deur ons kan werk en ons die soort mense kan maak wat God bedoel het ons moet wees.

Elkeen van die spiritualiteitstipes wat ons hierbo bespreek het, het sy eie voorkeurmanier om in God se wind te staan. Ons kan hieroor baie van mekaar leer. Die manier wat ons die minste aantrek, is dikwels die een wat ons die nodigste het…

Om met gevoeligheid te leef

Ons leer hierdie manier van in die wind staan veral deur die gevoelsgeloof. Hulle is oplettend en kyk na tekens waar die Here werksaam is.

Dis asof geloof ’n bril is waardeur ’n mens na alles rondom jou kan kyk. Jy sien die werklikheid deur die filter van geloof. Geloof sien wat ander nie sien nie, maar kyk nie vas teen dit waarteen ander vaskyk nie (Luther). Noag sien iets van God en word gehoorsaam, terwyl Abraham nie teen sy vrou se ouderdom vaskyk nie (Hebreërs 11).

Kyk jy deur die geloofsbril, is selfs die gewone boom buite jou blyplek en die gewone glas water op jou tafel eintlik buitengewoon. Dit kom van God af. Jy kyk deur die filter van geloof in God met nuwe oë na die mense rondom jou. Jou man, vrou en kind is mense wat God jou gegee het. Alles waaraan jy gewoond geraak het, sien jy in nuwe lig.

Selfs swaarkry en lyding word geleenthede waarin jy kan groei. Jy kan iets van die Here Jesus se kruis raaksien. Hy los ons nooit alleen nie, maar is by ons (Romeine 8:31-38).

Om met verwondering te luister

Onthou: al wat ons kan doen, is om in God se wind te gaan staan. Selfs die krag en insig om dit te doen, kom eintlik van die Here af.

Die Gees wil graag die woorde en beeld van Jesus in ons lewe inwaai (Johannes 14). Jesus is immers gestuur om ons te toon hoe God is (Johannes 1:18). Deur die Bybelverhale met afwagting te lees of aan te hoor, waai die Gees die waarhede oor God in ons lewe in en vorm Hy ons karakters.

Ons leer van hierdie manier om in God se wind te staan veral by die gelowiges wat ’n kopgeloof het. Hulle besef dat dit wat jy dink en begeer uiteindelik in jou lewe waar word. Daarom, as ons bid is dit om ons diepste begeertes en denke so oop te stel dat God se wind daardeur kan waai. Paulus pleit so daarvoor: “Laat God julle denke vernuwe… dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is…” (Romeine 12:2) en ook “Ek bid dat julle liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling…” (Filippense 1:9,10).

Kopgelowiges gaan dikwels deur verskillende geloofs-fases. Na bekering is hulle opgewonde en vol energie om die wêreld te verander. Alles is vir hulle duidelik en logies. Mens moet Christus se offerande aan die kruis aanvaar. Dan kom daar ’n vertwyfelingsfase: alles werk nie en baie Bybelse gegewens maak nie sin nie: Waarom sou God…? Gelukkig is daar ’n derde fase waarin die gelowiges ontdek: God gaan ons verstand te bowe. Ons kan God nie verstaan nie, maar ons kan ons aan God verwonder. In die verwonderingsfase word die Bybel nie meer ’n soort handboek oor hoe die aarde ontstaan het of wat in die geskiedenis gaan gebeur nie. Die Bybel is God se lewende Woord wat verhale oor ons menswees vertel. Die beeldetaal van die Bybel word gerespekteer. Dit verwys na God se werklikheid wat groter is as die voorstellings wat ons tot dusver daaroor gehad het. God se Gees gebruik dié beelde en verhale om my wysheid te gee.

Om in stilte op die Here te wag

By die hartsgeloof sien ons ’n belangrike manier om in God se wind te staan. Ons behoort stiltye met die Here deur te bring. In hierdie behoorlike stil word voor God is ’n mens se gebede nie gerig om ’n versoek-lysie aan die Here te gee oor wat Hy tog vir ons moet doen nie. Gebed is eerstens daar om bewus van God te word. In plaas van ’n hele rits gebedsreëls na te kom, fokus jy daarop om God te ontvang en krag te kry om dit te doen wat Hy verlang.

Vir sulke gebedstye moet jy nie net tyd begroot nie, maar ook ’n geskikte plek benut. Jy moet gemaklik sit waar die minimum dinge jou aandag kan aflei of waar jy nie vaak kan raak nie. Deur op een gebedsgedagte soos “Die Here is my herder” te fokus, word jou gedagtes rustiger en oop vir God se stem.

Die wonderlikste groei kom juis wanneer mens niks van God se gawes vra nie, maar net iets van God beleef. Dit gaan nie om wat Hy moet gee tot my voordeel nie, maar hoe ek deel van sy liefdesbeweging in die wêreld kan word.

Om jou lewe as ’n offer te gee

Die handgeloof se sterk punt is dat dit fokus op wat Paulus sê die wesenlike van ons Christelike geloof is: “Gee julleself aan God as lewende offers” (Romeine 12:2). Soos jy ’n vlieër aan die wind oorgee, gee ons ons lewe oor aan die Here se Gees. “Here” beteken juis “eienaar” of “besitter”.

Ek bid nie meer vir my naam, my wil en my “koninkryk” nie, maar dat God se naam geken sal word, dat sy liefdeswil sal geskied en dat sy koninkryk al meer werklikheid sal word. Die Here gebruik my soos ek is. Dikwels word ek juis deel van God se liefdesbeweging deur “die kruis wat ek dra” of soos Paulus dit ook beskryf as die “doring in my vlees”…

Ek bid dan nie net “gee vir die armes in ons land werk en kos nie” maar wag dat die Here my moed, krag en wysheid gee om self ’n verskil te gaan maak.

In die Johannes Evangelie word met mooi beelde verduidelik hoe ons liefde teenoor God en ons naaste behoort te werk. Ons moet in God se wind staan, verduidelik Johannes. Hy gebruik ook ander beelde. Die groei kom alleen uit die druiwestam; bly daarom as takkie daaraan vas om vrug te kan dra (Johannes 15). Of, soos iemand Johannes 4 se verhaal in ’n moderne beeld omgesit het: God se liefde vloei uit God. Gaan staan onder God se waterval, dan word jy sopnat en spat die lewende water na almal rondom jou! 

 

 

Share this post